Skryf soos ek dit sien
Onderwyser. Sarkasties. Onseker oor alles. My inspirasie tref meestal in die middel van die nag. Mense soos Bukowski het gedrink, ek verkies vooruitbeplande ineenstortings.
Sunday, 30 July 2023
Om te trek en te, en te, en te
Monday, 5 June 2023
Leave of Absence A la Writing
Saturday, 10 July 2021
Feedback
Friday, 11 June 2021
Besluite, besluite...
Thursday, 29 April 2021
Kringe in 'n bos
Ek oefen nie sommer nie. Ek het laasjaar 'n fiets gekoop en 'n paar keer gaan ry en dit was nie te sleg nie. Ek het al hygend by die opdraandes opgekruip en gevoel hoe my milt wil ontplof, maar ek het dit gedoen. Ons is op wittebrood naby die Knysna woud en ek dink net, "let's do this" Ek wil die 'Kringe in 'n Bos' roete gaan stap saam met my man.
Ek trek my lekker tekke vir 'n beter ekke aan, gemaklike klere, the works. Hier gaan ons. Ons ry en ons ry en ons ry.... 40km in die verkeerde rigting. "ek weet waar dit is" sê hy.
Na 'n waaghalsige U-turn draai ons terug en volg die raad van 'n vrou. Julle ken haar seker. Die GPS tannietjie. Daar aangekom is ons verlig, bietjie verbouereerd en grotendeels in verwondering van die woud om ons.
Wernu neem daai tipiese toeriste foto's van by Dalene Matthee se gedenksteen en ons stap. Dis lekker, ons beweeg rustig. Daar was duidelik mense wat iets in die bos wou gaan doen, want almal is so haastig verby ons... Wil seker nie hê die grootvoete moet hulle trap nie. Ek voel soos 'n grootvoet, so ek is veilig.
Op hierdie roete is daar sulke loopplanke. Hulle lyk al bietjie moeg maar ons kan nie nou omdraai nie. Ek gee klein versigtige treë terwyl ek na die bordjie kyk wat lees "Extremely slippery" met 'n tekening van 'n man wat so hard neerslaan dat hy sekerlik sy kakebeen en sy trots daar moes groet.
"Hier val jy jou gat af" sê ek. Soos Siener van Rensburg word my voorspelling 'n realiteit. Wernu trap en knak 'n plank wat al lankal moes bedank het. Ek staan natuurlik op dieselfde plak. So ons kan sê Wernu het my voete onder my uitgeslaan. Ek gly en land so hard op my agterstewe dat dit voel of ek hop.
Nog nie eers 'n kilometer in die 6km roete in nie. Ek staan versigtig op, evalueer of alles nog kan beweeg en ons stap aan. (terloops, my lieflike trouskoene het dalk mooi gelyk, maar teen die einde van die aand was my hakke bloeiend, so daarmee moet ek ook saamleef)
2 km later kan ek sweer ek sien Fiela en Benjamin wat vir my beduie om in die lig in te gaan. My longe was aan die brand. My Achilles was besig om wraak te neem en my ronde gesiggie was al bloedrooi. Toe vat ons 'n blaaskans. Ek drink water, eet 'n energy bar en probeer my hartklop laer kry.
Tydens die stappery neem ek natuurlik foto's. Dis onvermydelik. Dit is alles net so ongelooflik mooi. Dan stap Wernu vooruit en vra of ek die en daai en dit al afgeneem het. Op daardie stadium fokus ek so op die grond en modder om my dat ek skrikkerig is om te lank op te kyk want hy het oomblikke vroeër toe ek oor 'n boomwortel struikel vir my gesê "jy word nou moeg, jy moet fokus op die paadjie." So neem ek die foto's af en die inligting in.
Ons sien 'n aanwysingsbordjie. Een pyltjie wys op - 9 km. Die ander een wys regs - 3 km. Raai watter een het ons gevat. Ek is seker die ander 6 km van die volle 12km roete was pragtig, maar ek sal dit Google. Winners know when to stop.
Ek is trots op ons 6km en dit was rerig pragtig. So saam het ek en my man besluit ons doen 3km in en 3km uit. Dankie tog. Ek was baie benoud dat hy vir my sou sê hy wil die hele kring loop. Op daai oomblik sou dit vir my 'n bose kringloop geword het as ons enigsins verder moes gaan. Ek het nie vir Fiela, Benjamin, Bartha of Nina opgespoor nie. Maar ek is seker dit gaan nog goed met hulle.
Dit was my eerste staproete, maar nie my laaste nie. As iemand vir my lekker tekke met meer greep kan skenk, sal dit dalk verdere beserings vermy. Die klein Kring was asemrowend en Matthee het dit so mooi vasgevang in haar romans. Eendag sal ek die hele pad gaan stap, mits my man, my GPS en my nuwe tekke betrokke is.
Thursday, 31 December 2020
2020
Sunday, 13 December 2020
Partykeer
Partykeer kan jy met gemak die lewe hanteer. "Fake it til you make it" right? Ander kere sal die kleinste ongemaklikhede jou tref en jy bars in trane uit.
Raai watter keer was vandag?
Ons was en route om die diere vir die dag te voer. Alles verloop goed by die eerste dierekinders. Almal is veilig, gesond en vrolik. Daarna besluit ons om vinnig Spar toe te gaan. Ons het soms die onnodige gewoonte om elke dag te gaan as ons nie met 'n lysie werk nie.
Terloops, hier kom die eerste hakplek;
My 2007 Volkswagen Beetle Convertible. Ek geniet my kar, rerig. Maar daar is hier en daar, foutjies.
Die sensors van die passasiersvenster werk partykeer. Dit beteken ek moet die venster 'n entjie oopmaak en wag dat wie ookal uitklim, dan toemaak, dan kan ek die kar afsluit en self uitklim. Dis eintlik nie so 'n pyn nie. Dis steeds 'n kar! Maar vandag was net nie die dag nie. Ek het elke keer vergeet daarvan en elke keer van voor af bemoerd geword as die deur daai dowwe "ek's nie mooi toe nie, drol" klank maak.
Arme Wernu bly net kalm en probeer om my ook kalm te hou. Na die hele toemaak proses van die kar, sit ek en my man ons maskers aan. Ek is eintlik al gewoond aan die masker. Ek hou nie daarvan nie, maar ek deal daarmee, want ek moet. En ek spaar lipstick, so woohoo. Maar vandag wou ek die masker afruk en met my ongemaskerde self inkopies gaan doen. Soos wat ons vroeg in Maart nog kon doen? Onthou julle dit? Goeie tye. By die kar aangekom is die helfte van my gesig klam van kondensasie en sweet, want Desember. Ek probeer die boot oopmaak en dit sukkel, en sukkel, en sukkel.
Ek was amper halfpad deur my repertoire gekruide taal, toe werk dit. In die kar pluk ek die masker af asof dit die eerste keer is wat ek asemhaal. Ek kyk langs my en sien Wernu staan ewe geduldig en wag dat ek die kar aansluit en die venster oopmaak sodat hy kan inklim. Nou sal seker 'n goeie geleentheid wees om te sê my aircon is gebreek. So ons ry met die vensters oop en praat net nie oor die feit dat ons van binne af gaarword nie. Weet julle wat is ironies? My "seatwarmers" werk nog 100%.....
Ons stop later by ons volgende dierebestemming. Alles lyk wel. Die honde is vrolik, selfs die een wat 'n blou verband om sy pootjie het. Ek stap na die skilpadjies toe en ek sien die net is geskuif en daar's 'n gat gegrawe en net die enetjie beweeg rond. In die jare wat ek al troeteldiere oppas het daar nog nooit een doodgegaan onder my toesig nie. My hart het gebreek. Ek het die eienaar gebel en laatweet. Ons het hom by die rose begrawe.
Ek moes die pasïent se verband vervang. Terwyl ek op die kombuisvloer sit en versigtig sy poot oopmaak en skoonmaak, sien ek hy het seer. Dit was nie 2 sekondes nie toe huil ek.
Ek huil want die hond het seer en ek kan nie vir hom verduidelik hoe ek hom probeer help nie. Ek huil oor daar 'n seuntjie is wat nie meer sy skilpadjie het nie. Ek huil omdat ek heeltyd 'n masker moet dra. Ek huil omdat ek die afgelope 8 maande nie my private studente kon sien by hulle huise nie. Ek huil omdat hierdie my eerste Desember is sonder my eerste diereklïente. Ek huil omdat my Pa die 11de Desember sou verjaar. Ek huil omdat ek nie die voorreg het om sy opinie te hoor oor hierdie jaar nie. Ek huil want dis 2020.
Oor 18 dae is dit gelukkig verby. Ek gaan nie hierdie jaar Happy New Year sê nie. Duidelik het dit nie gewerk dit nie. So, kom ons hanteer dit soos 'n lekker "old-school" familie skandaal. Ons praat net nie daaroor nie. Maar, ek sou definitief aanbeveel dat julle 2020 op julle CV's sit onder "special skills" .