My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Thursday, 29 April 2021

Kringe in 'n bos

Ek oefen nie sommer nie. Ek het laasjaar 'n fiets gekoop en 'n paar keer gaan ry en dit was nie te sleg nie. Ek het al hygend by die opdraandes opgekruip en gevoel hoe my milt wil ontplof, maar ek het dit gedoen. Ons is op wittebrood naby die Knysna woud en ek dink net, "let's do this" Ek wil die 'Kringe in 'n Bos' roete gaan stap saam met my man.

Ek trek my lekker tekke vir 'n beter ekke aan, gemaklike klere, the works. Hier gaan ons. Ons ry en ons ry en ons ry.... 40km in die verkeerde rigting. "ek weet waar dit is" sê hy.

Na 'n waaghalsige U-turn draai ons terug en volg die raad van 'n vrou. Julle ken haar seker. Die GPS tannietjie. Daar aangekom is ons verlig, bietjie verbouereerd en grotendeels in verwondering van die woud om ons.

Wernu neem daai tipiese toeriste foto's van by Dalene Matthee se gedenksteen en ons stap. Dis lekker, ons beweeg rustig. Daar was duidelik mense wat iets in die bos wou gaan doen, want almal is so haastig verby ons... Wil seker nie hê die grootvoete moet hulle trap nie. Ek voel soos 'n grootvoet, so ek is veilig.

Op hierdie roete is daar sulke loopplanke. Hulle lyk al bietjie moeg maar ons kan nie nou omdraai nie. Ek gee klein versigtige treë terwyl ek na die bordjie kyk wat lees "Extremely slippery" met 'n tekening van 'n man wat so hard neerslaan dat hy sekerlik sy kakebeen en sy trots daar moes groet.

"Hier val jy jou gat af" sê ek. Soos Siener van Rensburg word my voorspelling 'n realiteit. Wernu trap en knak 'n plank wat al lankal moes bedank het. Ek staan natuurlik op dieselfde plak. So ons kan sê Wernu het my voete onder my uitgeslaan. Ek gly en land so hard op my agterstewe dat dit voel of ek hop.

Nog nie eers 'n kilometer in die 6km roete in nie. Ek staan versigtig op, evalueer of alles nog kan beweeg en ons stap aan. (terloops, my lieflike trouskoene het dalk mooi gelyk, maar teen die einde van die aand was my hakke bloeiend, so daarmee moet ek ook saamleef)

2 km later kan ek sweer ek sien Fiela en Benjamin wat vir my beduie om in die lig in te gaan. My longe was aan die brand. My Achilles was besig om wraak te neem en my ronde gesiggie was al bloedrooi. Toe vat ons 'n blaaskans. Ek drink water, eet 'n energy bar en probeer my hartklop laer kry.

Tydens die stappery neem ek natuurlik foto's. Dis onvermydelik. Dit is alles net so ongelooflik mooi. Dan stap Wernu vooruit en vra of ek die en daai en dit al afgeneem het. Op daardie stadium fokus ek so op die grond en modder om my dat ek skrikkerig is om te lank op te kyk want hy het oomblikke vroeër toe ek oor 'n boomwortel struikel vir my gesê "jy word nou moeg, jy moet fokus op die paadjie." So neem ek die foto's af en die inligting in.

Ons sien 'n aanwysingsbordjie. Een pyltjie wys op - 9 km. Die ander een wys regs - 3 km. Raai watter een het ons gevat. Ek is seker die ander 6 km van die volle 12km roete was pragtig, maar ek sal dit Google. Winners know when to stop.

Ek is trots op ons 6km en dit was rerig pragtig. So saam het ek en my man besluit ons doen 3km in en 3km uit. Dankie tog. Ek was baie benoud dat hy vir my sou sê hy wil die hele kring loop. Op daai oomblik sou dit vir my 'n bose kringloop geword het as ons enigsins verder moes gaan. Ek het nie vir Fiela, Benjamin, Bartha of Nina opgespoor nie. Maar ek is seker dit gaan nog goed met hulle.

Dit was my eerste staproete, maar nie my laaste nie. As iemand vir my lekker tekke met meer greep kan skenk, sal dit dalk verdere beserings vermy. Die klein Kring was asemrowend en Matthee het dit so mooi vasgevang in haar romans. Eendag sal ek die hele pad gaan stap, mits my man, my GPS en my nuwe tekke betrokke is.