.
So staan Pierre van Ryneveld op 'n koue Augustus middag in die ry om te stem. Stem vir verandering. Stem vir geen korrupsie. Of so iets. Die son tref my op al die verkeerde tye. Maar staan sal ons staan. Spookasemkapsels skuifel vorentoe en rolstoelrakkers rol verby. Party skepseltjies lyk nie of hulle eers die uitslae van die verkiesing gaan sien nie. Maar stem sal hulle stem.
Ma's met klein kindertjies trek ook voordeel. Alhoewel 'n paar maar oud lyk vir 'n stroler. Maar dis net my opinie. En sommige van die kastige pensionarisse sien ek dan gereeld verby my huis draf.
Hierdie IEC mense het ons natuurlik geflous. Jy dink jy is amper voor in die ry... Nee nee, daar is nog 'n ry binne! Die loopraam lyers is chopchop boks toe en kar toe. En die res van ons wat moet dankbaar wees dat ons kan loop en bad en eet sonder hulp staan maar.
Die mense agter my probeer onderhandel met 'n vrou of hulle haar pram kan leen uit desperaatheid uit. Dan is daar die stofwolk ouderlinge wat AANDRING dat hulle sal staan. Hulle is nie seker of hulle dit gaan maak tot by die boks nie maar hulle sal staan. Jy weet, daai tipe mense wat sĂȘ "ek sal slaap as ek dood is"
En ek en my ma en my broer. Ons staan. Ons sal staan en wag om te stem. Want as jy nie stem nie, kan jy nie kla nie. En Suid Afrikaners hou tog so baie van kla. Dis 'n tradisie. Ek stem eintlik vir my reg om te kla. Die ironie.
En waarmee stap jy weg? 'n kol op jou duim wat lyk of jy hom gaan verloor aan frostbite en hoop in jou hart.
No comments:
Post a Comment