My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Saturday, 4 November 2017

November

Beplanning was nog nooit my sterkste eienskap nie.

Honneurs impliseer dat jy nie eers tyd het om te beplan nie. Jy moet net skryf, ingee, aanbied, huil (nie te lank nie), sosiaal verkeer met 'n vertrek vol mense wat almal slimmer is as jy en oor die algemeen maak of alles ok is.

Nog 'n taak wat ek aangepak het is om gewig te verloor en gesonder te lewe. Soos ek gesê het, my timing? Impeccable.


Aan die begin was ek suksesvol in my poging. Ek het my kos geweeg, my kalorieë getel, my steps ingekry EN geskryf oor die hele ding...

Intussen was daar 'n aanbieding oor my navorsing - my keel is sommer van voor af droog soos nataniël se grappies. Ek het 400 opdragte gehad wat toevalling almal gelyk ingehandig moes word (sommiges bietjie laat, ander net gewone laat en 2 BAIE laat)

In my huis maak ek die kos. Party beskou dit as 'n straf maar ek geniet dit. Dis my manier om die dag te verwerk en myself geestelik voor te berei om weer te werk. Ek skakel die radio aan en ek sing.. Nee, ek perform vir die kombuis. 

Die kastrolle klap hande, die vurke fluit en die stoof gee sommer 'n standing ovation (hoewel hy soms warm onder die kraag word)

In hierdie vreesaanjaende tydperk van take en ineenstortings het ek my kosmaak roetine gestaak vir 'n wyle. Daarmee saam het ek onbeskryflik min omgegee oor my eetgewoontes en my oefensessies.

Ek kon aan my lyf voel dat ek weer so moeg word en oor die algemeen met 'n ou heliumballon vergelyk kan word (pap en useless). Ek het verkeerd geëet, ja. Wat dit anders maak as al my vorige mislukte pogings, is dat ek ten minste gestop het en weer my eetplan begin volg het.

Vir my is dit 'n oorwinning op sy eie. Gewoonlik sou ek die leë redinasie volg dat ek reeds verkeerd eet, so ek kan maar net aanhou. Dis die grootste fout wat ek kon begaan. Deur 2 of 3 keer verkeerd te eet sal al jou vordering nie verlore gaan nie.

Wanneer jy van die spoor aftuimel en jou val word gebreek deur 'n Tinkie of 'n pakkie chips, dis ok. Die belangrikste is dat jy moet opstaan met die hulp van jou low cal kierie (ek weet nie, ek wou die kos metafoor aan die gang hou) en aanbeweeg.

Jou houding bepaal jou vordering. Ek dink jy kan dit seker toepas op meeste dinge wat jy wil aanpak of voltooi. My motto vir die jaar is meestal "ek moet ok wees, ek het nie 'n keuse nie" dit klink dalk negatief maar dit motiveer my genoeg om nie paniekerig te raak nie. (Ek lieg, ek drink pink pilletjies wat my kalmeer en ek maak almal om my mal met my buie wat soos die geldeenhede rondrits, ek sou sê dit gaan verander maar ek moenie op skrif lieg nie) plus, studies is duur en ek is nie bereid om aan enigiemand te verduidelik dat ek opgegee het nie. 

Dis November, die einde is in sig
Ek sal die jaar oorleef en 2018 instap met 'n bietjie minder ekstra gewig