My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Friday, 15 July 2016

'n Verjaarsdag, 'n pot sop en 'n aankondiging

79 is 'n groot nommer in terme van ouderdom. Hel, enigiets bo 70 is vir my groot. Ek kon myself nog nooit sien oud word nie. Ek weet nie of my huidige ouderdom bydra nie. Seker. My oupa het 79 geword en dit was omtrent 'n storie.

Jy moet weet dis 'n ernstige saak as jou ouma 'n week voor die geleentheid begin om vitamiene voor te stel dat ons "ons krag kan spaar". Ek was redelik angsbevange dat ek sommer 'n kuier kort knip die vorige aand, sodat ek vroeër kan slaap jy weet?

Vroegdag, daar het skaars 'n duif op 'n skoon kar gepoef en die huis is op. Die oupa is gebad en voor gesing, ons het nie getel nie. Hoe sê hulle? Time is of the essence..

Ek hoor 'n kar. Dis ouma. My broer en die worshond troepe beweeg in en sluit die hek oop. Ons staan op aandag onder die afdak en salueer kaptein kos in haar KA.

Van hier af beweeg alles baie vinnig. Coolbags word ingedraf, elkeen met 2 hande gedra soos wat versoek word. Dis net milo bolletjies, mini pizzas en koek waar jy kyk. My ma het natuurlik al die vorige aand die goeie china uitgepak.

My ouma voer gesprekke met my en die kos en haarself. Ek weet nie of ek moet kook, bak of praat nie... 3 op-en-wakker dames sit en klets om die tafel en drink 'n teetjie uit die duur china uit. My oupa se niggies. Hulle klets oor kinders en kleinkinders en almal wat dood is... 'n ironiese paradoks. Maar dis wat in hul lewens gebeur. My oupa sit doodstil met trane in sy oë en 'n glimlag wanneer hy nie besig is om te eet nie natuurlik.

Die eerste skof mense kom en gaan. Ons herlaai vir die tweede rondte. Intussen moet ek nog vir Durban pak, ek los my kêrel vir 'n oomblik alleen, en toe gebeur dit. 'n Helse slag in die gang wat klink soos 'n kat wat met 'n teflon pan stoei, terwyl 'n perd leer om the tango in die agtergrond.

Ek kyk huiwerig by die gang af, onseker oor dit wat ek gaan aanskou.. Ons maroon mat is nou groen en dit het 'n braakagtige vorm aangeneem. Verder sien ek 'n semi-groen kêrel met benoude bruin oë, die leë sop pot in sy hand.

Die ertjie sop het verloor in die stryd teen swaartekrag, die kêrel ook. My ma was gelukkig so dik van die lag saam met my ouma dat niemand geskree, of gehuil het nie.

As gevolg van die sop terugslag, roep ons die RSS hondetroepe in. Die werk word strategies verdeel. Rudy vreet die gang skoon, en Stephanie en Stoffel is op mat diens.

In die afspoel proses word Rudy vasgevang in die kruisgeveg tussen ertjies water en stukkies pork. So dit het my forseer om hom te bad. Kyk, 'n worshond haat 'n bad. Maar 5 uur in die middag in die middel van die winter... Kwaai worshond. Om sake te vererger het ek hom geblaas met die haardroër, en daarna is hy gebom met bexadust poeier.

So hy is ge-ertjie, gebad, geblaas en gebom.

Die familie daag kort daarna op en sop grappies word ontplooi. Die kêrel bloos of lag net skaam-skaam elke keer. Ons stel 'n heildronk in op die oupa van 79. Hy besluit om 'n aankondiging te maak wat ons almal redelik stil laat. Oupa en ouma gaan weer trou. My emosies het vinnig verby geflits. Verbaas verward verras en meestal net verbly.

No comments:

Post a Comment