My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Saturday, 10 July 2021

Feedback

I submitted my first assignment last week. My nerves were shot. It made me wonder if I was this nervous at university... I KNOW I did not panic as much in high school. I did the minimum there. Honest blog. 

After submitting the assignment, my tutor instructed that I wait for the feedback before doing the second assignment. I relaxed and patiently waited to hear from her again. 

Lies. That one-liner had me SHOOK. The self-doubt was alive and well. I was feeling insecure about EVERYTHING. Reading through the assignment again, rechecking my answers, refreshing my e-mail 50 times a day...

Finally the reply popped up. 75% was the only thing I read and I was so relieved. I did not even read the critiques. The supplementary exams I wrote at university must have given me a form of anxiety. Or I have always been like this. It's a 50/50. I am the type of person who is vain enough to laugh at my own pun jokes. Yet, I am also the person who would have a meltdown about burning a slice of toast. I keep it real... Unstable ❤️ 

It is like reading through old Facebook posts thanks to the Facebook Memories function. I used to think TyPiNg LiKe ThIs WaS CoOl. Unfortunately, I hadn't yet realised that I am not cool. So I cringe, often.

If anyone is willing to share, can y'all remember what I was like...? DiD i TaLk LiKe ThAt ToO? Not always too sure I would have liked me. Anyway!

On to assignment number 2. I have to choose between creating an ad campaign for Royal Canin or Ford Ranger. I'll never be a royal or a ranger, but I'm picking the dog food 👍.

Friday, 11 June 2021

Besluite, besluite...

Ken jy die gevoel om te besluit jy wil iets doen, maar jy is nie dadelik doodseker nie en later is jy bietjie meer seker en dan kry jy 'n meltdown en jy is weer onseker? (Ek praat nie van slegte besluite as gevolg van groepsdruk of om jou hare af te sny nie)

Ek wou vir 'n kursus inskryf. Copywriting. Ek geniet dit om met woorde te probeer toor en 'n beeld in mense se koppe te skep wat by elkeen se raamwerk pas. Ek sĂȘ nie dat ek nooit mense in die gesig vat as my woorde aan die bitsiger kant is nie. Ek weet woorde kan gelyktydig skadeloos en dodelik wees. Dit hang af wie lees.

Nie dat dit my afsit nie. As jy nie hou van dit wat ek skryf nie, moenie lees nie. Ek het onlangs tot die beslissing gekom dat ek definitief die kursus wil voltooi. Ek slaan die laptop oop en doen navorsing. My eerste beslissing was: Daar is so baie opsies daar buite dat 'n mens eintlik oorweldig voel.

Ek het eindelik 'n instansie gekies. Vandag wil ek registreer en aan die gang kom. Die aansoekvorm is redelik voor die hand liggend. Naam en van, kontakbesonderhede ens. ens. Toe slaan hulle my vir 'n ses! Hulle vra hoekom wil ek die kursus doen. My hel, die blerrie cheek!

Ek het by Tuks geswot. Hulle vra jou nie hoekom wil jy soontoe gaan nie. Hulle soek net jou skoolpunte en jou bewys van betaling vir registrasie. Ek veroordeel hulle nie, everyone has bills. So ek was nie voorbereid vir die hoekom vraag nie.

Hulle gee boonop dit vir jou 'n aantal woorde wat jy moet gebruik om jou saak te stel. Ek begin maar dadelik om te tik en myself te verduidelik. Ek ken myself goed genoeg om te weet ek sal die vraag so lank as moontlik vermy.

Ek click submit en wag vir die volgende bladsy en die 100 bladsy kontrak soos hulle maak by Tuks. Tot my verbasing/afgryse was die een bladsy die hele aansoek. Daai 121 woorde was nou my aansoek. As ek dit geweet het sou ek seker 'n bietjie langer daaraan gewerk het. Nie dat ek weet wat anders ek sou skryf nie. Ek is net bly ek het nie net geskryf "Ek is sarkasties en partykeer snaaks daarom hoop ek mense sal my betaal" nie. First impressions...

Daar is sommer 'n bekende gevoel van opgewondenheid en onsekerheid wat my herinner dat ek ook op 'n tyd geswot het en partykeer nogal slim was.

So hier gaan ons weer! Annette gaan nog iets leer! 

Thursday, 29 April 2021

Kringe in 'n bos

Ek oefen nie sommer nie. Ek het laasjaar 'n fiets gekoop en 'n paar keer gaan ry en dit was nie te sleg nie. Ek het al hygend by die opdraandes opgekruip en gevoel hoe my milt wil ontplof, maar ek het dit gedoen. Ons is op wittebrood naby die Knysna woud en ek dink net, "let's do this" Ek wil die 'Kringe in 'n Bos' roete gaan stap saam met my man.

Ek trek my lekker tekke vir 'n beter ekke aan, gemaklike klere, the works. Hier gaan ons. Ons ry en ons ry en ons ry.... 40km in die verkeerde rigting. "ek weet waar dit is" sĂȘ hy.

Na 'n waaghalsige U-turn draai ons terug en volg die raad van 'n vrou. Julle ken haar seker. Die GPS tannietjie. Daar aangekom is ons verlig, bietjie verbouereerd en grotendeels in verwondering van die woud om ons.

Wernu neem daai tipiese toeriste foto's van by Dalene Matthee se gedenksteen en ons stap. Dis lekker, ons beweeg rustig. Daar was duidelik mense wat iets in die bos wou gaan doen, want almal is so haastig verby ons... Wil seker nie hĂȘ die grootvoete moet hulle trap nie. Ek voel soos 'n grootvoet, so ek is veilig.

Op hierdie roete is daar sulke loopplanke. Hulle lyk al bietjie moeg maar ons kan nie nou omdraai nie. Ek gee klein versigtige treë terwyl ek na die bordjie kyk wat lees "Extremely slippery" met 'n tekening van 'n man wat so hard neerslaan dat hy sekerlik sy kakebeen en sy trots daar moes groet.

"Hier val jy jou gat af" sĂȘ ek. Soos Siener van Rensburg word my voorspelling 'n realiteit. Wernu trap en knak 'n plank wat al lankal moes bedank het. Ek staan natuurlik op dieselfde plak. So ons kan sĂȘ Wernu het my voete onder my uitgeslaan. Ek gly en land so hard op my agterstewe dat dit voel of ek hop.

Nog nie eers 'n kilometer in die 6km roete in nie. Ek staan versigtig op, evalueer of alles nog kan beweeg en ons stap aan. (terloops, my lieflike trouskoene het dalk mooi gelyk, maar teen die einde van die aand was my hakke bloeiend, so daarmee moet ek ook saamleef)

2 km later kan ek sweer ek sien Fiela en Benjamin wat vir my beduie om in die lig in te gaan. My longe was aan die brand. My Achilles was besig om wraak te neem en my ronde gesiggie was al bloedrooi. Toe vat ons 'n blaaskans. Ek drink water, eet 'n energy bar en probeer my hartklop laer kry.

Tydens die stappery neem ek natuurlik foto's. Dis onvermydelik. Dit is alles net so ongelooflik mooi. Dan stap Wernu vooruit en vra of ek die en daai en dit al afgeneem het. Op daardie stadium fokus ek so op die grond en modder om my dat ek skrikkerig is om te lank op te kyk want hy het oomblikke vroeĂ«r toe ek oor 'n boomwortel struikel vir my gesĂȘ "jy word nou moeg, jy moet fokus op die paadjie." So neem ek die foto's af en die inligting in.

Ons sien 'n aanwysingsbordjie. Een pyltjie wys op - 9 km. Die ander een wys regs - 3 km. Raai watter een het ons gevat. Ek is seker die ander 6 km van die volle 12km roete was pragtig, maar ek sal dit Google. Winners know when to stop.

Ek is trots op ons 6km en dit was rerig pragtig. So saam het ek en my man besluit ons doen 3km in en 3km uit. Dankie tog. Ek was baie benoud dat hy vir my sou sĂȘ hy wil die hele kring loop. Op daai oomblik sou dit vir my 'n bose kringloop geword het as ons enigsins verder moes gaan. Ek het nie vir Fiela, Benjamin, Bartha of Nina opgespoor nie. Maar ek is seker dit gaan nog goed met hulle.

Dit was my eerste staproete, maar nie my laaste nie. As iemand vir my lekker tekke met meer greep kan skenk, sal dit dalk verdere beserings vermy. Die klein Kring was asemrowend en Matthee het dit so mooi vasgevang in haar romans. Eendag sal ek die hele pad gaan stap, mits my man, my GPS en my nuwe tekke betrokke is.