My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Monday, 6 April 2020

Huiskluis Dag 11

Ek het my eerste Zoom sessies oorleef. Alhoewel 'n paar kandidate dit nie gemaak het nie weens internet probleme... Alles het maar sy groeipyne. Ek moet sê dit het van voor af gevoel soos my eerste dag by die sentrum. Almal het op hulle beurt deelgeneem aan 'n ongemaklike stilte, selfs ek.

Daar is ongelukkig die opsie om jou eie kamera en klank af te sit. Verskoon my nou maar dat ek nie vir 'n swart skerm wil klas gee nie. Hoe kan ek seker wees die kind luister? Sluit hulle net aan en mute alles en slaap verder?

Watse bewyse is daar dat ek nie dalk met 'n verwarde hond of 'n lui kat gesels het oor kwartaal 2 se letterkunde nie? Ek het nou maar die huiswerk op die groep gestuur dat die ouers kan weet daar is goed wat moet gebeur. Na my klasse het dit darem weer gevoel of ek iets bereik.

Min het ek geweet die ware opwinding van die dag sou in die kombuis wees. Nee, ek gaan nie nou verduidelik hoe jy 'n dekadente rolkoek kan maak tydens lockdown nie. Ek is ongelukkig nie daai een nie en as jy is, good on you.

Ek was bewus van 'n geskarrel in die kombuis en ek het aangeneem my ma is besig om alles skoon te maak sodat sy nounou kan ontevrede wees oor ons alles so vinnig vuil maak.

Toe nie. Ek ken hierdie scenario. As kind het ek die verskoning gehad dat ek te klein is om te help. Ek het hierdie voorspel! AND I QUOTE "Ek sê solank sterkte vir die wie se ma's reeds aangekondig het dat hulle die huis gaan regpak."

So ek het vir myself sterkte gesê. Snaaks, dit voel nie so nie. Sy staan met haar blou handskoene in haar pienk kombuis en skrop aan 'n pienk tupperware deksel.

Tupperware is nie sommer net 'n stel houers van verskillende groottes in my huis nie, nee-nee. Dis 'n geldeenheid. Wanneer 'n mens my ma vra oor die ou bakkies en waar hulle vandaan kom kry sy so 'n uitdrukking op haar gesig soos die grensoorlog-ooms. Daai oë wat sê: jy wil nie weet nie.

Die stel tersake was 'n belangrike rolspeler in my ma se lewenslange tupperprobleem. Sy het destyds die stel stuk vir stuk huis toe gesmokkel. Ja, sy het Tupperware soos hoë-gehalte TIK gesmokkel.

My pa het sekerlik later van tyd besef hier is 'n nuwe stel tupperware, hy het ook besef dat daar party dinge is wat 'n mens maar net moet aanvaar.

In ons jonger dae het ek en my broer ook vinnig geleer dat jy nie huis toe gaan as jy nie die tupperwarebakkie saambring waarin jou kos was nie. 'n Mens sou dink omdat ons so baie het sal sy nie maklik agterkom as iets weg is nie. HA!

Big Brother se moer! Nana sien alles. So begin ek haar help om die spenskas reg te pak en die kos in die houers uit te gooi (dit het my laat besef ons kas is eintlik nie so klein nie dis net slegte spasie beheer).

My ma is natuurlik een van daai tannies wat nog die plakkers op die T-ware geplak het. En waag dit net om iets anders in daai houer te sit dan lyk sy skoon ongemaklik! Ek kon gelukkig haar arm draai om die Lentils bak af te staan aan iets anders. Seker ook maar net omdat hy deel was van die smokkelstel.

Ons het vandag drie rakke reggepak. Iewers in die middel van die tweede rak het sy 'n flask gekry en eers 'n teugie OBS geniet. Ek hoop maar die teugie was eksklusief aan Sherry, want ons pak môre nog 2 rakke reg en die laaste rak is propvol alkohol! 

Sunday, 5 April 2020

Huiskluis Dag 10

Check on your entertainment industry friends, they're not ok. Ek het gedink dis net my broer wat vreemd optree. Na 'n videocall van een van sy vriende besef ek dis 'n industrie kwaal. Sy snor het hom gepla, toe skeer hy, maar hy skeer dit af in paaiemente. Blokkie vir blokkie.

Verder sien ek al die dorpsmense is erg aktief op Facebook want almal het wifi en fibre en te veel tyd. Hier het 'n vrou, kom ons noem haar Jakoba, begin kla oor die mense wat so rondry in haar straat. Die oplossing is eenvoudig Jacobatjie, gaan in die huis in en sit jou 2008 Afrikaans is Groot DVD aan en sit tog neer jou foon.

Ek en my gesin het gebraai; ribbetjies en hoenderstukke is verslind met 'n slaaitjie en knoffelbrood. Gelukkig het ons almal daarvan geëet so almal sal ewe erg stink. Ek kan met absolute eerlikheid sê ons het LELIK geëet. Ek het gedink aan daai omie wat die comrades in sy tuin hardloop. Dis hier en nou wat ons smul aan die resultate van Huiskluis Dag 9 se Meatworld avontuur.

Ek maak my hare vas en voel amper lus om te strek voor ons bid. Ons het definetief nie 'n marathon gehardloop nie. (As enige van ons begin hardloop moet julle ook want dit beteken iets jaag ons.) Ons uitdaging was om agter die goeie vibes aan te eet, en ons het. In hierdie lockdown staan dit as 'n hoogtepunt uit, en glo my, ons eet amper die hele tyd. 

My verloofde het selfs met 'n snaakse stemmetjie gister gesê "ek wil net die hele tyd eet" ek antwoord so ewe "welcome to my BMI!" 


Gelukkig begin ek môre weer klas gee, so 'n poging tot roetine is in wording. Die sukses daarvan sal môre bespreek word. Indien ek nie daaroor skryf nie kan julle aanneem dit was 'n massiewe mislukking, maar op hierdie stadium het die wêreld belangriker dinge om oor te panic. 

Saturday, 4 April 2020

Huiskluis Dag 9

Toe ek eindelik ontwaak vanoggend het ek gesien my broer sit in sy kar, in die reën. Hy wil seker net sy kar start dat die battery nie mandown is na lockdown nie. Ek hoor hy sit die kar in rat, weird... Toe ek weer kyk was hy besig om ritmies vorentoe en agtertoe te ry. Bekommerd is nie eers die woord nie.

Ek is op pad kar toe vir nog 'n avontuur in die buite wêreld! Uitgevat in 'n hoodie, reënstewels en 'n sweetpakbroek, want dis my lewe en dis my look, soos Karen Zoid sou sing. Ek het nou die sakkies, die sanitizer, die masker, die handsak en die wilskrag!

Die motivering wat my oortuig het dat ek die winkels moet invaar, is die feit dat dit reën. Reënweer + lockdown = min verkeer👌. Vandag was ek behoorlik waaghalsig. Ek was in Elarduspark! Dit is die naaste sentrum met 'n Spar, 'n Meatworld en 'n Foodlovers. Ek het gedink ek sal alles kry wat nodig is, sommer so bymekaar.

Ek het strategies in die middel van alles gestop sodat ek 'n funksionele Google Maps route kon volg en steeds probeer om 'n paar steps in te kry. In Elardus is die mense baie versigtig en bedag op die sosiale distansiëring konsep en amper almal dra maskers en handskoene.

Dit het gevoel soos Kersfees want ek het broodrolletjies EN wraps gekry! Ek was so lus vir 'n wrap ek wou huil. Dit was tot dusver 'n suksesvolle avontuur. By die til merk ek op hoe almal hulle kaart of geld so met die vingerpunte aangee en vat. So asof almal openlik vir almal gril, maar ek verstaan.

Meatworld is volgende. Ek word gesanitize en ek beweeg in en soek soos my ouma vir die beste pryse en met amper elke vleissoort stap ek daar uit. Met 'n swaar hart moes ek die skaaptjoppies los. As ek net vir myself moes kosmaak het ek hulle beslis ingelaai! My ma sê hulle eet goud, dis al wat verduidelik hoekom dit so duur is.

Foodlovers is so flippen koud dat ek spoedshop en alles wat bekend lyk inlaai. Ek ontvang 'n versoek vir Hot Chocolate. Natuurlik het hulle nie meer voorraad nie. Oh well.

Ek begin huistoe ry. Ek kry 'n whatsapp en 'n oproep. Ek ken hierdie game.... "kry asb coke en ys" lees die whatsapp. Ek bel terug en my verloofde vra "Is jy nog by die winkel?" Ek besef toe my avontuur is nog nie verby nie, aangesien ek by my Spar sal moet stop vir Hot Chocolate, Koffie, ys en Coke. Alles goed wat beskikbaar was by die eerste Spar.

Anyways, ek stop, sanitize en stap in. Ek kry wat hulle soek en ek vra of iemand nog iets soek. My ma sê eers nee, so ek stap til toe. Daarna kry ek weer 'n boodskap... Gepynig stap ek aan na die swiets toe, til toe, kar toe, huis toe.

Onder normale omstandighede sou ek tevrede wees om 4 winkels te besoek. Maar Spar, Meatworld, Foodlovers, Spar is nou nie my idee van 'n lekker shopping spree nie. 

Stay sanitized ✌️

Friday, 3 April 2020

Huiskluis Dag 8

Ek begin dink dat ons almal karakters in Sims is. Ons is net die hele tyd hier, selfs as ons werk is ons hier. Met tye praat ons met die mure en ons eet omtrent die hele flippen tyd... Al verskil is niemand mag kom kuier nie.

Julle, my broer Weiveld voluit in sy kamer. Daar is ligte betrokke wat flitsend en flikkerend tekere gaan. Ek het nou al vir 'n tweede rondte al my kiddies gesien. Maandag begin ons normale klastye weer via Zoom. What a time to be alive!

Jy besef nie hoe belangrik 'n routine is tot jy dit nie meer het nie. Ek het in 1 week 'n vreemde punt bereik (ja net een... Ons is nou eers een week by die huis! Voel dit vir julle ook soos 3?). Ek het daarin geslaag om die datum, dag en hier en daar die tyd te verloor. Ek het iewers 2 keer in 1 dag 'n nap gevang. Nie eers sleg gevoel nie. Mens sou sweer ek is met pensioen.

My liefste ma het rerig die tyd verloor. Haar muur horlosie het gaan staan en sy het dit rerig nie besef nie. Want die ding het aanhou tik. Tikkend stilgestaan. Dit is eintlik soos ons.

Die tyd stap aan, maar ons bly net op een plek. Ons wag om te sien, ons wag om te hoor, ons wag om te weet. Ongelukkig, wag tyd nie.

My ma sê altyd alles is soos dit moet wees. As iemand 'n leidraad kon gee oor hoekom alles op hierdie oomblik is soos dit is, sou ek so ewig dankbaar wees. Tog, as daar 'n antwoord op die "hoekom?" was en as die situasie anders was, het ek dalk nie hierdie eat pray lockdown ervaring beleef nie.

Ek sou sê geniet die familie tyd, maar gaan kruip in 'n boom weg, indien nodig. 

Thursday, 2 April 2020

Huiskluis Dag 7

Die balans in my huis is baie delikaat en ons is so eweredig versprei soos kaneel op 'n melktertjie. My broer is min te sien. Hy kom uit om te eet en om nou en dan 'n hond te irriteer. Hy is nou deel van die online gaming wêreld.

As ek verby sy kamer beweeg hoor ek net 'n geskiet, musiek of hoe hy al laggend gesels. Gelukkig het hy bevestig dat hy met die ander lewendige gamers praat. As ek daar moes inloop en sien hoe hy small-talk maak met homself sou ek net retireer. Niemand van ons het nou die krag vir die admin van 'n ineenstorting nie en ek is verveeld, maar nie verveeld genoeg om 'n kamer met sagte mure op te rig nie.

My verloofde slyp 'n mes, kyk 'n Russiese tv-reeks en speel ook games op sy playstation 2 nogal. Hy kom elke nou en dan na my toe om 'n soen te steel of net te vra of ek nog ok is. Nou en dan raak hy vreemd. Hy sal koud kry so dan moet ek 'n baadjie aantrek. Ek dink nie ek sal ooit daai dinamika verstaan nie. He means well.

Ek is besig met 'n aanlyn kursus sodat ek Engels op skype kan aanbied. Sodra my brein nie meer wil nie is daar tekens. Ek sal besig wees om iets eenvoudig te skryf soos "Methodology" maar as ek weer kyk staan daar Methodologoloy. Dan gee ek in en kyk 'n paar episodes van iets op Showmax. Ek kyk op hierdie stadium so baie verskillende reekse dat ek nie met sekerheid kan sê wat presies aangaan nie.

Ek dink dis net kans vir my brein om brabbeltaal te praat tot ek weer ordentlik kan skryf. Ek "sien" darem nog my kiddies op Hangouts en Skype. So ek is darem nog so bietjie produktief, in my pajamabroek. My PJ pants do not influence my smarty pants (ja, ek maak nou daai jokes, send help)

My ma binge watch series op Netflix. Sy is so tevrede. Ek het al in Januarie 'n laptop op 'n rak met speakers (want sy is nou 'n afgetrede) opgeslaan toe sy 'n beentjie in haar voet gebreek het.

Sy voel nog skuldig as sy die hele dag lank net series of flieks kyk en ek sien nou vir die eerste keer hoe my ma leer om te chill. In die geval Netflix and chill, literally. Miskien was die huiskluis situasie 'n manier om haar te forseer om net te ontspan. She truly does deserve it.

Ek het vandag haar reaksie aanskou toe sy besef haar reeks, The Crown is verby. Ons almal ken daai leë gevoel. Maar, wat gebeur volgende? Wat gaan ek nou met my lewe doen? Gelukkig het sy vinnig iets anders gekry om te kyk toe daai "You might also like" skakel opkom.

Ons maak darem nog tyd vir mekaar. Ons kyk nou en dan saam 'n fliek of as iemand verveeld voel sal hulle en die res van die huis in jou klein kamer inbars en geselsies maak. Ek is definetief dankbaar dat ek saam my mense en my diere is, life would be so very dull without them.

Hiermee bedank ek ons Wi-Fi en die konsep van "uncapped" sonder jou het my gesinnetjie dalk 'n ander storie gehad. Paul sou met homself gepraat het, Wernu sou waarskynlik steeds 'n mes geslyp het (klink soos die begin van 'n traumatiserende tv-reeks). Ek sou leer stryk het... NOT 😂  en my ma sou waarskynlik vir ons almal weggekruip het en self-isolate in haar kar met 'n boek en 'n fles vol tee. 

Wednesday, 1 April 2020

Huiskluis Dag 6

Dit begin by 'n tekort aan iets. Jy besef jy het dit nodig en jy weet waar om dit te kry, maar nou oorweeg jy die risiko's.

Is die avontuur die moeite werd? Onthou jy nog die pad? Hoe dit werk? Waar alles is? Daar is net een manier om uit te vind. Jy maak 'n lys, wik en weeg oor jou uitrusting, trek aan, gryp sakkies, sleutels en sanitizer.

Jy sluit die kar aan en die hele proses voel abnormaal. Jy kry terugflitse van jou learnersdae en die blindekolle wat jy moes check. Jy haal asem en herinner jouself dat jy al jare bestuur, dis nie so moeilik nie!

Ek trek weg en besef dat ek die pad nog ken. Links by die sirkel, links by die volgende straat en dan regs by die grys hekke. Hier is ek nou...

SPAR! Ek is baie bewus van die mense om my met maskers en handskoene. Ek hou maar my sanitizer wipes naby en mik vir 'n trollie. Soos wat ek om die draai kom sien ek die mense staan in 'n ry voor die apteek. Nie omdat daar baie mense is nie, maar omdat die mense eers buite moet aanmeld.

Soos wat hulle met stemdag jou ID bekyk, vat die outjie jou besonderhede en scan jou voorkop soos 'n barcode. Indien jou temperatuur ok lyk en jy was nie die afgelope 3 weke oorsee nie, mag jy ingaan (na jy gesanitize het).

By die ingang van SPAR sanitize hulle die trollie en jou hande. Jy moet 'n trollie vat, dit verseker dat jy ver genoeg van die mense om jou is. En as iemand te naby aan jou kom sal hulle trollie jou achilles tref voor hulle kieme kan.

Daar is twee soorte mense wat inkopies doen in die tyd. Daai met handskoene, maskers, sanitizer in die gatsak, wildgeklopte oë soos 'n "deer caught in the headlights" tipe vibe.

Die ander soort is, soos ek, uiterlik relatief normaal, nie handskoene of maskers aan nie en hulle probeer net die panicky resident evil-agtiges vermy wat net ten alle tye geïrriteerd, hardlywig en naar lyk.

By die til voel ek amper skuldig oor die hoeveelheid goed wat ek koop omdat sy aan alles moet vat waaraan ek gevat het en sy weet nie of ek 'n risiko is nie. Op die stadium is almal. Daar hang sulke perspex blaaie tussen die klante en die werknemers.

Ek was nie seker of dit effektief is nie maar in die verbyloop kon ek sien hoe vol merke die goedjies is. As dit jou nie bewus maak van alles waaraan jy vat of bestudeer en terugsit nie, weet ek nie wat sal nie.

Inkopies gedoen, hande weer gesanitize. In die kar terug huis toe bekyk ek die veld dat mens sou sweer ek is 'n toeris in die wildtuin opsoek na die Groot 5.

Dit was alles baie opwindend, maar dit was steeds 'n verligting om by die huis te kom (en natuurlik weer te sanitize, gevolg deur 'n stort).

Tuesday, 31 March 2020

Huiskluis Dag 5

Optimiste sien hierdie tyd as 'n Jan-Tuisbly vakansie. Ek is nie een van hulle nie.

Nou moet ons die badkamers en die vloere was, die wasgoed was en stryk (jokes, niemand van ons is bereid om dit te doen nie). Die grootste frustrasie van die oefening is die kombuis. Afgesien van die feit dat al die kos daar is, het ek nog 'n paar klagtes.

Dis vanselfsprekend dat ek van kos hou. Ek geniet dit om kos te maak. Om 'n nuwe resep op my gesin uit te toets is altyd pret. Hoe lekkerder die kos lyk, hoe meer maak dit vet of vuil.

Dis maklik om te dink mens kan net maklike goed gaarmaak in die oond of so iets. HA, nee. Eerstens, die mense in my buurt is blykbaar so lui soos ek so die frozen food afdeling is so leeg soos my petroltank. Tweedens, dis nie asof ek na ander winkels toe kan mission om dit te soek nie. Derdens, ek weet Woolies het waarskynlik, maar dit is beslis nie volhoubaar vir nog 16 dae nie.

Laastens, verskeidenheid! Ek wil verskeidenheid aanbied vir my mense. Hulle het nog nooit oor my kos gekla nie. Niemand het al Gordon Ramsey style in my karakter ingeklim en my geestelik ruïneer nie(dit kan wees dat hulle net settle omdat hulle dit nie self wil maak nie). Ek probeer dit interessant hou, maar hoe doen 'n mens dit in lockdown?

Daar is nie 'n manier wat ek maaltye so ver vooruit beplan en presies weet wat ek nodig het daarvoor nie. Ek is ook nie een van daai mense wat eienaardige speserye en kossoorte wat ek nie kan uitspreek maar net in die kas het nie. Ek koop wat almal eet, dis veiliger en eenvoudiger.

Ek het nou maar besluit om die kosgesprek oop te maak. As ek vra wat hulle wil eet is "kos" of "wat jy ons voer" gewoonlik die antwoord. Ek het dit al oorweeg om vir hulle 'n pak pasta in 'n bord te sit met 'n pakkie poeiersous, dis mos kos? Die inwoners moet nou maar net 'n paar opsies gee dat ek ten minste dink hulle eet nog lekker. And if all else fails, braai.

Dit maak egter nie saak hoe lekker die kos is nie. As daai kombuis vuil is, is hy vuil. Jy spandeer omtrent 'n uur om kos te maak, net sodat jy 2 ure kan skoonmaak. Dis psigies uitmergelend om te dink hoe jy moet skrop, skuur, spoel en afdroog en niks kan jou behoorlik voorberei vir die vuil pot wat op een of ander duistere manier net so op die stoof bly staan het nie.

Jou rug is seer, die sweet tap jou af en jy het 10 dode gesterf vir die nat kos wat in die wasbak agtergebly het, dis ok om te erken dat jy die pot in die oond wou wegsteek of hom selfs weggooi. As jy dit nie kan sien nie, is dit nie 'n probleem nie. Weet net dat jy weer die pot sal nodig hê en hoe langer jy dit los, hoe erger sal dit word. Jy is nie alleen nie (wel, in jou kombuis is jy, ek en my ma suffer saam) 


Sterk staan kollegas