Die balans in my huis is baie delikaat en ons is so eweredig versprei soos kaneel op 'n melktertjie. My broer is min te sien. Hy kom uit om te eet en om nou en dan 'n hond te irriteer. Hy is nou deel van die online gaming wêreld.
As ek verby sy kamer beweeg hoor ek net 'n geskiet, musiek of hoe hy al laggend gesels. Gelukkig het hy bevestig dat hy met die ander lewendige gamers praat. As ek daar moes inloop en sien hoe hy small-talk maak met homself sou ek net retireer. Niemand van ons het nou die krag vir die admin van 'n ineenstorting nie en ek is verveeld, maar nie verveeld genoeg om 'n kamer met sagte mure op te rig nie.
My verloofde slyp 'n mes, kyk 'n Russiese tv-reeks en speel ook games op sy playstation 2 nogal. Hy kom elke nou en dan na my toe om 'n soen te steel of net te vra of ek nog ok is. Nou en dan raak hy vreemd. Hy sal koud kry so dan moet ek 'n baadjie aantrek. Ek dink nie ek sal ooit daai dinamika verstaan nie. He means well.
Ek is besig met 'n aanlyn kursus sodat ek Engels op skype kan aanbied. Sodra my brein nie meer wil nie is daar tekens. Ek sal besig wees om iets eenvoudig te skryf soos "Methodology" maar as ek weer kyk staan daar Methodologoloy. Dan gee ek in en kyk 'n paar episodes van iets op Showmax. Ek kyk op hierdie stadium so baie verskillende reekse dat ek nie met sekerheid kan sê wat presies aangaan nie.
Ek dink dis net kans vir my brein om brabbeltaal te praat tot ek weer ordentlik kan skryf. Ek "sien" darem nog my kiddies op Hangouts en Skype. So ek is darem nog so bietjie produktief, in my pajamabroek. My PJ pants do not influence my smarty pants (ja, ek maak nou daai jokes, send help)
My ma binge watch series op Netflix. Sy is so tevrede. Ek het al in Januarie 'n laptop op 'n rak met speakers (want sy is nou 'n afgetrede) opgeslaan toe sy 'n beentjie in haar voet gebreek het.
Sy voel nog skuldig as sy die hele dag lank net series of flieks kyk en ek sien nou vir die eerste keer hoe my ma leer om te chill. In die geval Netflix and chill, literally. Miskien was die huiskluis situasie 'n manier om haar te forseer om net te ontspan. She truly does deserve it.
Ek het vandag haar reaksie aanskou toe sy besef haar reeks, The Crown is verby. Ons almal ken daai leë gevoel. Maar, wat gebeur volgende? Wat gaan ek nou met my lewe doen? Gelukkig het sy vinnig iets anders gekry om te kyk toe daai "You might also like" skakel opkom.
Ons maak darem nog tyd vir mekaar. Ons kyk nou en dan saam 'n fliek of as iemand verveeld voel sal hulle en die res van die huis in jou klein kamer inbars en geselsies maak. Ek is definetief dankbaar dat ek saam my mense en my diere is, life would be so very dull without them.
Hiermee bedank ek ons Wi-Fi en die konsep van "uncapped" sonder jou het my gesinnetjie dalk 'n ander storie gehad. Paul sou met homself gepraat het, Wernu sou waarskynlik steeds 'n mes geslyp het (klink soos die begin van 'n traumatiserende tv-reeks). Ek sou leer stryk het... NOT 😂 en my ma sou waarskynlik vir ons almal weggekruip het en self-isolate in haar kar met 'n boek en 'n fles vol tee.