My verloofde het vandag vir die eerste keer in 34 dae uit die erf uit gegaan op 'n veearts avontuur saam met my.
Ek sou alleen gery het, maar my ma het 'n oortuigende argument gestel waarmee ek nie kon stry nie. As ek, met my nekspasma, alleen met die woelige worshond ry gaan ek sukkel.
Rudi sal dalk my blindspots blok soos wat hy bo oor my klim om die wêreld te bekyk soos 'n Europeër op 'n wildrit. Ek sal dalk om 'n draai gaan en die worsie sal sy naels in my bobeen probeer haak vir
'n beter greep dat hy nie homself diskant 'n rugwerweltjie val nie.
Wernu kan darem nog bestuur, my nekkie het een of 2 keer om 'n draai gekreun. Maar darem was die worshond veilig.
Ons moes veearts toe, want Rudi het besluit ons moet weer kyk hoeveel hy ons sal kos. Dis soos 'n kompetisie vir hom. Die veearts het 'n takeaway sisteem aan die gang. Jy stop, doen papierwerk en wag. Rudi het die nuwe ervaring geniet. Hy het op my skouer gesit soos 'n papegaai en op die dashboard geloop soos 'n daschund model.
Hulle het hom kom haal, teruggekom en verduidelik wat die keer aangaan, die worshond en die rekening gebring. Dis amper so lank soos die hond, maar mens doen dit vir jou diere.
Afgesien van sy vel wat jeuk en sy heup wat pyn is hy heeltemaal gesond. Hartklop van 'n jong hondjie sê hulle! Dit wou voorkom of hy vir my smirk en op sy manier wys hy sal 'n African Grey waarskynlik oorleef.
No comments:
Post a Comment