My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Wednesday, 12 October 2016

Shogun, strawberries en studente

Dis 'n warm dag in Pretoria. Die rand het geval soos die studente wil hê fooie moet. Meeste kampusse is toe as gevolg van betogende studente wat 'n alomteenwoordige vloermoer gooi regoor die land. Asblikke word wapens, strykplanke word roit-gear en die res van ons wat te bang is om te staak of nie wil staak nie?

Ons sit soos huisvrouens en refresh twitter, kyk e-news en piep mekaar op via whatsapp deur artikels, fotos en videos oor die stakery aan te stuur. Die tekort aan klas maak my eintlik so angstig dat ek wil drink soos 'n geskeide oom in 'n verdagte bar. Na ons daaglikse TV tradisie van die nuus en ons sinnelose soapies kyk, besluit ek dis tyd vir aarbei melkskommels.

Die aarbeie is gevries want ons het hulle al meer as 'n maand.. Ek sny die stingeltjies af terwyl ek saam met die radio sing. Vir een of ander rede wil ek 'n aarbei middeldeur sny want dit maak vir my meer sin aangesien dit makliker sal meng.

Normale slim mense sal seker die aarbei op die snybord sit. Nie Annette nie. Ek wil hom sommer in my hand fillet! Dis 'n Shogun mes, so as hy eers sny dan moet mens oplet waar jou vingers is. Die ding gly en ek steek die mes nie een keer nie, maar drie keer in my hand in.

My knieë knak en ek voel of ek slaap. Ek grip my hand soos Rose Jack vasgehou het aan die einde van Titanic en van daar af sukkel ek badkamer toe. Die bloed loop en ek weet nie eintlik wat ek wil doen nie. Ek spoel die storie af en roep vir pleisters. My sielsmens kom tot my redding en plak die bloeiende gemors toe.

Sy kyk my so en ek sien in haar oë ek lyk so bleek soos ek voel. Daar opgestaan uit die handslagting, drink ek bietjie koeldrank om my siel om te koop sodat hy terug in my lyf in gaan. Chante gaan aan met die melkskommels en ek gaan lê en bejammer myself.

Toe ek sterker voel, toe maak ek die pleister oop sodat ek die besigheid kon skoonmaak en 'n roompie smeer. Dit was semi afgryslik. Ek het nie besef die sny was dieper as 'n tiener se gedagtes nie. Die vetlagie om my middelvinger het uit die sny uit gesquish soos betogende studente wat 'n lesing wil onderbreek.

Wat het ek geleer? Die snybord is daar vir 'n rede... En Shogun se messe is puik.

No comments:

Post a Comment