My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Sunday, 30 July 2023

Om te trek en te, en te, en te

Nadat ons die goeie nuus gedeel het van die trek, oortuig my skoonpa vir Wernu dar ons nie geld moet mors om 'n treklorrie te huur nie. Ek sê dadelik vir Wernu ek neem hom kwalik as een enkele ding breek. 

"Hulle gaan die goed breek, julle jaag kak aan" sê my oupa. Almal se insette stel my NIE gerus nie. "Hoekom wil julle dit self doen?" 
"Is dit 'n goeie idee?"
EK WEET NIE, EK HET NOG NOOIT GETREK NIE.

My ooraktiewe verbeelding het klaar 'n video in die masjien gedruk. My vertoonkas sou die eerste slagoffer wees. Daai kas het van Welkom af gekom saam met my oupa - met 'n treklorrie, natuurlik. 

Dis loodglas deure. En die kas is onmenslik swaar. Die manne wat help trek daag by my nuwe huis op. Rietskraal. Hulle bring die bank/sleepercouch wat ouma en oupa vir ons gegee het. Soos hulle instap, trap die een man skeef op plain normale teëls en slaan agteroor op die matras met die basis bo op hom. My siel het in daardie 5 sekondes herbaaldelik my lyf verlaat. Ek het nie 'n noodhulpsakkie nie en enigiets wat hier gebeur gaan waarskynlik meer as die pleister in my handsak verg. Hy spring op en gee 'n benoude giggel en sê "that was close"

CLOSE? Nee bul, ek en Lettie het gelyk ophou asemhaal. Sy het haar kop vasgehou en ek het momenteel katatonies geraak. Maat ok, die bank is binne. My angs oor die vertoonkas kry 'n upsize en ek bel my ma, my broer en Wernu heeltemaal teveel om te vra wat is waar en wie is daarmee besig en of iets al gebreek het.

Ek doen die wiskunde. Daar is by my ma se huis 4 trappies en ongelyke grond tot by die Mahindra. Dan moet die storie nog opgesit word. By my calculations, there are WAY too many opportunities for shit to go absolutely south. 

Maar my verbeelding was nou weer dramaties. Met die groot vrag se koms stap ek uit om vir hulle oop te maak. Hulle ry stadig in en ek maak myself geestelik reg vir wat ookal die Mahindra aanbring. Ek kyk die storie so en dit lyk of die een ou staan tussen die kas en die matras. Ek wag dat hy afklim, maar hy kan nie. Hy is vas tussen die kas en die matras (van de vos is weer los). Daar is geen ander verduideliking as om te sê hy was 'n human shield nie. Maar die kas is heel. Ek is nie seker hoe eties dit is nie, maar ok.

Ons hou vergadering in die huis oor waar die kas moet staan en hoe ons hom gaan afgehaal kry want hulle het die trollie by ma se huis gelos... Toe daag 2 van die manne op en dra die kas asof dit niks is nie. Ek is so vebouereerd, ek staan suid en haal my skokbeentjie amper uit teen die muur. 

Die 3de man is kort op hulle hakke met die bed kopstuk op sy skouer asof hy 'n Laptop dra. In daardie oomblik het ek besef ons is net weak. Vra vir my om woorde oor te dra. Nie meubels nie. 

Hierdie rondte het langer gevat om te skryf, want ek en my man is nog steeds besig om huis op te sit. Die nuutste is dat ons 'n mikrogolf gekoop het. So ek kan my Tupperware rice cooker gebruik! Ek het vrede gemaak met die feit dat hierdie klas van dinge nou my vreugde is. 

Volgende wil ek blykbaar stelselmatig my tuin aanvat. Dit is selfs vir my nuus. My belangstelling in plante was net mooi nul tot ek my eie tuin besit het, nou lyk gazebos en oulike planters vir my mooi? Dit sal ook stadig maar seker gebeur. Ek weet ek gaan mik vir dankbare plante, net nou verloor ek belangstelling as ek higher maintenance plante laat vrek. 

Ek gaan 'n raadsvergadering reël met al die plantkenners in die familie en seker maak ek kry al die hulp denkbaar, sodra ek ten minste 'n tuinslang het, natuurlik.

Monday, 5 June 2023

Leave of Absence A la Writing

Dit vat altyd 'n carte blanche oomblik vir my om te besef ek moet skryf. Dis my prestigious procrastination. 

My verskoning is altyd "life happens" maar my motivering is ook "life happens". 'n Mens moet sekerlik nie oor alles skryf nie. Alhoewel ek weet ek kan die Son koerant laat les opsê met die inhoud wat soms in die drafts van my binneste lê en wag dat iets dit die wêreld instuur.

2022 was 'n wortelkanaal sonder verdowing met 'n migraine, 'n babelas en daai krapgeluid teen 'n swartbord. Dit het my geblok in maniere wat ek nie verwag het nie. Jy kan redineer dat dit 'n leergeleentheid was, maar dit maak jou die optimis. So ek is nie seker of ons kan saamstem nie. Ek is nie 'n pessimis nie. Ek is 'n draadsitter met 'n oormaat sarkasme en 'n hart wat nie die memo gekry het dat ek sterker moet wees nie. 

So ja, optimis. Ek het iets geleer uit dit uit. Queue pessimis; ek kon identifiseer waarvan ek nie hou nie. Ek kon my perke bepaal. Dit was nie moerse hulpvaardig nie, want ek het hulle agterna eers behoorlik verken. 

As iemand vir my gesê het die oggend wat ek neergeslaan het en verskeie ligemente afgedank het sou 'n rippeleffek regdeur my lewe veroorsaak het, sou ek lag. Ek weet alles van hard neerval. Hoeveel erger kan die rondte wees? Die kruk(s) van daai saak is dat die universe nie gedink het dis 'n retoriese vraag nie. Daar was 'n raadsvergadering waarin almal op die beurt kon voorstel watse uitdagings ontplooi kon word. 

Ek was bekommerd dat ek werk sou mis en ek wou aanvanklik die operasie uitstel (dom, ek weet) om by my sperdatums te hou. So kom ons begin stres kweek. 

Die universe het 'n verwronge humorsin. Alles wel na die operasie. Kom ons drink antibiotika. Iewers het ek penisillien benadeel, want dié stuur my sommer in anafilaktiese skok in. Skiet ER toe met die mobiliteit van 'n trollie met 1 wiel. Spuit adrenalien om my weer wakker te kry want dit was 'n ongeleë tyd om te dut. 
Skrik, want dit het afgespeel soos een van die tonele in Grey's Anatomy. 

Hierna het die downward spiral (Afwaartse spiraal in Afrikaans, maar dit sê nie so gemaklik nie) ingespring om sy verwoesting te deel soos 'n aftree oord blaadjie by 'n robot. Stelselmatig vorm daar porseleinfyn krakies in die koppie wat al besig was om oor te loop. En daar spoel ek uit oor die koppie, die piering en die beheer. 

Ek besluit daai koppie tee is net nie vir my nie. Ek voel skuldig dat ek nie kon cope nie. Almal deal met hulle koppie tee. Hoekom kon ek nie? Swakkeling. 

Selfveragting stof homself af en fluister daagliks in my oor dat ek 'n helse fout gemaak het. Later het my hardkoppigheid darem die saak reggestel. Innerlike konflik? Meer soos innerlike oorloë. Die lekker deel daarvan is, ek wen. 

My mense ondersteun my ten spyte van die risiko's van so 'n stunt. Dit help. Ek is opnuut dankbaar vir hulle.

Vandaar ontwikkel 'n vreemde nuwe intrige wat ek eintlik nie verwag het nie.