My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Saturday, 22 August 2020

It's not what it looks like

Ek weet nie of dit net ek is wat hierdie vreemdhede ervaar nie. Ek is oor die algemeen geneig om vreemde goed te doen, maar meeste van die tyd aanskou mens die situasies een op 'n slag. Vanoggend het ek dit sommer vinnig verander. Ons het gistraand ribs en chips geëet. Daar was te veel kos, so natuurlik het ons leftovers. Toe ek by die huis kom, sien ek die woefkardoes vol drome. Ek maak dit oop en eet 'n paar stukkies. Nie 'n maaltyd nie, eerder daai snacking wat mens doen terwyl jy aimlessly rondkyk in die kombuis.

Soos julle weet, eet ribs nie "mooi" nie. So ek het basies gelyk soos 'n kind aan die einde van 'n verjaarsdagpartytjie. Ons is besig met opknappings in en om die huis so daar is gereeld mense hier, besig om kwotasies vir goed te gee. Ek het natuurlik vergeet van vanoggend se kandidaat wat na die kaste kom kyk.

Verbeel jou, ek staan met taai hande, 'n blink gesiggie en 'n bakkie ribs voor my. Toe ek besef my ma is nie alleen nie was dit te laat. Ons kombuis het nie 'n geheime uitgang waar ek kon skuil nie. Boonop dit, sit my ma die ligte aan "om beter te sien, my kind."

Ek gryp die beentjies, slaan die bak toe en loop soos 'n slegte zombie met my arms horisontaal voor my uit. Ek gooi die bene weg en probeer my gesig wegsteek soos Phantom of the Opera. Die man was erg ordentlik. Shame...

Na ek my gesig gewas het, bel Wernu en vra dat ek die hek vir hom oopmaak. Hy het 40km gaan fiets ry, so hy is effens moeg. Terwyl ek hardop wonder wat die kasman dink stap ek uit en wag buite die hek vir hom. Ek het gedink hy sou binne 2 min hier wees. Toe nie. My ma en die kas man kom uit om samples in sy kar te kry. Great. Eers vreet ek soos 'n raccoon in die kombuis en nou lyk ek soos 'n dodgy karwag. Living the dream.

My ma het ewe grappig gesê ek is 'n vreemde kind maar ons was almal bewus van die feit dat sy effens bekommerd is oor my besluitnemingsvermoë vanmôre. Hulle gaan weer in en ek sit en wonder hoekom ek vandag is soos ek is. Daar begin ek giggel. 'n Familie stap verby en wonder sekerlik hoe lank ek in die son gesit het om so te wees.

Wernu stop met lam bene 'n bleek gesiggie. Hy storm in en maak spore stort toe en ek stap by die kombuis in om na die samples te kyk. Dit was nie 2 sekondes nie toe begin ek soos 'n stoute kind in die kerk giggel en ek probeer my bes om op te hou. Ek knyp my duime, krap aan my arm en ek lag net harder. My oë traan en ek kon nie eers vir my ma sê ek hou die meeste van die "Shale Oak" nie. Ek trippel af om vir die pupper oop te maak, dis naptime! Daar aangekom sien ek die verwer wat nog die hele tyd op die stoep besig is met sy werk. So hy het gesien hoe gesels ek met myself op pad hek toe... Verbeel ek my of gee hy my 'n simpatieke kyk. Ek retireer in my kamer in en lag in stilte dat my mascara begin wegloop.

Toe ek kalmeer sit ek regop. Ek was met goeie intensies op pad na my ma toe, maar sy het vraend omgekyk en gewonder wat met my aangaan. Toe val ek terug en begin van voor af lag. So hierdie kasman het gesien hoe ek soos 'n wilde dier eet, in die son sit voor my huis en nou hoor hy hoe ek histeries in my kamer lag. Ek wil net vir hom sê ek is rerig nie altyd so nie, maar dalk kry hy my jammer en gee vir ons afslag. 

Wednesday, 10 June 2020

Fotovrae

Ek wou nog altyd weet hoe 'n mens dit doen. Die mense op Instagram en Facebook. Van julle lyk of professionele fotograwe julle rondvolg. hoe is dit moontlik dat 'n mens so grasieus kan lyk terwyl jy jou kop laggend agteroor gooi met 'n glas wyn in jou hand? As ek so iets moes doen, sou ek soos 'n gapende seekoei lyk en ek sal geld op dit sit dat ek die wyn sou mors. As iemand 'n "candid" foto van my neem terwyl ek lag lyk ek soos 'n bedreigde spesie met een oog wat my tande wys om myself te beskerm teen roofdiere. 

Die mense wat mooi lyk terwyl julle eet, ek vertrou julle nie. Jy moes jou siel verkoop het om goed te lyk terwyl jy een of ander eetding in jou mond indruk. Die paar foto's wat ek van myself aanskou het waar ek besig is om te eet is niks om oor huis toe te skryf nie. Kom ons sê net, ek sou die walvis in Pinocchio 'n go gee.  

O, en nog 'n ding! Daar moet 'n reël wees teen foto's van agter af neem sonder die mens se kennis. Dit laat jou soos 'n 18 wheeler trok lyk wat probeer parallel park. NOT FLATTERING. Daar is dalk 'n positiewe uitkoms. As jy die onvleiende foto's van jouself op die yskas plak, dan bly die deur langer toe. Ek sal dit vir die troue oorweeg. Iemand gaan net moet help dat ek betyds 'n selfbeeld opbou in die proses. 
 
Vir die mense wat hulle diere afneem en vertoon, eerstens wil ek dankie sê. Diere is belangrik. Tweedens, neem julle ook 4000 foto's en dan kry jy 3 of 4 goeie foto's uit dit uit as jy gelukkig is? My diere blur en ek is seker daai mense wat glo mens kan 'n demoon afneem sal my honde as sulks identifiseer. 


Ek het vroeër die week gesien hoe mooi die maan lyk en ek besluit om dit af te neem, want as die maan lelik lyk hoef ek nie selfbewus te voel nie. Ek haal ewe onnosel my foon uit en probeer die foto geneem kry. Fone het daai verskillende opsies wat jy kan kies op jou kamera om nou 'n spesifieke toneel mooi af te neem. Wat 'n tragedie is "Night Mode" op my foon... 

Ek het 'n fotografiekursus gedoen so ek kan verduidelik dat die mode te veel lig inneem omdat die foto ongeveer 4 sekondes vat om geneem te word. So die resultaat was 'n baie onduidelike blurry bol met swart om dit. Jy weet as jy in 'n lig ingekyk het en dit word afgesit en jy "sien" nog die lig in jou oë? Dit is 'n akkurate beskrywing van my "Night Mode"

Die maan het so mooi gelyk en ek wou net 'n ordentlike foto neem en ek het geweet die enigste manier wat ek dit gaan regkry, is as ek dit reg doen. Ek het my pa se tripod gaan soek en die situasie opgeslaan. My kamera was gelukkig nog gelaai en ek het my grootste lens gevat. Die honde het natuurlik gedink ek is mal want ek skarrel heen en weer tussen die grasperk en die huis - en dis koud! Ek skroef die kamera styf vas want as ek dit hier laat val is dit verby. Ek het geleer dat onnodige uitgawes my onplesierig maak so ek het 4 of 5 keer seker gemaak die ding is behoorlik vas!


Ek draai al mikkend met die handvatseltjie rond om my "angle" te kry en dit lyk heel mooi en alles. Ek neem die foto en dis weer 'n blurry bol. Ek moes karring aan die settings en omtrent elke knop druk of draai vir my foto. Ek het met die kursus so 'n klein sleutelhouertjie gekry met wenke op vir die shutterspeed, die white balance, aperture en 'n klomp ander goed wat ek nie kan onthou nie. 




Toe ek lank genoeg gestel en geskel het was my rolle gevries, my rug seer en my honde ongeduldig. Die goed wat 'n mens bereid is om te vir 'n foto. 


Saturday, 2 May 2020

Huisskryf

Dit was 'n gesonde uitdaging om die huiskluisery deur te skryf. Ek het party dae maar gesukkel om iets interessants te skryf en ander dae was ek net nie lus nie.

Aanhouer wen. Ek het nooit te negatief geskryf nie, maar ek het soms so negatief gevoel. Dit was/is moeilik om so in die huis te sit. Ek mis die buitewêreld. 

Ek is hartseer oor die troudatum. Ek weet ons trou net 'n bietjie later, maar ek wou aftel tot by 30 Mei. Ek mag hartseer wees. My ma het so gesê en almal weet my ma is altyd reg. 

Ek mis my studente. Die aanlyn situasie is seker beter as niks maar dit voel meer meganies as produktief. Die lockdown het net een helse kommunikasiegaping veroorsaak. Almal is on edge.

Selfs my honde is geïrriteerd met ons. Ons het hulle vandag gebad. Rudi se shampoo moet vir 'n rukkie op bly. So die worshond moes vir 10 minute in die bad staan en koud kry sodat die shampoo beter kan werk of iets.

Hy het moord on sy een oog gehad, en trane in die ander een. Ek is seker hy laat die oog traan om simpatie te kry. Worshonde is sneaky! Jessie en Joe het langer hare so ons moes hulle langer droogblaas.

Jessie hou niks daarvan nie. Ek was nog besig om te blaas toe haar een been skuins trek en my tref. Sy het haar naels so diep in my been gebêre dat ek eerlikwaar bly is dat ek 'n paar ekstra lagies het. As ek dun bene gehad het sou sy sonder twyfel my maermerrie getref. Saved by the rolls.

Ek weet nie of ek elke dag sal skryf nie, maar ek sal beslis probeer. 

Friday, 1 May 2020

Huiskluis Herkou-nou-klaar.

19. Ek het 'n ernstige probleem ontwikkel met potte wat te lank in die wasbak staan
20. Te danke aan strategiese beplanning probeer ek om die duvetcover op te sit wanneer Wernu nie naby is om in te kruip nie. 
21.  Ons President het almal verslaan met sy challenge om nog langer by die huis te bly. 
22. Moenie sommer net iets drink wat jy nie ken nie. Vat 'n klein teugie, vir veiligheid.
23. Ek wil nie weer aan die dag dink nie. Daar was 'n man kaalvoet in die Meatworld, ek het nie eers oor hom geskryf nie. Ek hoop hy is ok. 
24. Ek kleur nog lekker in, maar ek het nie meer die geduld vir die Pintrest videos nie. 
25. As my ma besig is, moet jy vra of jy kan help, or else
26. As mens lank genoeg stilsit in my huis sal die skryfmateriaal na jou toe kom. Solank jy dit nie wil print nie. 
27. Ek is steeds skepties oor die circulation kontrapsie. 
28. My ma het gelukkig vanilla essence elders opgespoor. Haar yskasmagnete is egter nie geplak nie. Ons soek nog superglue. 
29. Partykeer moet jy moeilike besluite neem, maar jy weet dit is beter so. Ons tel van voor af die dae tot ons troue. 
30. Ek het gelukkig met die eerste rondte uit my foute geleer en nie uitgegaan om te kyk waar Wernu is nie. Ek het suksesvol die bougainvillea round 2 geskip. 
31. Ons kan potjiekos maak! 
32. Rudi drink nou 2 pilletjies 'n dag. Die een is in die vorm van 'n vissie. Die veearts sê so ewe hy sal dalk daarvan hou. Spoiler: Hy het nie en hy gaan nie. Ek het die een pilletjie vanaand in sy gorreltjie ingedruk en eersthands beleef hoe hy golwe met sy tong maak dat die vissie uitspoel. Hy dink dis snaaks... 
33. Die spasma leef nog voort. Ek strek en loop permanent met 'n warmsakkie op my skouer soos 'n borslap. 
34. Worshonde is duur om te onderhou. Die regering speel met vuur, sonder sigarette. 
35. This too shall pass. Die wêreld het onherroeplik verander en ons het geen idee gehad wat om te verwag toe ons eers gehoor het daarvan nie. Ek was in alle eerlikheid verbaas toe ek sien hoe ernstig meeste mense die situasie hanteer het. 

Ons is nou in level 4. Ek weet nie of ons met gemak tot by level 1 sal daal nie, maar ek kan net hoop. Vir nou sal ek ten minste hoop vir level 3 of 'n amptelike aankondiging wat mense weer toelaat om sigarette te koop. Dit is soos om vir 'n kind te belowe dat hulle 'n swietie mag kies wanneer julle inkopies doen en by die til die swietie terug te sit op die rak. Dis nie reg nie. 

Gee net vir hulle nikotien. Ek wil nie hê my vriende moet piesangskille of tee begin rook nie. Onthou net dat ons mense aangaan of hulle niks het om te verloor nie. Hulle maak al pynappelbier want die drankwinkels is toe. Hulle drink rou eier en chase dit met drank. Hulle sal IETS kry om te rook. Die besluite-maak bende, dink asseblief mooi hieroor. 

Thursday, 30 April 2020

Huiskluis Herkou

So 35 dae later. Wat het ek geleer?

1. Ek kan klas gee in my pajamas.
2. My ma is die enigste mens waarvoor ek versierings sal maak wat met vislyn gehang moet word.
3. Ek het op Dag 3 nog gedink ek trou in Mei😂
4. Ek het sommer vinnig besef dat uiteet nie die sondebok is nie. Die toeganklikheid van my kombuis is.
5. My ma het 'n slag lasagne gemaak. My broer het weekliks gebraai en selfs potjiekos gemaak. So hierdie les is belangrik... hulle KAN kosmaak. Duly noted.
6. Ek het gedink die excessive sanitizer by Spar is erg. Min het ek geweet dat die werknemers  storm trooper gear gaan dra met maskers en handskoene. Mens besef nie hoe baie jy op lippe lees staatmaak tot jy 3 keer na mekaar nie hoor wat sy sê nie en ja antwoord en hoop sy vra maar net of jy sakkies wil hê. Ek is steeds onseker oor die hangende perspex bo die til... Wie praat in daai rigting? As ek teen die bordjie moes praat sou ek my kop agteroor moes gooi soos 'n Hadeda.
7. Al was ons almal stuck in die huis, het elkeen sy eie ding gedoen sonder om mekaar te irriteer en sonder om moord te pleeg met die mes wat Wernu geslyp het.
8. Ek het die datum, dag en tyd baie vinnig weer gevind toe ek weer moes juffrou
9. Moenie jou foon antwoord as jy winkel toe gaan of op pad huistoe is nie. Dis 'n lokval!
10. 'n Bonus van lockdown en die delivery only reël wat van môre af geld, is dat jy nie hoef te worry as jy bietjie wild eet aan hoender en ribbetjies nie. Emsie Schoeman sou minder beïndruk wees.
11. Dit lyk of ons gesin al lankal begin het om drank op te gaar vir lockdown.
12. Die dreigement het gewerk. Die kas is nog netjies.
13. Ek is so bly ek het my voorskrif gaan haal. O, en julle mense wat so begin bak het, is dit nog lekker?
14. Ek was daai dag onseker oor of ek nog skryfmateriaal sou hê
15. Ek het die walglikste nagmerrie gehad. O, en geel is definetief nie my kleur nie. Hierdie was waarskynlik die eerste teken dat die troue gaan skuif.
16. Ek is beslis nie 'n konvensionele onderwyser nie.
17. Ek weet waar die kazoo en die Chinese gong geraas vandaan kom. Dis die mense skuins agter ons wat elke aand klink of hulle lekker partytjie hou. Ek vertrou hulle nie. Wie is elke dag so vrolik??? En wat raas so? Is dit 'n kind se videogame? Ek is bereid om die game by hulle te koop dat ek hom kan brand.
18. Die eierdrinkery videos het my geleer dat Suid-Afrikaners enigiets sal doen. Begin net jou sin met "ek challenge jou..."

Fluit, fluit die res van my lesse kom môre uit. 

Wednesday, 29 April 2020

Huiskluis Dag 34

My verloofde het vandag vir die eerste keer in 34 dae uit die erf uit gegaan op 'n veearts avontuur saam met my. 

Ek sou alleen gery het, maar my ma het 'n oortuigende argument gestel waarmee ek nie kon stry nie. As ek, met my nekspasma, alleen met die woelige worshond ry gaan ek sukkel.

Rudi sal dalk my blindspots blok soos wat hy bo oor my klim om die wêreld te bekyk soos 'n Europeër op 'n wildrit. Ek sal dalk om 'n draai gaan en die worsie sal sy naels in my bobeen probeer haak vir
'n beter greep dat hy nie homself diskant 'n rugwerweltjie val nie. 

Wernu kan darem nog bestuur, my nekkie het een of 2 keer om 'n draai gekreun. Maar darem was die worshond veilig. 

Ons moes veearts toe, want Rudi het besluit ons moet weer kyk hoeveel hy ons sal kos. Dis soos 'n kompetisie vir hom. Die veearts het 'n takeaway sisteem aan die gang. Jy stop, doen papierwerk en wag. Rudi het die nuwe ervaring geniet. Hy het op my skouer gesit soos 'n papegaai en op die dashboard geloop soos 'n daschund model.

Hulle het hom kom haal, teruggekom en verduidelik wat die keer aangaan, die worshond en die rekening gebring. Dis amper so lank soos die hond, maar mens doen dit vir jou diere.

Afgesien van sy vel wat jeuk en sy heup wat pyn is hy heeltemaal gesond. Hartklop van 'n jong hondjie sê hulle! Dit wou voorkom of hy vir my smirk en op sy manier wys hy sal 'n African Grey waarskynlik oorleef.



Tuesday, 28 April 2020

Huiskluis Dag 33

Dit maak dat jy dinge vreemd doen. Jy is dalk emosioneel delikaat. Jy voel dalk spyt oor aksies waaroor jy nie heeltemaal bewus was nie. Jy probeer onthou wat die vorige aand gebeur het.

Die gebeure van die afgelope 24 uur word herroep in 'n desperate poging om te verstaan. Is dit omdat jy 'n slegte mens is? Verdien jy hierdie lyding? Dit moet Karma wees. Jy het vreeslik aangejaag en hierdie is payback. Niks gebeur soos dit moet nie en al die eenvoudige dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar is nou massiewe uitdagings.

Almal van ons het al iewers 'n spasma gehad. In jou skouer, jou rug, jou nek, jou been en selfs jou boud as jy so ongelukkig is. Die een waarmee ek nou sit hou die klein toutrek kampioeneskappe in my nek  en my spiere is die tou. Nou lyk ek soos 'n stuck up kerk orrelis omdat ek so kiertsregop sit en ek kan natuurlik ook nie my nek draai nie.

So my hele lyf karring maar saam as ek enige draaibeweging aanpak. Ek het 'n boek laat val en dit moes sekerlik gelyk het of ek probeer het om 'n interpratiewe dans te doen toe ek soos 'n T-aansluiting gebuig was en in snaakse kreunaksies probeer het om regop te kom sonder om die spasma kwaad te maak.

Ek is nie 'n dokter nie, maar ek glo nie die koue help nie. Ek het daai sirkulasie masjientjie opgehad en ek dink ek is te bang om hom lank genoeg aan te hê want die vorige ervaring het my binnegoed so geskok dat ek amper my laptop moes groet. Ek dink dit gaan 'n rukkie wees voor ek weer vertroue in daai masjientjie sal hê. Vir nou sal 'n mikrogolfbare boontjiesak my enigste vertroueling wees.