Ek weet nie of dit net ek is wat hierdie vreemdhede ervaar nie. Ek is oor die algemeen geneig om vreemde goed te doen, maar meeste van die tyd aanskou mens die situasies een op 'n slag. Vanoggend het ek dit sommer vinnig verander. Ons het gistraand ribs en chips geëet. Daar was te veel kos, so natuurlik het ons leftovers. Toe ek by die huis kom, sien ek die woefkardoes vol drome. Ek maak dit oop en eet 'n paar stukkies. Nie 'n maaltyd nie, eerder daai snacking wat mens doen terwyl jy aimlessly rondkyk in die kombuis.
Soos julle weet, eet ribs nie "mooi" nie. So ek het basies gelyk soos 'n kind aan die einde van 'n verjaarsdagpartytjie. Ons is besig met opknappings in en om die huis so daar is gereeld mense hier, besig om kwotasies vir goed te gee. Ek het natuurlik vergeet van vanoggend se kandidaat wat na die kaste kom kyk.
Verbeel jou, ek staan met taai hande, 'n blink gesiggie en 'n bakkie ribs voor my. Toe ek besef my ma is nie alleen nie was dit te laat. Ons kombuis het nie 'n geheime uitgang waar ek kon skuil nie. Boonop dit, sit my ma die ligte aan "om beter te sien, my kind."
Ek gryp die beentjies, slaan die bak toe en loop soos 'n slegte zombie met my arms horisontaal voor my uit. Ek gooi die bene weg en probeer my gesig wegsteek soos Phantom of the Opera. Die man was erg ordentlik. Shame...
Na ek my gesig gewas het, bel Wernu en vra dat ek die hek vir hom oopmaak. Hy het 40km gaan fiets ry, so hy is effens moeg. Terwyl ek hardop wonder wat die kasman dink stap ek uit en wag buite die hek vir hom. Ek het gedink hy sou binne 2 min hier wees. Toe nie. My ma en die kas man kom uit om samples in sy kar te kry. Great. Eers vreet ek soos 'n raccoon in die kombuis en nou lyk ek soos 'n dodgy karwag. Living the dream.
My ma het ewe grappig gesê ek is 'n vreemde kind maar ons was almal bewus van die feit dat sy effens bekommerd is oor my besluitnemingsvermoë vanmôre. Hulle gaan weer in en ek sit en wonder hoekom ek vandag is soos ek is. Daar begin ek giggel. 'n Familie stap verby en wonder sekerlik hoe lank ek in die son gesit het om so te wees.
Wernu stop met lam bene 'n bleek gesiggie. Hy storm in en maak spore stort toe en ek stap by die kombuis in om na die samples te kyk. Dit was nie 2 sekondes nie toe begin ek soos 'n stoute kind in die kerk giggel en ek probeer my bes om op te hou. Ek knyp my duime, krap aan my arm en ek lag net harder. My oë traan en ek kon nie eers vir my ma sê ek hou die meeste van die "Shale Oak" nie. Ek trippel af om vir die pupper oop te maak, dis naptime! Daar aangekom sien ek die verwer wat nog die hele tyd op die stoep besig is met sy werk. So hy het gesien hoe gesels ek met myself op pad hek toe... Verbeel ek my of gee hy my 'n simpatieke kyk. Ek retireer in my kamer in en lag in stilte dat my mascara begin wegloop.
Toe ek kalmeer sit ek regop. Ek was met goeie intensies op pad na my ma toe, maar sy het vraend omgekyk en gewonder wat met my aangaan. Toe val ek terug en begin van voor af lag. So hierdie kasman het gesien hoe ek soos 'n wilde dier eet, in die son sit voor my huis en nou hoor hy hoe ek histeries in my kamer lag. Ek wil net vir hom sê ek is rerig nie altyd so nie, maar dalk kry hy my jammer en gee vir ons afslag.