Een van die eerste lesse wat ek geleer het as 'n "grootmens" is dat die nie meer gaan oor wat jy wil doen nie, maar wat jy moet doen.
My ma het my vriendelik forseer om elke aand 7u Last Post te speel. Iemand het op Facebook geskryf dat mens elke aand 7u musiek moet speel of geraas maak om dankie te sê vir die mense wat in hierdie tyd werk.
Ek kan nog speel. Hier en daar klink my note so onstabiel soos die geldeenheid, maar ek kry dit gespeel. My lippe is natuurlik seer en as ek dink aan my orkesdae is dit sommer vernederend. Ek kon daai dae vir ure en ure speel en nou sukkel ek na 2 minute... Dit is seker nou die perfekte tyd om weer trompet te oefen. Ek is net jammer vir die mense om my. Want hulle is definetief ten alle tye by die huis om my geraas te hoor.
My ma wil graag hê ek moet dit doen, so ek sal. 'n Klein deel van my is bang dat 'n buurman moeg raak daarvoor en my met klippe begin gooi. So ek staan net buite die voordeur, vir veiligheid en volume.
Die sosiale media platforms is oortrek met videos van weermaglede wat mense oor die vingers tik en huistoe jaag. Een van my gunstelinge, wys hoe mense huistoe rol begelei deur 'n weermaglid. Hulle raak ook seker verveeld? Nog ene wys hoe drankbottels op straat uitgegooi word terwyl die oortreders leepoog kyk hoe word hulle dop vinnig op.
Ek ondersteun nie drank mors nie, maar wat kan hulle doen? Die president het aangekondig dat ons 21 dae by die huis moet bly, net 3 weke. Is dit rerig te moeilik? En hy het dit nie gedoen om ons te irriteer of te ontstel nie. Sy intensie is om die verspreiding te voorkom. Dit is mense se reaksies wat die probleem skep.
Niemand van ons wil 21 dae tuis bly nie. Ok, ek wil, want mense. Dis steeds nie lekker om te weet dat ek nie net kan ry as ek wil nie. Tog gehoorsaam ek en my gesin dit terwyl ander mense vra of hulle met hulle honde mag gaan stap. Het hulle dan 'n ander aankondiging gekyk? Op 'n ander SABC? Het die gebaretaal tolk iewers 'n fout gemaak wat julle koppies deurmekaar gemaak het? Julle is seker die tipe mense wat in 'n besige parkeerarea daarop aandring om by 'n plek in te reverse..
Ons doen wat ons moet doen om te verseker dat die lockdown nie meer as 3 weke gaan vat nie. Want die lewe moet aangaan soos wat debietorders maandeliks sonder twyfel afgaan.
So haal asem, hardloop sirkels in jou tuin as jy moet. Maar asseblief mense. Bly net by die huis. Ek trou in Mei so as ons hierdie proses kan aanhelp sal ek bly wees.
No comments:
Post a Comment