My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Wednesday, 15 April 2020

Huiskluis Dag 20

Daar is niks so lekker soos om op 'n bed te val met skoon beddegoed op nie. Ek het onlangs 'n probleem met beddegoed ontwikkel. Jy is eers angstig om die linnekas oop te maak want jy moet altyd iets oplig om by jou goed uit te kom.
Die duvet cover, laken en kussingslope is alles maklik om te kry, tot jy die paslaken soek. Die manier wat ons paslakens opgevou word, maak dit redelik moeilik om te bepaal of dit 'n laken of 'n paslaken is.
My probleme met paslakens is eenvoudig. Eerstens, ek wil hulle nie opvou nie en hulle wil nie opgevou word nie. THEY HAVE NO MASTERS. Tweedens, om 'n paslaken op te sit is 'n pynlike aksie as jy te lank vat om agter te kom dis die verkeerde flippen grootte. Nog erger as jy die ding verkeerde kant om probeer opsit. Dis genoeg om jou mal te maak.
Nou is die paslaken op. Jy is so uitgeput en ongeduldig dat jy die laken so effentjies oorslinger. Nou vir die kern van die probleem. Die duvet cover. Ek weet nie hoe doen Lettie dit so vinnig nie. Ek het die fout gemaak om uit te stap terwyl Wernu alleen met die beddegoed gelaat is.
Kort voor lank kom ek terug en Wernu dra die duvetcover. Handjies in die hoeke loop hy die gang af. Ek moes die punte van die duvet op die grond neersit sodat hy dit kon vat en inskuif. (Ek weet eintlik hoe om die bed skoon oor te trek, maar die man wou help.) Na 'n vreemde gewriemel was alles weer in plek. Die bed is gelukkig skoon oorgetrek!
My ma het baie opgewonde vir my vertel dat sy 'n afspraak met die ortopeed het. Dit impliseer natuurlik dat sy uit die huis uit mag gaan en verder as Spar ry met 'n huiskluis vrywaringsbriefie. Sy is kinderlik opgewonde en ék is jaloers!

Tuesday, 14 April 2020

Huiskluis Dag 19

In my huis is daar 'n kombuis. In my kombuis is daar 'n wasbak. In my wasbak is daar 'n pot. Hierdie pot beset al 'n paar dae die wasbak. Nie omdat ons lui is nie. Die pot het bietjie, seergekry sal ek sê. Die omstandighede rondom die brandwonde is irrelevant.

Ek het gedink as die pot 'n dag lank soak in asyn, JIK, growwe sout en seep dat dit sal regkom. Dit het nie. Ek het kookwater ingegooi, geskrop, geskuur, geskel en bietjie gehuil, NIKS. Ons staan by Dag 5 met die pot.

Ek het nou al elke dag soos 'n opgewonde kindjie die deksel opgepluk om te kyk of daar al vordering is. Bietjies-bietjies ja... My ongeduld was nie tevrede nie.

'n Deel van my het geredeneer dat dit net makliker gaan wees om 'n nuwe pot te koop, maar dan moet ek 'n nuwe stel koop. My ma se huis werk in stelle, so as ek nou musical pots speel met een van haar AMC potte gaan ek sleg tweede kom.

So vanaand het ek soos 'n classy sangoma weer 'n mengsel aanmekaar geklap en soos wat ek tik hoop ek dit werk. Hierdie pot moet uit die wasbak uit kom. Die ander goed ook, maar meestal die flippen pot. Send help. 

Monday, 13 April 2020

Huiskluis Dag 18

Is die eier drinkery 'n vreemde tema ding vir paasfees? Ek probeer net verstaan. Ek veroordeel glad nie. Ek kan sien hoe mense met mekaar connect en alles, maar daar is ander maniere.

Hierdie een is dalk skokkend.... Bel hulle nommer, praat met hulle, hoor hoe dit gaan SONDER om 'n rou eier af te gorrel. As iemand wat my ken my moes nomineer vir die storie sou ek die vriendskap beskou as afgehandel.

Is ons sosiaal so afgestomp dat ons eerder rou eiers sal sluk voor ons mense bel? 'n Deel van my wil sê ja, want ek haat dit om op die foon te praat as mense my nie ken vir my awkwardness nie. Hoe gaan iemand my humor verstaan as hulle nie my gesigsuitdrukkings of my emoticons sien nie? Ek weet almal wil saam 'n dop drink en ek respekteer dit. Slaan 'n laptop oop en doen 'n Skype Sundowner? Of 'n videocall wyn? Daar is soveel opsies wat nie rou eier in het nie.

Ek het gaan Google en gelees dat daar 'n drink is met 'n rou eier, Tabasco en whiskey. Mens noem dit 'n Amber Moon. Ek kan nie help om te wonder hoe die drankie uitgedink is nie? Het 'n dronkie probeer om vir hom 'n eiertjie te bak met Tabasco, vergeet om die plaat aan te sit en dit maar net anyway verorber en afgesluk met 'n Johnny Walker?

"Tamagozake (卵酒 or 玉子酒) is a drink consisting of heated sake, sugar and a raw egg. It translates as "egg sake", being made of the kanji 卵 tamago (egg) and 酒 sake" So dis wat mens in Japan kan drink. Terloops, sake word gemaak van gefermenteerde rys. Just for interest sakes (Ek is jammer, my pun jokes moet iewers ontsnap). 

Almal is maar effe verveeld. Sluk maar die eier saam met jou vriende as jy 'n bok vir sports is. En sê net nee as jy nie wil nie, man. Wat gaan hulle doen? Jou kom dwing?

P.S. Ek ondersteun glad nie daai een oom wat 10 eiers in 'n Lagerglas gesluk het nie en ek wil nie eers praat oor die een wat 'n bottel Stroh Rum gedown het nie. Daar is groot fout. 

Sunday, 12 April 2020

Huiskluis Dag 17

As ek nie oor Coenie droom nie, sukkel ek my dood om te slaap! Ek het 'n meditasie geluister en gewoonlik werk dit goed vir my en ek slaap al voor ek my oorfone op die bedkassie kan probeer sit, net sodat ek dit laat val saam met 'n coaster, lipice, 'n naelvyl en my pillehouertjie.

Ek dink ek het die verkeerde stemmetjie geluister. Die Australiër het geklink of hy herstel van 'n ernstige neusbesering en 'n babelas. Na ek vrede gemaak het met die onsuksesvolle poging het ek net probeer asemhaal. "In by die neus, uit by die mond...." help glad nie. Dit het net gevoel of ek een van daai mense in die winkel is wat ek vermy of wil aanrand. Mouth-breathers... Ek draai omtrent 27 keer om, klap my kussing rond en kung fu kick my laken dat ek wil horries kry. Ek gaan drink 'n glas water en probeer weer.

Nou skyn daar liggies. Liggies waaraan ek nie gewoont is nie. Die Wi-Fi repeater is nou in my kamer so ek gaan nie eers poog om daaroor te kla nie. I'll get over it. Ek lê nog so en ek hoor iets. 'n Getik? 'n Geskarrel???? Ek kry onaangename terugflitse van November 2019.

Daar was 'n rot in my huis. Ek het dadelik gedink dat die rot se spook teruggekom het soos daai halstarrige pop, Chucky. Ek weet nie of ek in lockdown sal kan showdown met 'n ongenooide gas nie. Ek staan op en skyn my foon se flits op die gordyne om te kyk of iets van die gordyn af gaan spring. Niks. Ek loer soos 'n absolute huisvrou by die venster uit en ek weet nie of ek 'n meerkat op 'n tikmasjien verwag het nie, maar nou ja. Dit was toe 'n release-pyp van die geyser. Dis blykbaar heel normaal dat die ding nou en dan drup om van drukking ontslae te raak.

Ek lê weer en dis vir 'n rukkie stil. So ek neem toe aan ek het al die klankraaisels opgelos en my prys is om te kan slaap. HA. Nog nie.

Ek het vir 'n oomblik gedink ek het my kop verloor. Ek was eers teleurgesteld, hoe sal dit nou lyk as my lockdown survivor vlammetjie op dag 17 versmoor word?

Ek hoor die afgelope paar dae elke nou en dan 'n noot wat klink of dit dalk 'n kazoo kan wees? Gevolg deur 'n Chinese gong. Mens sou sweer ek is in 'n slegte Chinese aksie-fliek waar jy sien hoe die monde beweeg en 2 minute later hoor jy eers die oordrewe dialoog.

Die ergste is, ek weet nog steeds nie wat of wie dit is nie. As ek weet wat dit is sal ek vrede kan hê oor die nuuskierigheid. As ek weet wie dit is sal ek weet waarheen om die trompet te mik as ek die kazoo gong wil antwoord met 'n oorverdowende vuvuzela solo, aangesien ons nou onbeskof wil raak.

Gelukkig weet ek definetief die klank bestaan. Mense op die PvR groep het daaroor gevra. Daaroor is ek nog dankbaar. My survivor vlammetjie brand nog sterk. 

Saturday, 11 April 2020

Huiskluis Dag 16

Ek is nou besig met 'n TEFL kursus sodat ek aanlyn kan Engels gee vir 'n ekstra inkomste. Daar is vyf modules en onmenslik baie hoofstukke maar dit is gelukkig eenvoudige teorie waarmee ek al gemaklik is.

Dalk te gemaklik. Jy weet as jy iets al so baie gedoen het dat jy nie meer daaraan dink nie? Ek voel soms so oor bestuur. Toe ek destyds vir my leerlinglisensie moes leer was dit asof ek nog nooit in 'n kar was nie. Ek het geswot soos 'n flippen boekwurm!

Dit voel nou weer so. Ek het darem al 'n paar dinge geleer en 'n paar ander besef. Ek het geleer dat die onderwerpe waaroor ek en my studente soms praat beskou word as waaghalsig en, soos die kursus nota sê "... should rather be avoided." Dis nou bietjie laat. Gelukkig het ek nooit voorgegee dat ek presies in die lyne sal- of nie sal trap nie. Dit hou dinge interessant. Tot jy 'n ouer in die gesig vat. Dan sit jy maar jou foon op silent en hoop hulle weet nie waar jy bly nie. 

Ek het besef dat ek baie van die onderrig tegnieke al lankal toepas. Daarop is ek nogal trots. Ek dink tog van my metodes werk vir van my studente. Dit bly die beste gevoel om te sien hoe 'n kind presies begryp wat jy verduidelik. As ek wiskunde moes gee het ek waarskynlik nooit daai gevoel ervaar nie.

Dit was nou definetief nie die interessantste dag van my lockdown nie... 

Ek wens eintlik dat ek nog in die paashaas geglo het. Kan julle net dink hoe prettig dit sou wees as grootmense net die plot verloor en kinders wakker raas soos wat hulle in hulle pajamas na sjokolade in die tuin soek? Dit sou nou 'n lekker stukkie gewees het om te skryf. "Pa's hase" "Ma hop met haar curler kop" "Ouma konyn steel die paaseiers na 'n bottel soetwyn" 

Friday, 10 April 2020

Huiskluis Dag 15

My aanvanklike reaksie op die verlenging was meestal om stil te wees en inwendig histeries te lag soos die Joker in Dark Knight toe hy sien hoe die hospitaal ontplof. Maar dit is nou die feite. Ons het alles wat ons nodig het en nog meer, so dit gaan eintlik nog ok. 

Laasnag het ek gedroom. My drome is gewoonlik vreemd genoeg dat ek weet dit gebeur nie werklik nie maar hierdie nagmerrie het so werklik gevoel soos President Rhamaposa se aankondiginkie...

Ek het in hierdie walglike scenario wakkergeword. Ek lê in my bed en alles lyk soos dit moet. My ma bars in en gil dat ek moet vinnig maak en dit voel of ek weer op skool is. Ek kry nie kans om te vra "vir wat?“ nie.

Ek staan maar op en ek sien my trourok teen my kas en ek trek dit aan. Ek weet ek was confused oor die hele aksie want ek het my ma gevra wat die datum is terwyl sy my helse kop deur die rok probeer pas. Toe ek klaar aangetrek is wag ek vir my ma se reaksie om te sê "my enigste dogter trou...." of so iets.

Sy het net vir my gekyk en 'n vreemde gesig getrek. Verbouereerd storm ek spieël toe. Dis geel. Soos in gal geel. Met goue diamante goedjies bo-oor sulke netting wat my vreeslik laat uitslaan. My vel is so lig dat die rooi kolle mos nou netjies uitstaan saam met die geel. Dit lyk of wimpy tamatiesous en mostert in my vel ingewas is.

Wanneer ek af kyk lyk die kleur reg. In die spieël bly dit flippen geel soos daai een Teletubbie! Ek wil nog kerm dat dit nie sin maak nie toe moes ek sit vir my hare. Hulle spuit en klits en tease en krul 'n ding los dat dit lyk of ek 'n nes op my kop het. My ma se grimering word gedoen en sy vra waar is my grimeerkunstenaar. Blykbaar mag ek nie hare vra om myne te doen nie.

Ek probeer myne bel en sy sê so ewe laggend sy kom nie en sy het vergeet om te laat weet. So ek moes my eie grimering doen. Dis fine. Dis ok. Ek kan grimering doen. In die droom besluit ek natuurlik dis die perfekte dag om cleopatra cat eyes te probeer met 'n whiteboardmarker en blou oogskadu

So ek lyk teen die tyd soos 'n dronk raccoon wat aangetrek is soos Amy Winehouse. My gal geel rok is vol makeup en my ma sê niemand sal sien nie... Ek sit in die kar met wit plakkies aan en ons ry. Ons stop by 'n publieke park waar mense staan met geel hazmat suits en gasmaskers.

My ma sê ewe trots sy het gedink dis 'n oulike tema... Ek sê niks terug nie want daar is nie genoeg woorde om te beskryf wat ek dink nie. Ek het al blou en swart strepe teen my wange afgesweet en ek sien op die termostaat dis 43 grade.

My fotograaf stuur 'n whatsapp en sê sy weet nie of sy dit gaan maak nie, hulle kuier by vriende. Selfoon foto's sal maar moet werk. Almal sit. Ek sien niemand van die bridal party nie en ek stap maar alleen deur sulke plastiekgordyn ding wat mens gewoonlik by die slaghuis sien.

Wernu staan nie daar voor nie. Die dominee draai om, dis Coenie De Villiers en alles stop. Ek is so bemoerd toe ek wakker word dat ek nie weet hoe ek dit met myself het nie. Van alle flippen mense..... COENIE!?

Thursday, 9 April 2020

Huiskluis Dag 14

Ek wou sê daar is twee weke "net so" verby, maar ek gaan nie. My lesse gaan goed aan, amper te goed. Ek het 'n Zoom sessie gehad met my Naledi-groep, 'n ruk later het ek my volgende student gesien op Google Hangouts en toe gaan ons oor die tyd.

My liewe Anu is altyd betyds op tyd. So op die een skerm het ek nog probeer om my student te groet toe begin die Skype, presies 3 uur, op my foon en op die laptop daai walglike deuntjie speel van iemand wat bel. Eintlik wou ek net die Wi-Fi router afsit en vir almal skree "ONS IS TOE!" Ek het eintlik gehoop daar is 'n blaaskans want my linkerboud was net mooi dood!

Gehoorsaam bly ek maar sit om die les aan te bied. Ons het eers 'n pynlike rondte charades gespeel want sy kon my nie hoor nie. Ek wil natuurlik net harder praat want as ons soos gewoonlik by haar lessenaar was sou dit gewerk het. Skype gooi net so 'n verspotte uitroepteken met die woorde "Audio unavailable"... Dankie tjom... Ek het dit agtergekom toe sy sê sy hoor my nie. Gee vir my 'n selfoon om te ontsyfer maar gee asseblief net 'n laptop wat werk. My geduld is beperk...

Iewers begin 'n mens met 'n hoekslyper (dis 'n angle grinder in Afrikaans) werk tot my en my student se ontevredenheid. Ek ontsnap vinnig en kry my oorfone. Ek het nou al geleer dat die speakers nie so lekker werk op die verskillende platforms nie, of is dit nou hulle mikrofone? Ag, ek weet nie meer nie.

Ek en my ma het gesels oor mr hoekslyper. Dit was snaaks genoeg 'n positiewe gesprek. Ons het tot die slotsom gekom dat die geraas vir ons aandui dat daar nog lewe daar buite is. Ons vind nou vertroosting in die skrilklanke van 'n hoekslyper.

Almal wag in spanning om iewers uit te vind of die lockdown verleng gaan word. Ek wonder meestal of ek nog skryfmateriaal sal hê as ons 'n wyle langer by die huis gaan moet wees.

My gesin is eienaardig en alles maar wat as daar te min vreemd is om oor te skryf? Ek sal dalk met 'n kampstoel, Gin en 'n verkyker op die dak sit en hoop vir drawwertjies dat ek my eie vreemd kan skep.