Ons het weer 'n dag vol nuwe verskynsels ervaar. Gelukkig was daar nie enige beserings of bougainvillea bosse betrokke nie.
My broer het aangekondig dat hy wil probeer potjiekos maak. Na my ma geraadpleeg is, het hulle sommer besluit om 'n lams potjie te maak. Erg ambisieus as dit by potjiekos kom. Ons het in die orkesdae altyd hoender potjie gemaak en ek dink dit was omdat jy nie sommer 'n hoenderpot sal kan opfoeter nie. Alhoewel sommiges dit goed reggekry het.
Paul berei die potjie seker 2 dae voor. Hy was nogal lanklaas benut en ons almal het saamgestem dat lood of voedselvergiftiging nie die ideaal is nie. Ek sou nie omgegee het as hy gewaarsku het voor hy die pot skoongebrand het met die olie nie. Een oomblik was dit donker, toe flikker my gordyne.
Die huisvrou wat ek is, staan op en trek die een hoekie om ondersoek in te stel. Daar staan my broer en staar in die vlamme in wat uit die potjie ontsnap. Hy het gelyk soos 'n gesoute towenaar wat toesig hou oor sy nuutste brousel. Van naby het dit nog meer intimiderend want die hitte het my laat dink aan hoe my vel voel as ek nie 28 keer sonroom aansmeer wanneer ek buite is nie.
Op 'n plaas hoor jy dalk vroegoggend 'n haan kraai. Hier by ons was dit staal wat op staal skraap en die potjiegode oproep. Die kole is met intense aandag voorberei terwyl my ma alles opgechop het.
Hulle het die resep tot op die laaste letter gevolg. Die groente was gepoke tot hulle tevrede was en die aartappel was perfek sag. Die skaapvleis was net reg, sommer so van die been af geval! Daaroor was ek baie bly, want ek sal mense aanrand vir skaapvleis. No shame.
Daar was baie stiltes betrokke, ons was almal besig om weg te raak in ons borde. My ma het ook vandag 'n koek in die mikrogolf gebak. Ek is nie seker hoe nie, maar sy het! Ons almal herstel nog van die potjie, so ek sal môre verslag lewer oor die microcake!
No comments:
Post a Comment