Ek het my eerste Zoom sessies oorleef. Alhoewel 'n paar kandidate dit nie gemaak het nie weens internet probleme... Alles het maar sy groeipyne. Ek moet sê dit het van voor af gevoel soos my eerste dag by die sentrum. Almal het op hulle beurt deelgeneem aan 'n ongemaklike stilte, selfs ek.
Daar is ongelukkig die opsie om jou eie kamera en klank af te sit. Verskoon my nou maar dat ek nie vir 'n swart skerm wil klas gee nie. Hoe kan ek seker wees die kind luister? Sluit hulle net aan en mute alles en slaap verder?
Watse bewyse is daar dat ek nie dalk met 'n verwarde hond of 'n lui kat gesels het oor kwartaal 2 se letterkunde nie? Ek het nou maar die huiswerk op die groep gestuur dat die ouers kan weet daar is goed wat moet gebeur. Na my klasse het dit darem weer gevoel of ek iets bereik.
Min het ek geweet die ware opwinding van die dag sou in die kombuis wees. Nee, ek gaan nie nou verduidelik hoe jy 'n dekadente rolkoek kan maak tydens lockdown nie. Ek is ongelukkig nie daai een nie en as jy is, good on you.
Ek was bewus van 'n geskarrel in die kombuis en ek het aangeneem my ma is besig om alles skoon te maak sodat sy nounou kan ontevrede wees oor ons alles so vinnig vuil maak.
Toe nie. Ek ken hierdie scenario. As kind het ek die verskoning gehad dat ek te klein is om te help. Ek het hierdie voorspel! AND I QUOTE "Ek sê solank sterkte vir die wie se ma's reeds aangekondig het dat hulle die huis gaan regpak."
So ek het vir myself sterkte gesê. Snaaks, dit voel nie so nie. Sy staan met haar blou handskoene in haar pienk kombuis en skrop aan 'n pienk tupperware deksel.
Tupperware is nie sommer net 'n stel houers van verskillende groottes in my huis nie, nee-nee. Dis 'n geldeenheid. Wanneer 'n mens my ma vra oor die ou bakkies en waar hulle vandaan kom kry sy so 'n uitdrukking op haar gesig soos die grensoorlog-ooms. Daai oë wat sê: jy wil nie weet nie.
Die stel tersake was 'n belangrike rolspeler in my ma se lewenslange tupperprobleem. Sy het destyds die stel stuk vir stuk huis toe gesmokkel. Ja, sy het Tupperware soos hoë-gehalte TIK gesmokkel.
My pa het sekerlik later van tyd besef hier is 'n nuwe stel tupperware, hy het ook besef dat daar party dinge is wat 'n mens maar net moet aanvaar.
In ons jonger dae het ek en my broer ook vinnig geleer dat jy nie huis toe gaan as jy nie die tupperwarebakkie saambring waarin jou kos was nie. 'n Mens sou dink omdat ons so baie het sal sy nie maklik agterkom as iets weg is nie. HA!
Big Brother se moer! Nana sien alles. So begin ek haar help om die spenskas reg te pak en die kos in die houers uit te gooi (dit het my laat besef ons kas is eintlik nie so klein nie dis net slegte spasie beheer).
My ma is natuurlik een van daai tannies wat nog die plakkers op die T-ware geplak het. En waag dit net om iets anders in daai houer te sit dan lyk sy skoon ongemaklik! Ek kon gelukkig haar arm draai om die Lentils bak af te staan aan iets anders. Seker ook maar net omdat hy deel was van die smokkelstel.
Ons het vandag drie rakke reggepak. Iewers in die middel van die tweede rak het sy 'n flask gekry en eers 'n teugie OBS geniet. Ek hoop maar die teugie was eksklusief aan Sherry, want ons pak môre nog 2 rakke reg en die laaste rak is propvol alkohol!