Onderwyser. Sarkasties. Onseker oor alles. My inspirasie tref meestal in die middel van die nag. Mense soos Bukowski het gedrink, ek verkies vooruitbeplande ineenstortings.
Saturday, 2 May 2020
Huisskryf
Friday, 1 May 2020
Huiskluis Herkou-nou-klaar.
Thursday, 30 April 2020
Huiskluis Herkou
So 35 dae later. Wat het ek geleer?
1. Ek kan klas gee in my pajamas.
2. My ma is die enigste mens waarvoor ek versierings sal maak wat met vislyn gehang moet word.
3. Ek het op Dag 3 nog gedink ek trou in Mei😂
4. Ek het sommer vinnig besef dat uiteet nie die sondebok is nie. Die toeganklikheid van my kombuis is.
5. My ma het 'n slag lasagne gemaak. My broer het weekliks gebraai en selfs potjiekos gemaak. So hierdie les is belangrik... hulle KAN kosmaak. Duly noted.
6. Ek het gedink die excessive sanitizer by Spar is erg. Min het ek geweet dat die werknemers storm trooper gear gaan dra met maskers en handskoene. Mens besef nie hoe baie jy op lippe lees staatmaak tot jy 3 keer na mekaar nie hoor wat sy sê nie en ja antwoord en hoop sy vra maar net of jy sakkies wil hê. Ek is steeds onseker oor die hangende perspex bo die til... Wie praat in daai rigting? As ek teen die bordjie moes praat sou ek my kop agteroor moes gooi soos 'n Hadeda.
7. Al was ons almal stuck in die huis, het elkeen sy eie ding gedoen sonder om mekaar te irriteer en sonder om moord te pleeg met die mes wat Wernu geslyp het.
8. Ek het die datum, dag en tyd baie vinnig weer gevind toe ek weer moes juffrou
9. Moenie jou foon antwoord as jy winkel toe gaan of op pad huistoe is nie. Dis 'n lokval!
10. 'n Bonus van lockdown en die delivery only reël wat van môre af geld, is dat jy nie hoef te worry as jy bietjie wild eet aan hoender en ribbetjies nie. Emsie Schoeman sou minder beïndruk wees.
11. Dit lyk of ons gesin al lankal begin het om drank op te gaar vir lockdown.
12. Die dreigement het gewerk. Die kas is nog netjies.
13. Ek is so bly ek het my voorskrif gaan haal. O, en julle mense wat so begin bak het, is dit nog lekker?
14. Ek was daai dag onseker oor of ek nog skryfmateriaal sou hê
15. Ek het die walglikste nagmerrie gehad. O, en geel is definetief nie my kleur nie. Hierdie was waarskynlik die eerste teken dat die troue gaan skuif.
16. Ek is beslis nie 'n konvensionele onderwyser nie.
17. Ek weet waar die kazoo en die Chinese gong geraas vandaan kom. Dis die mense skuins agter ons wat elke aand klink of hulle lekker partytjie hou. Ek vertrou hulle nie. Wie is elke dag so vrolik??? En wat raas so? Is dit 'n kind se videogame? Ek is bereid om die game by hulle te koop dat ek hom kan brand.
18. Die eierdrinkery videos het my geleer dat Suid-Afrikaners enigiets sal doen. Begin net jou sin met "ek challenge jou..."
Fluit, fluit die res van my lesse kom môre uit.
Wednesday, 29 April 2020
Huiskluis Dag 34
My verloofde het vandag vir die eerste keer in 34 dae uit die erf uit gegaan op 'n veearts avontuur saam met my.
Ek sou alleen gery het, maar my ma het 'n oortuigende argument gestel waarmee ek nie kon stry nie. As ek, met my nekspasma, alleen met die woelige worshond ry gaan ek sukkel.
Rudi sal dalk my blindspots blok soos wat hy bo oor my klim om die wêreld te bekyk soos 'n Europeër op 'n wildrit. Ek sal dalk om 'n draai gaan en die worsie sal sy naels in my bobeen probeer haak vir
'n beter greep dat hy nie homself diskant 'n rugwerweltjie val nie.
Wernu kan darem nog bestuur, my nekkie het een of 2 keer om 'n draai gekreun. Maar darem was die worshond veilig.
Ons moes veearts toe, want Rudi het besluit ons moet weer kyk hoeveel hy ons sal kos. Dis soos 'n kompetisie vir hom. Die veearts het 'n takeaway sisteem aan die gang. Jy stop, doen papierwerk en wag. Rudi het die nuwe ervaring geniet. Hy het op my skouer gesit soos 'n papegaai en op die dashboard geloop soos 'n daschund model.
Hulle het hom kom haal, teruggekom en verduidelik wat die keer aangaan, die worshond en die rekening gebring. Dis amper so lank soos die hond, maar mens doen dit vir jou diere.
Afgesien van sy vel wat jeuk en sy heup wat pyn is hy heeltemaal gesond. Hartklop van 'n jong hondjie sê hulle! Dit wou voorkom of hy vir my smirk en op sy manier wys hy sal 'n African Grey waarskynlik oorleef.
Tuesday, 28 April 2020
Huiskluis Dag 33
Dit maak dat jy dinge vreemd doen. Jy is dalk emosioneel delikaat. Jy voel dalk spyt oor aksies waaroor jy nie heeltemaal bewus was nie. Jy probeer onthou wat die vorige aand gebeur het.
Die gebeure van die afgelope 24 uur word herroep in 'n desperate poging om te verstaan. Is dit omdat jy 'n slegte mens is? Verdien jy hierdie lyding? Dit moet Karma wees. Jy het vreeslik aangejaag en hierdie is payback. Niks gebeur soos dit moet nie en al die eenvoudige dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar is nou massiewe uitdagings.
Almal van ons het al iewers 'n spasma gehad. In jou skouer, jou rug, jou nek, jou been en selfs jou boud as jy so ongelukkig is. Die een waarmee ek nou sit hou die klein toutrek kampioeneskappe in my nek en my spiere is die tou. Nou lyk ek soos 'n stuck up kerk orrelis omdat ek so kiertsregop sit en ek kan natuurlik ook nie my nek draai nie.
So my hele lyf karring maar saam as ek enige draaibeweging aanpak. Ek het 'n boek laat val en dit moes sekerlik gelyk het of ek probeer het om 'n interpratiewe dans te doen toe ek soos 'n T-aansluiting gebuig was en in snaakse kreunaksies probeer het om regop te kom sonder om die spasma kwaad te maak.
Ek is nie 'n dokter nie, maar ek glo nie die koue help nie. Ek het daai sirkulasie masjientjie opgehad en ek dink ek is te bang om hom lank genoeg aan te hê want die vorige ervaring het my binnegoed so geskok dat ek amper my laptop moes groet. Ek dink dit gaan 'n rukkie wees voor ek weer vertroue in daai masjientjie sal hê. Vir nou sal 'n mikrogolfbare boontjiesak my enigste vertroueling wees.
Monday, 27 April 2020
Huiskluis Dag 32
Ek hou meer van honde as mense. Hulle kan jou nie teleurstel nie, hulle is altyd bly om jou te sien en jy hoef nie eers 'n bra aan te trek as jy met hulle wil bond nie.
My hond, Rudi, is al deur baie. Hy daag die idee van katte en hulle 9 lewens uit. Hy was raakgery, toe breek hy sy boud, hy was in 'n argument betrokke met die bure se pitbull, hy het ratex geëet, toe kry hy die bynaam: Rudi Ratex. Hy het uit die erf uit gekom en ons oral laat soek.
Na ek die veearts gebel het, sê hulle daar is 'n worshond. Daar aangekom sit die klein strooi in 'n hokkie met 'n nametag. "Gunther" lees ek. Wie is Gunther?? Hierdie is Rudi? Dit was 'n verwarrende ervaring.
Sy nuuste issue is 'n velirritasie. Hy moet 'n pilletjie drink. Hierdie is moeiliker as 'n dieet oor Desember. Ek moet myself geestelik voorberei vir die worshond se skelmstreke. Rudi het die afgelope 9 jaar geleer hoe om pille uit sy bekkie uit te wriemel met 'n wilde tongaksie.
Ek weet nou 'n mens moet hom vaspen met 'n goeie houvas op sy lyfie. Dan moet jy sy kakebeen in die een hand hê met die pil in die ander. Maak dan reg om met een vloeiende beweging die pil in sy gorreltjie af te druk. So diep dat jy die worshond se larrinks kielie en bevestig dat jy 7 soorte hondespoeg op jou hand het.
Dan moet jy hom soos 'n agterdogtige winkeleienaar dophou om seker te maak hy spoeg dit nie uit nie.
Ek wens ek kon met hom praat en verduidelik dat ek in alle eerlikheid nie my hand in sy vrot bekkie wil druk nie. Ek probeer net help. Ek sou ook vir hom sê dat die ervaring traumaties is omdat hy nie soos ons ander honde eet wat in die bak is nie.
Tot môre sluwe worshond.
Sunday, 26 April 2020
Huiskluis Dag 31
Ons het weer 'n dag vol nuwe verskynsels ervaar. Gelukkig was daar nie enige beserings of bougainvillea bosse betrokke nie.
My broer het aangekondig dat hy wil probeer potjiekos maak. Na my ma geraadpleeg is, het hulle sommer besluit om 'n lams potjie te maak. Erg ambisieus as dit by potjiekos kom. Ons het in die orkesdae altyd hoender potjie gemaak en ek dink dit was omdat jy nie sommer 'n hoenderpot sal kan opfoeter nie. Alhoewel sommiges dit goed reggekry het.
Paul berei die potjie seker 2 dae voor. Hy was nogal lanklaas benut en ons almal het saamgestem dat lood of voedselvergiftiging nie die ideaal is nie. Ek sou nie omgegee het as hy gewaarsku het voor hy die pot skoongebrand het met die olie nie. Een oomblik was dit donker, toe flikker my gordyne.
Die huisvrou wat ek is, staan op en trek die een hoekie om ondersoek in te stel. Daar staan my broer en staar in die vlamme in wat uit die potjie ontsnap. Hy het gelyk soos 'n gesoute towenaar wat toesig hou oor sy nuutste brousel. Van naby het dit nog meer intimiderend want die hitte het my laat dink aan hoe my vel voel as ek nie 28 keer sonroom aansmeer wanneer ek buite is nie.
Op 'n plaas hoor jy dalk vroegoggend 'n haan kraai. Hier by ons was dit staal wat op staal skraap en die potjiegode oproep. Die kole is met intense aandag voorberei terwyl my ma alles opgechop het.
Hulle het die resep tot op die laaste letter gevolg. Die groente was gepoke tot hulle tevrede was en die aartappel was perfek sag. Die skaapvleis was net reg, sommer so van die been af geval! Daaroor was ek baie bly, want ek sal mense aanrand vir skaapvleis. No shame.
Daar was baie stiltes betrokke, ons was almal besig om weg te raak in ons borde. My ma het ook vandag 'n koek in die mikrogolf gebak. Ek is nie seker hoe nie, maar sy het! Ons almal herstel nog van die potjie, so ek sal môre verslag lewer oor die microcake!