My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Tuesday, 28 April 2020

Huiskluis Dag 33

Dit maak dat jy dinge vreemd doen. Jy is dalk emosioneel delikaat. Jy voel dalk spyt oor aksies waaroor jy nie heeltemaal bewus was nie. Jy probeer onthou wat die vorige aand gebeur het.

Die gebeure van die afgelope 24 uur word herroep in 'n desperate poging om te verstaan. Is dit omdat jy 'n slegte mens is? Verdien jy hierdie lyding? Dit moet Karma wees. Jy het vreeslik aangejaag en hierdie is payback. Niks gebeur soos dit moet nie en al die eenvoudige dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar is nou massiewe uitdagings.

Almal van ons het al iewers 'n spasma gehad. In jou skouer, jou rug, jou nek, jou been en selfs jou boud as jy so ongelukkig is. Die een waarmee ek nou sit hou die klein toutrek kampioeneskappe in my nek  en my spiere is die tou. Nou lyk ek soos 'n stuck up kerk orrelis omdat ek so kiertsregop sit en ek kan natuurlik ook nie my nek draai nie.

So my hele lyf karring maar saam as ek enige draaibeweging aanpak. Ek het 'n boek laat val en dit moes sekerlik gelyk het of ek probeer het om 'n interpratiewe dans te doen toe ek soos 'n T-aansluiting gebuig was en in snaakse kreunaksies probeer het om regop te kom sonder om die spasma kwaad te maak.

Ek is nie 'n dokter nie, maar ek glo nie die koue help nie. Ek het daai sirkulasie masjientjie opgehad en ek dink ek is te bang om hom lank genoeg aan te hê want die vorige ervaring het my binnegoed so geskok dat ek amper my laptop moes groet. Ek dink dit gaan 'n rukkie wees voor ek weer vertroue in daai masjientjie sal hê. Vir nou sal 'n mikrogolfbare boontjiesak my enigste vertroueling wees. 

No comments:

Post a Comment