Ek wou vir 'n kursus inskryf. Copywriting. Ek geniet dit om met woorde te probeer toor en 'n beeld in mense se koppe te skep wat by elkeen se raamwerk pas. Ek sĂȘ nie dat ek nooit mense in die gesig vat as my woorde aan die bitsiger kant is nie. Ek weet woorde kan gelyktydig skadeloos en dodelik wees. Dit hang af wie lees.
Nie dat dit my afsit nie. As jy nie hou van dit wat ek skryf nie, moenie lees nie. Ek het onlangs tot die beslissing gekom dat ek definitief die kursus wil voltooi. Ek slaan die laptop oop en doen navorsing. My eerste beslissing was: Daar is so baie opsies daar buite dat 'n mens eintlik oorweldig voel.
Ek het eindelik 'n instansie gekies. Vandag wil ek registreer en aan die gang kom. Die aansoekvorm is redelik voor die hand liggend. Naam en van, kontakbesonderhede ens. ens. Toe slaan hulle my vir 'n ses! Hulle vra hoekom wil ek die kursus doen. My hel, die blerrie cheek!
Ek het by Tuks geswot. Hulle vra jou nie hoekom wil jy soontoe gaan nie. Hulle soek net jou skoolpunte en jou bewys van betaling vir registrasie. Ek veroordeel hulle nie, everyone has bills. So ek was nie voorbereid vir die hoekom vraag nie.
Hulle gee boonop dit vir jou 'n aantal woorde wat jy moet gebruik om jou saak te stel. Ek begin maar dadelik om te tik en myself te verduidelik. Ek ken myself goed genoeg om te weet ek sal die vraag so lank as moontlik vermy.
Ek click submit en wag vir die volgende bladsy en die 100 bladsy kontrak soos hulle maak by Tuks. Tot my verbasing/afgryse was die een bladsy die hele aansoek. Daai 121 woorde was nou my aansoek. As ek dit geweet het sou ek seker 'n bietjie langer daaraan gewerk het. Nie dat ek weet wat anders ek sou skryf nie. Ek is net bly ek het nie net geskryf "Ek is sarkasties en partykeer snaaks daarom hoop ek mense sal my betaal" nie. First impressions...
Daar is sommer 'n bekende gevoel van opgewondenheid en onsekerheid wat my herinner dat ek ook op 'n tyd geswot het en partykeer nogal slim was.
So hier gaan ons weer! Annette gaan nog iets leer!
No comments:
Post a Comment