Dit begin by 'n tekort aan iets. Jy besef jy het dit nodig en jy weet waar om dit te kry, maar nou oorweeg jy die risiko's.
Is die avontuur die moeite werd? Onthou jy nog die pad? Hoe dit werk? Waar alles is? Daar is net een manier om uit te vind. Jy maak 'n lys, wik en weeg oor jou uitrusting, trek aan, gryp sakkies, sleutels en sanitizer.
Jy sluit die kar aan en die hele proses voel abnormaal. Jy kry terugflitse van jou learnersdae en die blindekolle wat jy moes check. Jy haal asem en herinner jouself dat jy al jare bestuur, dis nie so moeilik nie!
Ek trek weg en besef dat ek die pad nog ken. Links by die sirkel, links by die volgende straat en dan regs by die grys hekke. Hier is ek nou...
SPAR! Ek is baie bewus van die mense om my met maskers en handskoene. Ek hou maar my sanitizer wipes naby en mik vir 'n trollie. Soos wat ek om die draai kom sien ek die mense staan in 'n ry voor die apteek. Nie omdat daar baie mense is nie, maar omdat die mense eers buite moet aanmeld.
Soos wat hulle met stemdag jou ID bekyk, vat die outjie jou besonderhede en scan jou voorkop soos 'n barcode. Indien jou temperatuur ok lyk en jy was nie die afgelope 3 weke oorsee nie, mag jy ingaan (na jy gesanitize het).
By die ingang van SPAR sanitize hulle die trollie en jou hande. Jy moet 'n trollie vat, dit verseker dat jy ver genoeg van die mense om jou is. En as iemand te naby aan jou kom sal hulle trollie jou achilles tref voor hulle kieme kan.
Daar is twee soorte mense wat inkopies doen in die tyd. Daai met handskoene, maskers, sanitizer in die gatsak, wildgeklopte oë soos 'n "deer caught in the headlights" tipe vibe.
Die ander soort is, soos ek, uiterlik relatief normaal, nie handskoene of maskers aan nie en hulle probeer net die panicky resident evil-agtiges vermy wat net ten alle tye geïrriteerd, hardlywig en naar lyk.
By die til voel ek amper skuldig oor die hoeveelheid goed wat ek koop omdat sy aan alles moet vat waaraan ek gevat het en sy weet nie of ek 'n risiko is nie. Op die stadium is almal. Daar hang sulke perspex blaaie tussen die klante en die werknemers.
Ek was nie seker of dit effektief is nie maar in die verbyloop kon ek sien hoe vol merke die goedjies is. As dit jou nie bewus maak van alles waaraan jy vat of bestudeer en terugsit nie, weet ek nie wat sal nie.
Inkopies gedoen, hande weer gesanitize. In die kar terug huis toe bekyk ek die veld dat mens sou sweer ek is 'n toeris in die wildtuin opsoek na die Groot 5.
Dit was alles baie opwindend, maar dit was steeds 'n verligting om by die huis te kom (en natuurlik weer te sanitize, gevolg deur 'n stort).
No comments:
Post a Comment