My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Thursday, 9 April 2020

Huiskluis Dag 14

Ek wou sê daar is twee weke "net so" verby, maar ek gaan nie. My lesse gaan goed aan, amper te goed. Ek het 'n Zoom sessie gehad met my Naledi-groep, 'n ruk later het ek my volgende student gesien op Google Hangouts en toe gaan ons oor die tyd.

My liewe Anu is altyd betyds op tyd. So op die een skerm het ek nog probeer om my student te groet toe begin die Skype, presies 3 uur, op my foon en op die laptop daai walglike deuntjie speel van iemand wat bel. Eintlik wou ek net die Wi-Fi router afsit en vir almal skree "ONS IS TOE!" Ek het eintlik gehoop daar is 'n blaaskans want my linkerboud was net mooi dood!

Gehoorsaam bly ek maar sit om die les aan te bied. Ons het eers 'n pynlike rondte charades gespeel want sy kon my nie hoor nie. Ek wil natuurlik net harder praat want as ons soos gewoonlik by haar lessenaar was sou dit gewerk het. Skype gooi net so 'n verspotte uitroepteken met die woorde "Audio unavailable"... Dankie tjom... Ek het dit agtergekom toe sy sê sy hoor my nie. Gee vir my 'n selfoon om te ontsyfer maar gee asseblief net 'n laptop wat werk. My geduld is beperk...

Iewers begin 'n mens met 'n hoekslyper (dis 'n angle grinder in Afrikaans) werk tot my en my student se ontevredenheid. Ek ontsnap vinnig en kry my oorfone. Ek het nou al geleer dat die speakers nie so lekker werk op die verskillende platforms nie, of is dit nou hulle mikrofone? Ag, ek weet nie meer nie.

Ek en my ma het gesels oor mr hoekslyper. Dit was snaaks genoeg 'n positiewe gesprek. Ons het tot die slotsom gekom dat die geraas vir ons aandui dat daar nog lewe daar buite is. Ons vind nou vertroosting in die skrilklanke van 'n hoekslyper.

Almal wag in spanning om iewers uit te vind of die lockdown verleng gaan word. Ek wonder meestal of ek nog skryfmateriaal sal hê as ons 'n wyle langer by die huis gaan moet wees.

My gesin is eienaardig en alles maar wat as daar te min vreemd is om oor te skryf? Ek sal dalk met 'n kampstoel, Gin en 'n verkyker op die dak sit en hoop vir drawwertjies dat ek my eie vreemd kan skep. 

No comments:

Post a Comment