My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Wednesday, 1 April 2020

Huiskluis Dag 6

Dit begin by 'n tekort aan iets. Jy besef jy het dit nodig en jy weet waar om dit te kry, maar nou oorweeg jy die risiko's.

Is die avontuur die moeite werd? Onthou jy nog die pad? Hoe dit werk? Waar alles is? Daar is net een manier om uit te vind. Jy maak 'n lys, wik en weeg oor jou uitrusting, trek aan, gryp sakkies, sleutels en sanitizer.

Jy sluit die kar aan en die hele proses voel abnormaal. Jy kry terugflitse van jou learnersdae en die blindekolle wat jy moes check. Jy haal asem en herinner jouself dat jy al jare bestuur, dis nie so moeilik nie!

Ek trek weg en besef dat ek die pad nog ken. Links by die sirkel, links by die volgende straat en dan regs by die grys hekke. Hier is ek nou...

SPAR! Ek is baie bewus van die mense om my met maskers en handskoene. Ek hou maar my sanitizer wipes naby en mik vir 'n trollie. Soos wat ek om die draai kom sien ek die mense staan in 'n ry voor die apteek. Nie omdat daar baie mense is nie, maar omdat die mense eers buite moet aanmeld.

Soos wat hulle met stemdag jou ID bekyk, vat die outjie jou besonderhede en scan jou voorkop soos 'n barcode. Indien jou temperatuur ok lyk en jy was nie die afgelope 3 weke oorsee nie, mag jy ingaan (na jy gesanitize het).

By die ingang van SPAR sanitize hulle die trollie en jou hande. Jy moet 'n trollie vat, dit verseker dat jy ver genoeg van die mense om jou is. En as iemand te naby aan jou kom sal hulle trollie jou achilles tref voor hulle kieme kan.

Daar is twee soorte mense wat inkopies doen in die tyd. Daai met handskoene, maskers, sanitizer in die gatsak, wildgeklopte oë soos 'n "deer caught in the headlights" tipe vibe.

Die ander soort is, soos ek, uiterlik relatief normaal, nie handskoene of maskers aan nie en hulle probeer net die panicky resident evil-agtiges vermy wat net ten alle tye geïrriteerd, hardlywig en naar lyk.

By die til voel ek amper skuldig oor die hoeveelheid goed wat ek koop omdat sy aan alles moet vat waaraan ek gevat het en sy weet nie of ek 'n risiko is nie. Op die stadium is almal. Daar hang sulke perspex blaaie tussen die klante en die werknemers.

Ek was nie seker of dit effektief is nie maar in die verbyloop kon ek sien hoe vol merke die goedjies is. As dit jou nie bewus maak van alles waaraan jy vat of bestudeer en terugsit nie, weet ek nie wat sal nie.

Inkopies gedoen, hande weer gesanitize. In die kar terug huis toe bekyk ek die veld dat mens sou sweer ek is 'n toeris in die wildtuin opsoek na die Groot 5.

Dit was alles baie opwindend, maar dit was steeds 'n verligting om by die huis te kom (en natuurlik weer te sanitize, gevolg deur 'n stort).

Tuesday, 31 March 2020

Huiskluis Dag 5

Optimiste sien hierdie tyd as 'n Jan-Tuisbly vakansie. Ek is nie een van hulle nie.

Nou moet ons die badkamers en die vloere was, die wasgoed was en stryk (jokes, niemand van ons is bereid om dit te doen nie). Die grootste frustrasie van die oefening is die kombuis. Afgesien van die feit dat al die kos daar is, het ek nog 'n paar klagtes.

Dis vanselfsprekend dat ek van kos hou. Ek geniet dit om kos te maak. Om 'n nuwe resep op my gesin uit te toets is altyd pret. Hoe lekkerder die kos lyk, hoe meer maak dit vet of vuil.

Dis maklik om te dink mens kan net maklike goed gaarmaak in die oond of so iets. HA, nee. Eerstens, die mense in my buurt is blykbaar so lui soos ek so die frozen food afdeling is so leeg soos my petroltank. Tweedens, dis nie asof ek na ander winkels toe kan mission om dit te soek nie. Derdens, ek weet Woolies het waarskynlik, maar dit is beslis nie volhoubaar vir nog 16 dae nie.

Laastens, verskeidenheid! Ek wil verskeidenheid aanbied vir my mense. Hulle het nog nooit oor my kos gekla nie. Niemand het al Gordon Ramsey style in my karakter ingeklim en my geestelik ruïneer nie(dit kan wees dat hulle net settle omdat hulle dit nie self wil maak nie). Ek probeer dit interessant hou, maar hoe doen 'n mens dit in lockdown?

Daar is nie 'n manier wat ek maaltye so ver vooruit beplan en presies weet wat ek nodig het daarvoor nie. Ek is ook nie een van daai mense wat eienaardige speserye en kossoorte wat ek nie kan uitspreek maar net in die kas het nie. Ek koop wat almal eet, dis veiliger en eenvoudiger.

Ek het nou maar besluit om die kosgesprek oop te maak. As ek vra wat hulle wil eet is "kos" of "wat jy ons voer" gewoonlik die antwoord. Ek het dit al oorweeg om vir hulle 'n pak pasta in 'n bord te sit met 'n pakkie poeiersous, dis mos kos? Die inwoners moet nou maar net 'n paar opsies gee dat ek ten minste dink hulle eet nog lekker. And if all else fails, braai.

Dit maak egter nie saak hoe lekker die kos is nie. As daai kombuis vuil is, is hy vuil. Jy spandeer omtrent 'n uur om kos te maak, net sodat jy 2 ure kan skoonmaak. Dis psigies uitmergelend om te dink hoe jy moet skrop, skuur, spoel en afdroog en niks kan jou behoorlik voorberei vir die vuil pot wat op een of ander duistere manier net so op die stoof bly staan het nie.

Jou rug is seer, die sweet tap jou af en jy het 10 dode gesterf vir die nat kos wat in die wasbak agtergebly het, dis ok om te erken dat jy die pot in die oond wou wegsteek of hom selfs weggooi. As jy dit nie kan sien nie, is dit nie 'n probleem nie. Weet net dat jy weer die pot sal nodig hê en hoe langer jy dit los, hoe erger sal dit word. Jy is nie alleen nie (wel, in jou kombuis is jy, ek en my ma suffer saam) 


Sterk staan kollegas

Monday, 30 March 2020

Huiskluis Dag 4

So ek het vandag besef hoe moeilik dit gaan wees om elke dag te blog en iets interessants te hê om te sê. Ek het tot dusver agtergekom dat ek 'n paar walglike gewoontes het in die tyd. 
Ek het dinge om te doen en ek het elke intensie om dit klaar te kry, maar ek is swak. Netflix en Showmax hipnotiseer my. Geen advertensies nie en ons internet is vinniger so ek kan net aanhou kyk en kyk en flippen kyk. Ek is 'n swakkeling! Saam met al die kyk is daar nog 'n pro(e)bleem. 
Iemand van my grootte moet juis probeer om meer te beweeg, maar ek vermy dit soos die pes. Nie aspris nie (ek dink?). Ek weet hulle het gesê moet nie onnodiglik uit die erf uit kom nie. Ek het so aandagtig geluister dat ek nie eers uit my kamer uit wil kom nie!
Dis 'n absolute leuen. Ek kom uit die kamer uit maar die vreemdste ding gebeur. Elke keer wat ek terugkom, eet ek, as ek nie eet nie dink ek aan eet. Nou sê ek maar 'n rympie op: jy's nie honger nie, jy's net verveeld! 
Dit help effens dat ons amper nooit winkel toe gaan nie. Niks se geryery vir dietjies en daaitjies wat rolle verdubbel nie. Ek sal nie toelaat dat Corona veroorsaak dat ek uitsit soos 'n deegrolletjie nie.
Ons probeer nou om gesonder te eet en stysel en suiker bietjie uit te sny. In Lockdown. Met 2 ander mense wat nie dieselfde doen nie. In ons erf. Vir nog 17 lang dae. Die uitkoms van hierdie situasie is nog onbepaald. As almal saamwerk en ek drink my medikasie soos voorgeskryf sal ons hopenlik ok wees. 

Sunday, 29 March 2020

Huiskluis Dag 3

Een van die eerste lesse wat ek geleer het as 'n "grootmens" is dat die nie meer gaan oor wat jy wil doen nie, maar wat jy moet doen.

My ma het my vriendelik forseer om elke aand 7u Last Post te speel. Iemand het op Facebook geskryf dat mens elke aand 7u musiek moet speel of geraas maak om dankie te sê vir die mense wat in hierdie tyd werk.

Ek kan nog speel. Hier en daar klink my note so onstabiel soos die geldeenheid, maar ek kry dit gespeel. My lippe is natuurlik seer en as ek dink aan my orkesdae is dit sommer vernederend. Ek kon daai dae vir ure en ure speel en nou sukkel ek na 2 minute... Dit is seker nou die perfekte tyd om weer trompet te oefen. Ek is net jammer vir die mense om my. Want hulle is definetief ten alle tye by die huis om my geraas te hoor.

My ma wil graag hê ek moet dit doen, so ek sal. 'n Klein deel van my is bang dat 'n buurman moeg raak daarvoor en my met klippe begin gooi. So ek staan net buite die voordeur, vir veiligheid en volume.

Die sosiale media platforms is oortrek met videos van weermaglede wat mense oor die vingers tik en huistoe jaag. Een van my gunstelinge, wys hoe mense huistoe rol begelei deur 'n weermaglid. Hulle raak ook seker verveeld? Nog ene wys hoe drankbottels op straat uitgegooi word terwyl die oortreders leepoog kyk hoe word hulle dop vinnig op.

Ek ondersteun nie drank mors nie, maar wat kan hulle doen? Die president het aangekondig dat ons 21 dae by die huis moet bly, net 3 weke. Is dit rerig te moeilik? En hy het dit nie gedoen om ons te irriteer of te ontstel nie. Sy intensie is om die verspreiding te voorkom. Dit is mense se reaksies wat die probleem skep.

Niemand van ons wil 21 dae tuis bly nie. Ok, ek wil, want mense. Dis steeds nie lekker om te weet dat ek nie net kan ry as ek wil nie. Tog gehoorsaam ek en my gesin dit terwyl ander mense vra of hulle met hulle honde mag gaan stap. Het hulle dan 'n ander aankondiging gekyk? Op 'n ander SABC? Het die gebaretaal tolk iewers 'n fout gemaak wat julle koppies deurmekaar gemaak het? Julle is seker die tipe mense wat in 'n besige parkeerarea daarop aandring om by 'n plek in te reverse..

Ons doen wat ons moet doen om te verseker dat die lockdown nie meer as 3 weke gaan vat nie. Want die lewe moet aangaan soos wat debietorders maandeliks sonder twyfel afgaan.

So haal asem, hardloop sirkels in jou tuin as jy moet. Maar asseblief mense. Bly net by die huis. Ek trou in Mei so as ons hierdie proses kan aanhelp sal ek bly wees. 

Saturday, 28 March 2020

Huiskluis Dag 2


60 jaar gelede het Marianette Pretorius die wêreld ingekom. Gelukkige mense ken haar en geseënde mense noem haar familie. Ten spyte van die huiskluis situasie wou ek seker maak sy weet hoe spesiaal sy is.

Sy het tee in die bed ontvang. 'n Nuwe pienk een met die woorde 'HOME SWEET HOME' op. Dit het gepas gevoel want dis naweek, dis lockdown EN sy het afgetree. Sommer alles gelyk.

Almal was so besig om toiletpapier en seep te koop dat ek in vrede kon soek vir oulike versierings. Ek het gemik vir pienk, blink en blomme. Dit was nie eintlik nodig om veel te koop nie. Nana het baie pienk en blink.


Die eetkamer was vol linte, kristalletjies, blomme, sambreeltjies en daai walglike vislyn goed. Haar reaksie was die moeite en vloeksels werd. Sy het die trappe afgekom, uitgetooi in 'n kroon en 'n birthday-sash.



Al wat sy kon uitkry is "wooooooooow" terwyl sy heen een weer al die pienk, blink en blomgoed inneem. Die perskonferensie het goed gegaan op Facebook. Sy het die massas aangespreek met 'n glasie Franse sjampagne en 'n heildronk van formaat.


Na 'n smaaklike ontbyt braai het ons gesit om geskenke oop te maak. Met 'n massiewe glimlag was dit tyd om te rus. Ons het moontlik te veel geëet...


My ouma het natuurlik 'n verjaarsdagkoek gebak wat my ma altyd sal onthou; 'n pienk olifant met 'n 6 en 'n 0 in sy oortjies. Sy het so 'n gilletjie laat ontsnap voor die volgende oproep deurgekom het. Dit lyk my mense is lief vir haar, slim mense!



Ons aand het begin met 'n Charl du Plessis huiskonsert soos wat ons van koek en tee oorgeslaan het na Gin and T cause she's 60.

Geen aantal versierings of geskenke sal ooit kan genoeg wees om te wys hoe belangrik sy vir ons is nie.

Al my liefde


Friday, 27 March 2020

Huiskluis: Dag 1

Dis 'n eienaardige gevoel om te weet ek gee les en ek sit nog in my pajamabroek. Maar my kinders het hulle lesse nodig (eintlik almal ongelooflik slim).
So ek slaan die laptop oop en wag vir die internet om saam te speel. Eindelik video-call ek my jongste. Toe ek myself op die skerm sien moes ek gou my hare oortuig om te lyk of ek nie nou net wakker geword het nie.
Hy antwoord en ek sien net sy ogies en sy voorkop uitsteek. Dit laat my dink aan 'n kleintjie wat op sy tone oor 'n toonbank loer. Ons begin en dit gaan goed. Ek het selfs 'n A4 skryfbord aan die gang. Want om vir 'n derde taal spreker Afrikaans woorde te spel in Engels is onnodige frustrasie.
Tyd vir my volgende student. Ons gesels nog so en die Wi-Fi "drop" en daar vries ek😁 die skerm wys hoe ek in die middel van 'n hap beskuit is. Boonop dit lyk my oë of hulle gekalibreer moet word.
Die vries-episode is verby en nou is ons uit sync uit en ek praat en sy praat en ons sê gelyk die ander een moet praat en so gaan die ongemaklikheid voort. Selfs in isolasie werk ek my sosiale onbevoegdheid in.
Met al my kids kom ek agter dat hulle nie heeltemaal gewoont is aan die videocall situasie nie. Elke nou en dan sien ek hoe hulle tong uitsteek of snaakse gesiggies trek tot hulle die vraagteken op my gesig sien en 'n benoude giggel gee en weer konsentreer.
Ek weet ons sit in 'n uitdagende situasie maar ek kan nie kla nie. My studente doen hulle huiswerk en nog meer, hulle ouers is ondersteunend en ten spyte van alles probeer hulle 'n gemaklike routine onderhou wat vir die kids genoeg tyd vir ontspan en werk gee.
Ek hoop net die ander ouers sal ook probeer om hulle kinders te herinner dat daar 'n lewe na lockdown is en dat die skole een of ander tyd weer sal open en dat lees en skryf steeds 'n vereiste is. 

Saturday, 4 November 2017

November

Beplanning was nog nooit my sterkste eienskap nie.

Honneurs impliseer dat jy nie eers tyd het om te beplan nie. Jy moet net skryf, ingee, aanbied, huil (nie te lank nie), sosiaal verkeer met 'n vertrek vol mense wat almal slimmer is as jy en oor die algemeen maak of alles ok is.

Nog 'n taak wat ek aangepak het is om gewig te verloor en gesonder te lewe. Soos ek gesê het, my timing? Impeccable.


Aan die begin was ek suksesvol in my poging. Ek het my kos geweeg, my kalorieë getel, my steps ingekry EN geskryf oor die hele ding...

Intussen was daar 'n aanbieding oor my navorsing - my keel is sommer van voor af droog soos nataniël se grappies. Ek het 400 opdragte gehad wat toevalling almal gelyk ingehandig moes word (sommiges bietjie laat, ander net gewone laat en 2 BAIE laat)

In my huis maak ek die kos. Party beskou dit as 'n straf maar ek geniet dit. Dis my manier om die dag te verwerk en myself geestelik voor te berei om weer te werk. Ek skakel die radio aan en ek sing.. Nee, ek perform vir die kombuis. 

Die kastrolle klap hande, die vurke fluit en die stoof gee sommer 'n standing ovation (hoewel hy soms warm onder die kraag word)

In hierdie vreesaanjaende tydperk van take en ineenstortings het ek my kosmaak roetine gestaak vir 'n wyle. Daarmee saam het ek onbeskryflik min omgegee oor my eetgewoontes en my oefensessies.

Ek kon aan my lyf voel dat ek weer so moeg word en oor die algemeen met 'n ou heliumballon vergelyk kan word (pap en useless). Ek het verkeerd geëet, ja. Wat dit anders maak as al my vorige mislukte pogings, is dat ek ten minste gestop het en weer my eetplan begin volg het.

Vir my is dit 'n oorwinning op sy eie. Gewoonlik sou ek die leë redinasie volg dat ek reeds verkeerd eet, so ek kan maar net aanhou. Dis die grootste fout wat ek kon begaan. Deur 2 of 3 keer verkeerd te eet sal al jou vordering nie verlore gaan nie.

Wanneer jy van die spoor aftuimel en jou val word gebreek deur 'n Tinkie of 'n pakkie chips, dis ok. Die belangrikste is dat jy moet opstaan met die hulp van jou low cal kierie (ek weet nie, ek wou die kos metafoor aan die gang hou) en aanbeweeg.

Jou houding bepaal jou vordering. Ek dink jy kan dit seker toepas op meeste dinge wat jy wil aanpak of voltooi. My motto vir die jaar is meestal "ek moet ok wees, ek het nie 'n keuse nie" dit klink dalk negatief maar dit motiveer my genoeg om nie paniekerig te raak nie. (Ek lieg, ek drink pink pilletjies wat my kalmeer en ek maak almal om my mal met my buie wat soos die geldeenhede rondrits, ek sou sê dit gaan verander maar ek moenie op skrif lieg nie) plus, studies is duur en ek is nie bereid om aan enigiemand te verduidelik dat ek opgegee het nie. 

Dis November, die einde is in sig
Ek sal die jaar oorleef en 2018 instap met 'n bietjie minder ekstra gewig