My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Thursday, 31 December 2020

2020

So hier sit ons aan die einde van nog 'n jaar. Nie eintlik nog 'n jaar nie. Want geen jaar was nog ooit soos hierdie een nie.

Alles wat kon verkeerd gaan, het verkeerd gegaan. Ek is met tye oorval deur 'n histeriese lagbui. Net oor ek nie geweet het wat anders om te doen nie.

Ek kan probeer om daai positiewe mens te wees en sê ons moet fokus op die goeie dinge. Heerlikheid mense, hoe op dees aarde...? Ja daar was goeie oomblikke. Ek het die beste dag van my lewe gehad saam met my man. Ons was omring deur maskers. Onder daai maskers was ons naaste vriende en familie. Niemand het verwag dat ons die jaar moes aanpak met sanitizer en maskers nie.

2020 was die eerste keer wat ek bly was vir 'n negatiewe uitslag op 'n toets. My hande was kurkdroog van sanitizer en ek het steeds vuil gevoel.

Die enigste plek waar ek veilig voel is in my huis sonder my masker. Wat ook nie sinmaak nie want streng gesproke is ons nêrens veilig nie. As Suid-Afrikaners is ons gewoont daaraan om bedreig te voel deur mense. Nie dinge wat ons nie kan sien nie. 

Almal het hulle doelwitte gehad vir die jaar (Pause for laughter). Ek wil uit my foute uit leer. My doelwit vir 2021 is om te oorleef. Net oorlewing in sy eenvoudigste vorm. Dis al. As 2021 onafhanklik funksioneer as 'n jaar wat net bestaan sal ek tevrede wees. Hoef nie goed of sleg te wees nie. Dit moet net nie 2020 wees nie. Dis eenvoudig. 

Sunday, 13 December 2020

Partykeer

Partykeer kan jy met gemak die lewe hanteer. "Fake it til you make it" right? Ander kere sal die kleinste ongemaklikhede jou tref en jy bars in trane uit.

Raai watter keer was vandag?

Ons was en route om die diere vir die dag te voer. Alles verloop goed by die eerste dierekinders. Almal is veilig, gesond en vrolik. Daarna besluit ons om vinnig Spar toe te gaan. Ons het soms die onnodige gewoonte om elke dag te gaan as ons nie met 'n lysie werk nie.

Terloops, hier kom die eerste hakplek;
My 2007 Volkswagen Beetle Convertible. Ek geniet my kar, rerig. Maar daar is hier en daar, foutjies.


Die sensors van die passasiersvenster werk partykeer. Dit beteken ek moet die venster 'n entjie oopmaak en wag dat wie ookal uitklim, dan toemaak, dan kan ek die kar afsluit en self uitklim. Dis eintlik nie so 'n pyn nie. Dis steeds 'n kar! Maar vandag was net nie die dag nie. Ek het elke keer vergeet daarvan en elke keer van voor af bemoerd geword as die deur daai dowwe "ek's nie mooi toe nie, drol" klank maak.


Arme Wernu bly net kalm en probeer om my ook kalm te hou. Na die hele toemaak proses van die kar, sit ek en my man ons maskers aan. Ek is eintlik al gewoond aan die masker. Ek hou nie daarvan nie, maar ek deal daarmee, want ek moet. En ek spaar lipstick, so woohoo. Maar vandag wou ek die masker afruk en met my ongemaskerde self inkopies gaan doen. Soos wat ons vroeg in Maart nog kon doen? Onthou julle dit? Goeie tye. By die kar aangekom is die helfte van my gesig klam van kondensasie en sweet, want Desember. Ek probeer die boot oopmaak en dit sukkel, en sukkel, en sukkel.

Ek was amper halfpad deur my repertoire gekruide taal, toe werk dit. In die kar pluk ek die masker af asof dit die eerste keer is wat ek asemhaal. Ek kyk langs my en sien Wernu staan ewe geduldig en wag dat ek die kar aansluit en die venster oopmaak sodat hy kan inklim. Nou sal seker 'n goeie geleentheid wees om te sê my aircon is gebreek. So ons ry met die vensters oop en praat net nie oor die feit dat ons van binne af gaarword nie. Weet julle wat is ironies? My "seatwarmers" werk nog 100%.....

Ons stop later by ons volgende dierebestemming. Alles lyk wel. Die honde is vrolik, selfs die een wat 'n blou verband om sy pootjie het. Ek stap na die skilpadjies toe en ek sien die net is geskuif en daar's 'n gat gegrawe en net die enetjie beweeg rond. In die jare wat ek al troeteldiere oppas het daar nog nooit een doodgegaan onder my toesig nie. My hart het gebreek. Ek het die eienaar gebel en laatweet. Ons het hom by die rose begrawe. 

Ek moes die pasïent se verband vervang. Terwyl ek op die kombuisvloer sit en versigtig sy poot oopmaak en skoonmaak, sien ek hy het seer. Dit was nie 2 sekondes nie toe huil ek.

Ek huil want die hond het seer en ek kan nie vir hom verduidelik hoe ek hom probeer help nie. Ek huil oor daar 'n seuntjie is wat nie meer sy skilpadjie het nie. Ek huil omdat ek heeltyd 'n masker moet dra. Ek huil omdat ek die afgelope 8 maande nie my private studente kon sien by hulle huise nie. Ek huil omdat hierdie my eerste Desember is sonder my eerste diereklïente. Ek huil omdat my Pa die 11de Desember sou verjaar. Ek huil omdat ek nie die voorreg het om sy opinie te hoor oor hierdie jaar nie. Ek huil want dis 2020.


Oor 18 dae is dit gelukkig verby. Ek gaan nie hierdie jaar Happy New Year sê nie. Duidelik het dit nie gewerk dit nie. So, kom ons hanteer dit soos 'n lekker "old-school" familie skandaal. Ons praat net nie daaroor nie. Maar, ek sou definitief aanbeveel dat julle 2020 op julle CV's sit onder "special skills" .