En nog 'n Kersfees se son sak. Jong kinders pronk met hulle nuwe speelgoed, tieners pronk met nog tegnologie wat hulle nie nodig het nie. Jong mense instagram fotos van hulle nuwe geskenke, of dit nou juwele, 'n polaroid en skoene is, en of dit 'n mes, 'n bottel whiskey en nuwe oorfone is.
Die ouer dames ruik aan hul nuwe sepies en dink aan hoe lekker hulle vanaand gaan bad. Ouer manne se arms blink dalk met 'n nuwe horlosie, of braai lekkerder met hulle nuwe braai stel.
En almal is dik gevreet aan stysels, slaai, elke vleis ding wat hardloop en vlieg, en natuurlik die nagereg waarvoor jy eintlik te vol is maar jy is bang jy mis uit. By my ouma MAAK jy plek. Pavlova, room en aarbei of grindadella sous, en 'n sjokolade bom koek wat so dodelik is soos dit klink.
Maar dit gaan vir party mense lank al nie meer oor die boodskap en sentiment van kersfees nie. Dis net geskenke, grotes.. Wat baie geld kos.
Ek hoop tog daar is mense wat die tyd saam met hul gesinne waardeer. Die lewe is te kort om opgewonde te raak oor materialistiese dinge. 'n Geskenk wat ons almal vir onsself kan gee is om 'n oomblik te vat en te dink. Dink oor jou familie, dink oor die mense vir wie jy lief is en maak vir jou 'n "playlist" van dankbaarheid. Dit, is die regte geskenk, wat jou jaar na jaar beslis sal verras.