Die mense wat mooi lyk terwyl julle eet, ek vertrou julle nie. Jy moes jou siel verkoop het om goed te lyk terwyl jy een of ander eetding in jou mond indruk. Die paar foto's wat ek van myself aanskou het waar ek besig is om te eet is niks om oor huis toe te skryf nie. Kom ons sê net, ek sou die walvis in Pinocchio 'n go gee.
O, en nog 'n ding! Daar moet 'n reël wees teen foto's van agter af neem sonder die mens se kennis. Dit laat jou soos 'n 18 wheeler trok lyk wat probeer parallel park. NOT FLATTERING. Daar is dalk 'n positiewe uitkoms. As jy die onvleiende foto's van jouself op die yskas plak, dan bly die deur langer toe. Ek sal dit vir die troue oorweeg. Iemand gaan net moet help dat ek betyds 'n selfbeeld opbou in die proses.
Vir die mense wat hulle diere afneem en vertoon, eerstens wil ek dankie sê. Diere is belangrik. Tweedens, neem julle ook 4000 foto's en dan kry jy 3 of 4 goeie foto's uit dit uit as jy gelukkig is? My diere blur en ek is seker daai mense wat glo mens kan 'n demoon afneem sal my honde as sulks identifiseer.
Ek het vroeër die week gesien hoe mooi die maan lyk en ek besluit om dit af te neem, want as die maan lelik lyk hoef ek nie selfbewus te voel nie. Ek haal ewe onnosel my foon uit en probeer die foto geneem kry. Fone het daai verskillende opsies wat jy kan kies op jou kamera om nou 'n spesifieke toneel mooi af te neem. Wat 'n tragedie is "Night Mode" op my foon...
Ek het 'n fotografiekursus gedoen so ek kan verduidelik dat die mode te veel lig inneem omdat die foto ongeveer 4 sekondes vat om geneem te word. So die resultaat was 'n baie onduidelike blurry bol met swart om dit. Jy weet as jy in 'n lig ingekyk het en dit word afgesit en jy "sien" nog die lig in jou oë? Dit is 'n akkurate beskrywing van my "Night Mode"
Die maan het so mooi gelyk en ek wou net 'n ordentlike foto neem en ek het geweet die enigste manier wat ek dit gaan regkry, is as ek dit reg doen. Ek het my pa se tripod gaan soek en die situasie opgeslaan. My kamera was gelukkig nog gelaai en ek het my grootste lens gevat. Die honde het natuurlik gedink ek is mal want ek skarrel heen en weer tussen die grasperk en die huis - en dis koud! Ek skroef die kamera styf vas want as ek dit hier laat val is dit verby. Ek het geleer dat onnodige uitgawes my onplesierig maak so ek het 4 of 5 keer seker gemaak die ding is behoorlik vas!
Ek draai al mikkend met die handvatseltjie rond om my "angle" te kry en dit lyk heel mooi en alles. Ek neem die foto en dis weer 'n blurry bol. Ek moes karring aan die settings en omtrent elke knop druk of draai vir my foto. Ek het met die kursus so 'n klein sleutelhouertjie gekry met wenke op vir die shutterspeed, die white balance, aperture en 'n klomp ander goed wat ek nie kan onthou nie.
Toe ek lank genoeg gestel en geskel het was my rolle gevries, my rug seer en my honde ongeduldig. Die goed wat 'n mens bereid is om te vir 'n foto.
No comments:
Post a Comment