My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Monday, 27 April 2020

Huiskluis Dag 32

Ek hou meer van honde as mense. Hulle kan jou nie teleurstel nie, hulle is altyd bly om jou te sien en jy hoef nie eers 'n bra aan te trek as jy met hulle wil bond nie.

My hond, Rudi, is al deur baie. Hy daag die idee van katte en hulle 9 lewens uit. Hy was raakgery, toe breek hy sy boud, hy was in 'n argument betrokke met die bure se pitbull, hy het ratex geëet, toe kry hy die bynaam: Rudi Ratex. Hy het uit die erf uit gekom en ons oral laat soek.

Na ek die veearts gebel het, sê hulle daar is 'n worshond. Daar aangekom sit die klein strooi in 'n hokkie met 'n nametag. "Gunther" lees ek. Wie is Gunther?? Hierdie is Rudi? Dit was 'n verwarrende ervaring.

Sy nuuste issue is 'n velirritasie. Hy moet 'n pilletjie drink. Hierdie is moeiliker as 'n dieet oor Desember. Ek moet myself geestelik voorberei vir die worshond se skelmstreke. Rudi het die afgelope 9 jaar geleer hoe om pille uit sy bekkie uit te wriemel met 'n wilde tongaksie.

Ek weet nou 'n mens moet hom vaspen met 'n goeie houvas op sy lyfie. Dan moet jy sy kakebeen in die een hand hê met die pil in die ander. Maak dan reg om met een vloeiende beweging die pil in sy gorreltjie af te druk. So diep dat jy die worshond se larrinks kielie en bevestig dat jy 7 soorte hondespoeg op jou hand het.

Dan moet jy hom soos 'n agterdogtige winkeleienaar dophou om seker te maak hy spoeg dit nie uit nie.

Ek wens ek kon met hom praat en verduidelik dat ek in alle eerlikheid nie my hand in sy vrot bekkie wil druk nie. Ek probeer net help. Ek sou ook vir hom sê dat die ervaring traumaties is omdat hy nie soos ons ander honde eet wat in die bak is nie.

Tot môre sluwe worshond. 

No comments:

Post a Comment