My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Sunday, 30 July 2023

Om te trek en te, en te, en te

Nadat ons die goeie nuus gedeel het van die trek, oortuig my skoonpa vir Wernu dar ons nie geld moet mors om 'n treklorrie te huur nie. Ek sê dadelik vir Wernu ek neem hom kwalik as een enkele ding breek. 

"Hulle gaan die goed breek, julle jaag kak aan" sê my oupa. Almal se insette stel my NIE gerus nie. "Hoekom wil julle dit self doen?" 
"Is dit 'n goeie idee?"
EK WEET NIE, EK HET NOG NOOIT GETREK NIE.

My ooraktiewe verbeelding het klaar 'n video in die masjien gedruk. My vertoonkas sou die eerste slagoffer wees. Daai kas het van Welkom af gekom saam met my oupa - met 'n treklorrie, natuurlik. 

Dis loodglas deure. En die kas is onmenslik swaar. Die manne wat help trek daag by my nuwe huis op. Rietskraal. Hulle bring die bank/sleepercouch wat ouma en oupa vir ons gegee het. Soos hulle instap, trap die een man skeef op plain normale teëls en slaan agteroor op die matras met die basis bo op hom. My siel het in daardie 5 sekondes herbaaldelik my lyf verlaat. Ek het nie 'n noodhulpsakkie nie en enigiets wat hier gebeur gaan waarskynlik meer as die pleister in my handsak verg. Hy spring op en gee 'n benoude giggel en sê "that was close"

CLOSE? Nee bul, ek en Lettie het gelyk ophou asemhaal. Sy het haar kop vasgehou en ek het momenteel katatonies geraak. Maat ok, die bank is binne. My angs oor die vertoonkas kry 'n upsize en ek bel my ma, my broer en Wernu heeltemaal teveel om te vra wat is waar en wie is daarmee besig en of iets al gebreek het.

Ek doen die wiskunde. Daar is by my ma se huis 4 trappies en ongelyke grond tot by die Mahindra. Dan moet die storie nog opgesit word. By my calculations, there are WAY too many opportunities for shit to go absolutely south. 

Maar my verbeelding was nou weer dramaties. Met die groot vrag se koms stap ek uit om vir hulle oop te maak. Hulle ry stadig in en ek maak myself geestelik reg vir wat ookal die Mahindra aanbring. Ek kyk die storie so en dit lyk of die een ou staan tussen die kas en die matras. Ek wag dat hy afklim, maar hy kan nie. Hy is vas tussen die kas en die matras (van de vos is weer los). Daar is geen ander verduideliking as om te sê hy was 'n human shield nie. Maar die kas is heel. Ek is nie seker hoe eties dit is nie, maar ok.

Ons hou vergadering in die huis oor waar die kas moet staan en hoe ons hom gaan afgehaal kry want hulle het die trollie by ma se huis gelos... Toe daag 2 van die manne op en dra die kas asof dit niks is nie. Ek is so vebouereerd, ek staan suid en haal my skokbeentjie amper uit teen die muur. 

Die 3de man is kort op hulle hakke met die bed kopstuk op sy skouer asof hy 'n Laptop dra. In daardie oomblik het ek besef ons is net weak. Vra vir my om woorde oor te dra. Nie meubels nie. 

Hierdie rondte het langer gevat om te skryf, want ek en my man is nog steeds besig om huis op te sit. Die nuutste is dat ons 'n mikrogolf gekoop het. So ek kan my Tupperware rice cooker gebruik! Ek het vrede gemaak met die feit dat hierdie klas van dinge nou my vreugde is. 

Volgende wil ek blykbaar stelselmatig my tuin aanvat. Dit is selfs vir my nuus. My belangstelling in plante was net mooi nul tot ek my eie tuin besit het, nou lyk gazebos en oulike planters vir my mooi? Dit sal ook stadig maar seker gebeur. Ek weet ek gaan mik vir dankbare plante, net nou verloor ek belangstelling as ek higher maintenance plante laat vrek. 

Ek gaan 'n raadsvergadering reël met al die plantkenners in die familie en seker maak ek kry al die hulp denkbaar, sodra ek ten minste 'n tuinslang het, natuurlik.

Monday, 5 June 2023

Leave of Absence A la Writing

Dit vat altyd 'n carte blanche oomblik vir my om te besef ek moet skryf. Dis my prestigious procrastination. 

My verskoning is altyd "life happens" maar my motivering is ook "life happens". 'n Mens moet sekerlik nie oor alles skryf nie. Alhoewel ek weet ek kan die Son koerant laat les opsê met die inhoud wat soms in die drafts van my binneste lê en wag dat iets dit die wêreld instuur.

2022 was 'n wortelkanaal sonder verdowing met 'n migraine, 'n babelas en daai krapgeluid teen 'n swartbord. Dit het my geblok in maniere wat ek nie verwag het nie. Jy kan redineer dat dit 'n leergeleentheid was, maar dit maak jou die optimis. So ek is nie seker of ons kan saamstem nie. Ek is nie 'n pessimis nie. Ek is 'n draadsitter met 'n oormaat sarkasme en 'n hart wat nie die memo gekry het dat ek sterker moet wees nie. 

So ja, optimis. Ek het iets geleer uit dit uit. Queue pessimis; ek kon identifiseer waarvan ek nie hou nie. Ek kon my perke bepaal. Dit was nie moerse hulpvaardig nie, want ek het hulle agterna eers behoorlik verken. 

As iemand vir my gesê het die oggend wat ek neergeslaan het en verskeie ligemente afgedank het sou 'n rippeleffek regdeur my lewe veroorsaak het, sou ek lag. Ek weet alles van hard neerval. Hoeveel erger kan die rondte wees? Die kruk(s) van daai saak is dat die universe nie gedink het dis 'n retoriese vraag nie. Daar was 'n raadsvergadering waarin almal op die beurt kon voorstel watse uitdagings ontplooi kon word. 

Ek was bekommerd dat ek werk sou mis en ek wou aanvanklik die operasie uitstel (dom, ek weet) om by my sperdatums te hou. So kom ons begin stres kweek. 

Die universe het 'n verwronge humorsin. Alles wel na die operasie. Kom ons drink antibiotika. Iewers het ek penisillien benadeel, want dié stuur my sommer in anafilaktiese skok in. Skiet ER toe met die mobiliteit van 'n trollie met 1 wiel. Spuit adrenalien om my weer wakker te kry want dit was 'n ongeleë tyd om te dut. 
Skrik, want dit het afgespeel soos een van die tonele in Grey's Anatomy. 

Hierna het die downward spiral (Afwaartse spiraal in Afrikaans, maar dit sê nie so gemaklik nie) ingespring om sy verwoesting te deel soos 'n aftree oord blaadjie by 'n robot. Stelselmatig vorm daar porseleinfyn krakies in die koppie wat al besig was om oor te loop. En daar spoel ek uit oor die koppie, die piering en die beheer. 

Ek besluit daai koppie tee is net nie vir my nie. Ek voel skuldig dat ek nie kon cope nie. Almal deal met hulle koppie tee. Hoekom kon ek nie? Swakkeling. 

Selfveragting stof homself af en fluister daagliks in my oor dat ek 'n helse fout gemaak het. Later het my hardkoppigheid darem die saak reggestel. Innerlike konflik? Meer soos innerlike oorloë. Die lekker deel daarvan is, ek wen. 

My mense ondersteun my ten spyte van die risiko's van so 'n stunt. Dit help. Ek is opnuut dankbaar vir hulle.

Vandaar ontwikkel 'n vreemde nuwe intrige wat ek eintlik nie verwag het nie.

Saturday, 10 July 2021

Feedback

I submitted my first assignment last week. My nerves were shot. It made me wonder if I was this nervous at university... I KNOW I did not panic as much in high school. I did the minimum there. Honest blog. 

After submitting the assignment, my tutor instructed that I wait for the feedback before doing the second assignment. I relaxed and patiently waited to hear from her again. 

Lies. That one-liner had me SHOOK. The self-doubt was alive and well. I was feeling insecure about EVERYTHING. Reading through the assignment again, rechecking my answers, refreshing my e-mail 50 times a day...

Finally the reply popped up. 75% was the only thing I read and I was so relieved. I did not even read the critiques. The supplementary exams I wrote at university must have given me a form of anxiety. Or I have always been like this. It's a 50/50. I am the type of person who is vain enough to laugh at my own pun jokes. Yet, I am also the person who would have a meltdown about burning a slice of toast. I keep it real... Unstable ❤️ 

It is like reading through old Facebook posts thanks to the Facebook Memories function. I used to think TyPiNg LiKe ThIs WaS CoOl. Unfortunately, I hadn't yet realised that I am not cool. So I cringe, often.

If anyone is willing to share, can y'all remember what I was like...? DiD i TaLk LiKe ThAt ToO? Not always too sure I would have liked me. Anyway!

On to assignment number 2. I have to choose between creating an ad campaign for Royal Canin or Ford Ranger. I'll never be a royal or a ranger, but I'm picking the dog food 👍.

Friday, 11 June 2021

Besluite, besluite...

Ken jy die gevoel om te besluit jy wil iets doen, maar jy is nie dadelik doodseker nie en later is jy bietjie meer seker en dan kry jy 'n meltdown en jy is weer onseker? (Ek praat nie van slegte besluite as gevolg van groepsdruk of om jou hare af te sny nie)

Ek wou vir 'n kursus inskryf. Copywriting. Ek geniet dit om met woorde te probeer toor en 'n beeld in mense se koppe te skep wat by elkeen se raamwerk pas. Ek sê nie dat ek nooit mense in die gesig vat as my woorde aan die bitsiger kant is nie. Ek weet woorde kan gelyktydig skadeloos en dodelik wees. Dit hang af wie lees.

Nie dat dit my afsit nie. As jy nie hou van dit wat ek skryf nie, moenie lees nie. Ek het onlangs tot die beslissing gekom dat ek definitief die kursus wil voltooi. Ek slaan die laptop oop en doen navorsing. My eerste beslissing was: Daar is so baie opsies daar buite dat 'n mens eintlik oorweldig voel.

Ek het eindelik 'n instansie gekies. Vandag wil ek registreer en aan die gang kom. Die aansoekvorm is redelik voor die hand liggend. Naam en van, kontakbesonderhede ens. ens. Toe slaan hulle my vir 'n ses! Hulle vra hoekom wil ek die kursus doen. My hel, die blerrie cheek!

Ek het by Tuks geswot. Hulle vra jou nie hoekom wil jy soontoe gaan nie. Hulle soek net jou skoolpunte en jou bewys van betaling vir registrasie. Ek veroordeel hulle nie, everyone has bills. So ek was nie voorbereid vir die hoekom vraag nie.

Hulle gee boonop dit vir jou 'n aantal woorde wat jy moet gebruik om jou saak te stel. Ek begin maar dadelik om te tik en myself te verduidelik. Ek ken myself goed genoeg om te weet ek sal die vraag so lank as moontlik vermy.

Ek click submit en wag vir die volgende bladsy en die 100 bladsy kontrak soos hulle maak by Tuks. Tot my verbasing/afgryse was die een bladsy die hele aansoek. Daai 121 woorde was nou my aansoek. As ek dit geweet het sou ek seker 'n bietjie langer daaraan gewerk het. Nie dat ek weet wat anders ek sou skryf nie. Ek is net bly ek het nie net geskryf "Ek is sarkasties en partykeer snaaks daarom hoop ek mense sal my betaal" nie. First impressions...

Daar is sommer 'n bekende gevoel van opgewondenheid en onsekerheid wat my herinner dat ek ook op 'n tyd geswot het en partykeer nogal slim was.

So hier gaan ons weer! Annette gaan nog iets leer! 

Thursday, 29 April 2021

Kringe in 'n bos

Ek oefen nie sommer nie. Ek het laasjaar 'n fiets gekoop en 'n paar keer gaan ry en dit was nie te sleg nie. Ek het al hygend by die opdraandes opgekruip en gevoel hoe my milt wil ontplof, maar ek het dit gedoen. Ons is op wittebrood naby die Knysna woud en ek dink net, "let's do this" Ek wil die 'Kringe in 'n Bos' roete gaan stap saam met my man.

Ek trek my lekker tekke vir 'n beter ekke aan, gemaklike klere, the works. Hier gaan ons. Ons ry en ons ry en ons ry.... 40km in die verkeerde rigting. "ek weet waar dit is" sê hy.

Na 'n waaghalsige U-turn draai ons terug en volg die raad van 'n vrou. Julle ken haar seker. Die GPS tannietjie. Daar aangekom is ons verlig, bietjie verbouereerd en grotendeels in verwondering van die woud om ons.

Wernu neem daai tipiese toeriste foto's van by Dalene Matthee se gedenksteen en ons stap. Dis lekker, ons beweeg rustig. Daar was duidelik mense wat iets in die bos wou gaan doen, want almal is so haastig verby ons... Wil seker nie hê die grootvoete moet hulle trap nie. Ek voel soos 'n grootvoet, so ek is veilig.

Op hierdie roete is daar sulke loopplanke. Hulle lyk al bietjie moeg maar ons kan nie nou omdraai nie. Ek gee klein versigtige treë terwyl ek na die bordjie kyk wat lees "Extremely slippery" met 'n tekening van 'n man wat so hard neerslaan dat hy sekerlik sy kakebeen en sy trots daar moes groet.

"Hier val jy jou gat af" sê ek. Soos Siener van Rensburg word my voorspelling 'n realiteit. Wernu trap en knak 'n plank wat al lankal moes bedank het. Ek staan natuurlik op dieselfde plak. So ons kan sê Wernu het my voete onder my uitgeslaan. Ek gly en land so hard op my agterstewe dat dit voel of ek hop.

Nog nie eers 'n kilometer in die 6km roete in nie. Ek staan versigtig op, evalueer of alles nog kan beweeg en ons stap aan. (terloops, my lieflike trouskoene het dalk mooi gelyk, maar teen die einde van die aand was my hakke bloeiend, so daarmee moet ek ook saamleef)

2 km later kan ek sweer ek sien Fiela en Benjamin wat vir my beduie om in die lig in te gaan. My longe was aan die brand. My Achilles was besig om wraak te neem en my ronde gesiggie was al bloedrooi. Toe vat ons 'n blaaskans. Ek drink water, eet 'n energy bar en probeer my hartklop laer kry.

Tydens die stappery neem ek natuurlik foto's. Dis onvermydelik. Dit is alles net so ongelooflik mooi. Dan stap Wernu vooruit en vra of ek die en daai en dit al afgeneem het. Op daardie stadium fokus ek so op die grond en modder om my dat ek skrikkerig is om te lank op te kyk want hy het oomblikke vroeër toe ek oor 'n boomwortel struikel vir my gesê "jy word nou moeg, jy moet fokus op die paadjie." So neem ek die foto's af en die inligting in.

Ons sien 'n aanwysingsbordjie. Een pyltjie wys op - 9 km. Die ander een wys regs - 3 km. Raai watter een het ons gevat. Ek is seker die ander 6 km van die volle 12km roete was pragtig, maar ek sal dit Google. Winners know when to stop.

Ek is trots op ons 6km en dit was rerig pragtig. So saam het ek en my man besluit ons doen 3km in en 3km uit. Dankie tog. Ek was baie benoud dat hy vir my sou sê hy wil die hele kring loop. Op daai oomblik sou dit vir my 'n bose kringloop geword het as ons enigsins verder moes gaan. Ek het nie vir Fiela, Benjamin, Bartha of Nina opgespoor nie. Maar ek is seker dit gaan nog goed met hulle.

Dit was my eerste staproete, maar nie my laaste nie. As iemand vir my lekker tekke met meer greep kan skenk, sal dit dalk verdere beserings vermy. Die klein Kring was asemrowend en Matthee het dit so mooi vasgevang in haar romans. Eendag sal ek die hele pad gaan stap, mits my man, my GPS en my nuwe tekke betrokke is. 

Thursday, 31 December 2020

2020

So hier sit ons aan die einde van nog 'n jaar. Nie eintlik nog 'n jaar nie. Want geen jaar was nog ooit soos hierdie een nie.

Alles wat kon verkeerd gaan, het verkeerd gegaan. Ek is met tye oorval deur 'n histeriese lagbui. Net oor ek nie geweet het wat anders om te doen nie.

Ek kan probeer om daai positiewe mens te wees en sê ons moet fokus op die goeie dinge. Heerlikheid mense, hoe op dees aarde...? Ja daar was goeie oomblikke. Ek het die beste dag van my lewe gehad saam met my man. Ons was omring deur maskers. Onder daai maskers was ons naaste vriende en familie. Niemand het verwag dat ons die jaar moes aanpak met sanitizer en maskers nie.

2020 was die eerste keer wat ek bly was vir 'n negatiewe uitslag op 'n toets. My hande was kurkdroog van sanitizer en ek het steeds vuil gevoel.

Die enigste plek waar ek veilig voel is in my huis sonder my masker. Wat ook nie sinmaak nie want streng gesproke is ons nêrens veilig nie. As Suid-Afrikaners is ons gewoont daaraan om bedreig te voel deur mense. Nie dinge wat ons nie kan sien nie. 

Almal het hulle doelwitte gehad vir die jaar (Pause for laughter). Ek wil uit my foute uit leer. My doelwit vir 2021 is om te oorleef. Net oorlewing in sy eenvoudigste vorm. Dis al. As 2021 onafhanklik funksioneer as 'n jaar wat net bestaan sal ek tevrede wees. Hoef nie goed of sleg te wees nie. Dit moet net nie 2020 wees nie. Dis eenvoudig. 

Sunday, 13 December 2020

Partykeer

Partykeer kan jy met gemak die lewe hanteer. "Fake it til you make it" right? Ander kere sal die kleinste ongemaklikhede jou tref en jy bars in trane uit.

Raai watter keer was vandag?

Ons was en route om die diere vir die dag te voer. Alles verloop goed by die eerste dierekinders. Almal is veilig, gesond en vrolik. Daarna besluit ons om vinnig Spar toe te gaan. Ons het soms die onnodige gewoonte om elke dag te gaan as ons nie met 'n lysie werk nie.

Terloops, hier kom die eerste hakplek;
My 2007 Volkswagen Beetle Convertible. Ek geniet my kar, rerig. Maar daar is hier en daar, foutjies.


Die sensors van die passasiersvenster werk partykeer. Dit beteken ek moet die venster 'n entjie oopmaak en wag dat wie ookal uitklim, dan toemaak, dan kan ek die kar afsluit en self uitklim. Dis eintlik nie so 'n pyn nie. Dis steeds 'n kar! Maar vandag was net nie die dag nie. Ek het elke keer vergeet daarvan en elke keer van voor af bemoerd geword as die deur daai dowwe "ek's nie mooi toe nie, drol" klank maak.


Arme Wernu bly net kalm en probeer om my ook kalm te hou. Na die hele toemaak proses van die kar, sit ek en my man ons maskers aan. Ek is eintlik al gewoond aan die masker. Ek hou nie daarvan nie, maar ek deal daarmee, want ek moet. En ek spaar lipstick, so woohoo. Maar vandag wou ek die masker afruk en met my ongemaskerde self inkopies gaan doen. Soos wat ons vroeg in Maart nog kon doen? Onthou julle dit? Goeie tye. By die kar aangekom is die helfte van my gesig klam van kondensasie en sweet, want Desember. Ek probeer die boot oopmaak en dit sukkel, en sukkel, en sukkel.

Ek was amper halfpad deur my repertoire gekruide taal, toe werk dit. In die kar pluk ek die masker af asof dit die eerste keer is wat ek asemhaal. Ek kyk langs my en sien Wernu staan ewe geduldig en wag dat ek die kar aansluit en die venster oopmaak sodat hy kan inklim. Nou sal seker 'n goeie geleentheid wees om te sê my aircon is gebreek. So ons ry met die vensters oop en praat net nie oor die feit dat ons van binne af gaarword nie. Weet julle wat is ironies? My "seatwarmers" werk nog 100%.....

Ons stop later by ons volgende dierebestemming. Alles lyk wel. Die honde is vrolik, selfs die een wat 'n blou verband om sy pootjie het. Ek stap na die skilpadjies toe en ek sien die net is geskuif en daar's 'n gat gegrawe en net die enetjie beweeg rond. In die jare wat ek al troeteldiere oppas het daar nog nooit een doodgegaan onder my toesig nie. My hart het gebreek. Ek het die eienaar gebel en laatweet. Ons het hom by die rose begrawe. 

Ek moes die pasïent se verband vervang. Terwyl ek op die kombuisvloer sit en versigtig sy poot oopmaak en skoonmaak, sien ek hy het seer. Dit was nie 2 sekondes nie toe huil ek.

Ek huil want die hond het seer en ek kan nie vir hom verduidelik hoe ek hom probeer help nie. Ek huil oor daar 'n seuntjie is wat nie meer sy skilpadjie het nie. Ek huil omdat ek heeltyd 'n masker moet dra. Ek huil omdat ek die afgelope 8 maande nie my private studente kon sien by hulle huise nie. Ek huil omdat hierdie my eerste Desember is sonder my eerste diereklïente. Ek huil omdat my Pa die 11de Desember sou verjaar. Ek huil omdat ek nie die voorreg het om sy opinie te hoor oor hierdie jaar nie. Ek huil want dis 2020.


Oor 18 dae is dit gelukkig verby. Ek gaan nie hierdie jaar Happy New Year sê nie. Duidelik het dit nie gewerk dit nie. So, kom ons hanteer dit soos 'n lekker "old-school" familie skandaal. Ons praat net nie daaroor nie. Maar, ek sou definitief aanbeveel dat julle 2020 op julle CV's sit onder "special skills" .

Saturday, 22 August 2020

It's not what it looks like

Ek weet nie of dit net ek is wat hierdie vreemdhede ervaar nie. Ek is oor die algemeen geneig om vreemde goed te doen, maar meeste van die tyd aanskou mens die situasies een op 'n slag. Vanoggend het ek dit sommer vinnig verander. Ons het gistraand ribs en chips geëet. Daar was te veel kos, so natuurlik het ons leftovers. Toe ek by die huis kom, sien ek die woefkardoes vol drome. Ek maak dit oop en eet 'n paar stukkies. Nie 'n maaltyd nie, eerder daai snacking wat mens doen terwyl jy aimlessly rondkyk in die kombuis.

Soos julle weet, eet ribs nie "mooi" nie. So ek het basies gelyk soos 'n kind aan die einde van 'n verjaarsdagpartytjie. Ons is besig met opknappings in en om die huis so daar is gereeld mense hier, besig om kwotasies vir goed te gee. Ek het natuurlik vergeet van vanoggend se kandidaat wat na die kaste kom kyk.

Verbeel jou, ek staan met taai hande, 'n blink gesiggie en 'n bakkie ribs voor my. Toe ek besef my ma is nie alleen nie was dit te laat. Ons kombuis het nie 'n geheime uitgang waar ek kon skuil nie. Boonop dit, sit my ma die ligte aan "om beter te sien, my kind."

Ek gryp die beentjies, slaan die bak toe en loop soos 'n slegte zombie met my arms horisontaal voor my uit. Ek gooi die bene weg en probeer my gesig wegsteek soos Phantom of the Opera. Die man was erg ordentlik. Shame...

Na ek my gesig gewas het, bel Wernu en vra dat ek die hek vir hom oopmaak. Hy het 40km gaan fiets ry, so hy is effens moeg. Terwyl ek hardop wonder wat die kasman dink stap ek uit en wag buite die hek vir hom. Ek het gedink hy sou binne 2 min hier wees. Toe nie. My ma en die kas man kom uit om samples in sy kar te kry. Great. Eers vreet ek soos 'n raccoon in die kombuis en nou lyk ek soos 'n dodgy karwag. Living the dream.

My ma het ewe grappig gesê ek is 'n vreemde kind maar ons was almal bewus van die feit dat sy effens bekommerd is oor my besluitnemingsvermoë vanmôre. Hulle gaan weer in en ek sit en wonder hoekom ek vandag is soos ek is. Daar begin ek giggel. 'n Familie stap verby en wonder sekerlik hoe lank ek in die son gesit het om so te wees.

Wernu stop met lam bene 'n bleek gesiggie. Hy storm in en maak spore stort toe en ek stap by die kombuis in om na die samples te kyk. Dit was nie 2 sekondes nie toe begin ek soos 'n stoute kind in die kerk giggel en ek probeer my bes om op te hou. Ek knyp my duime, krap aan my arm en ek lag net harder. My oë traan en ek kon nie eers vir my ma sê ek hou die meeste van die "Shale Oak" nie. Ek trippel af om vir die pupper oop te maak, dis naptime! Daar aangekom sien ek die verwer wat nog die hele tyd op die stoep besig is met sy werk. So hy het gesien hoe gesels ek met myself op pad hek toe... Verbeel ek my of gee hy my 'n simpatieke kyk. Ek retireer in my kamer in en lag in stilte dat my mascara begin wegloop.

Toe ek kalmeer sit ek regop. Ek was met goeie intensies op pad na my ma toe, maar sy het vraend omgekyk en gewonder wat met my aangaan. Toe val ek terug en begin van voor af lag. So hierdie kasman het gesien hoe ek soos 'n wilde dier eet, in die son sit voor my huis en nou hoor hy hoe ek histeries in my kamer lag. Ek wil net vir hom sê ek is rerig nie altyd so nie, maar dalk kry hy my jammer en gee vir ons afslag. 

Wednesday, 10 June 2020

Fotovrae

Ek wou nog altyd weet hoe 'n mens dit doen. Die mense op Instagram en Facebook. Van julle lyk of professionele fotograwe julle rondvolg. hoe is dit moontlik dat 'n mens so grasieus kan lyk terwyl jy jou kop laggend agteroor gooi met 'n glas wyn in jou hand? As ek so iets moes doen, sou ek soos 'n gapende seekoei lyk en ek sal geld op dit sit dat ek die wyn sou mors. As iemand 'n "candid" foto van my neem terwyl ek lag lyk ek soos 'n bedreigde spesie met een oog wat my tande wys om myself te beskerm teen roofdiere. 

Die mense wat mooi lyk terwyl julle eet, ek vertrou julle nie. Jy moes jou siel verkoop het om goed te lyk terwyl jy een of ander eetding in jou mond indruk. Die paar foto's wat ek van myself aanskou het waar ek besig is om te eet is niks om oor huis toe te skryf nie. Kom ons sê net, ek sou die walvis in Pinocchio 'n go gee.  

O, en nog 'n ding! Daar moet 'n reël wees teen foto's van agter af neem sonder die mens se kennis. Dit laat jou soos 'n 18 wheeler trok lyk wat probeer parallel park. NOT FLATTERING. Daar is dalk 'n positiewe uitkoms. As jy die onvleiende foto's van jouself op die yskas plak, dan bly die deur langer toe. Ek sal dit vir die troue oorweeg. Iemand gaan net moet help dat ek betyds 'n selfbeeld opbou in die proses. 
 
Vir die mense wat hulle diere afneem en vertoon, eerstens wil ek dankie sê. Diere is belangrik. Tweedens, neem julle ook 4000 foto's en dan kry jy 3 of 4 goeie foto's uit dit uit as jy gelukkig is? My diere blur en ek is seker daai mense wat glo mens kan 'n demoon afneem sal my honde as sulks identifiseer. 


Ek het vroeër die week gesien hoe mooi die maan lyk en ek besluit om dit af te neem, want as die maan lelik lyk hoef ek nie selfbewus te voel nie. Ek haal ewe onnosel my foon uit en probeer die foto geneem kry. Fone het daai verskillende opsies wat jy kan kies op jou kamera om nou 'n spesifieke toneel mooi af te neem. Wat 'n tragedie is "Night Mode" op my foon... 

Ek het 'n fotografiekursus gedoen so ek kan verduidelik dat die mode te veel lig inneem omdat die foto ongeveer 4 sekondes vat om geneem te word. So die resultaat was 'n baie onduidelike blurry bol met swart om dit. Jy weet as jy in 'n lig ingekyk het en dit word afgesit en jy "sien" nog die lig in jou oë? Dit is 'n akkurate beskrywing van my "Night Mode"

Die maan het so mooi gelyk en ek wou net 'n ordentlike foto neem en ek het geweet die enigste manier wat ek dit gaan regkry, is as ek dit reg doen. Ek het my pa se tripod gaan soek en die situasie opgeslaan. My kamera was gelukkig nog gelaai en ek het my grootste lens gevat. Die honde het natuurlik gedink ek is mal want ek skarrel heen en weer tussen die grasperk en die huis - en dis koud! Ek skroef die kamera styf vas want as ek dit hier laat val is dit verby. Ek het geleer dat onnodige uitgawes my onplesierig maak so ek het 4 of 5 keer seker gemaak die ding is behoorlik vas!


Ek draai al mikkend met die handvatseltjie rond om my "angle" te kry en dit lyk heel mooi en alles. Ek neem die foto en dis weer 'n blurry bol. Ek moes karring aan die settings en omtrent elke knop druk of draai vir my foto. Ek het met die kursus so 'n klein sleutelhouertjie gekry met wenke op vir die shutterspeed, die white balance, aperture en 'n klomp ander goed wat ek nie kan onthou nie. 




Toe ek lank genoeg gestel en geskel het was my rolle gevries, my rug seer en my honde ongeduldig. Die goed wat 'n mens bereid is om te vir 'n foto. 


Saturday, 2 May 2020

Huisskryf

Dit was 'n gesonde uitdaging om die huiskluisery deur te skryf. Ek het party dae maar gesukkel om iets interessants te skryf en ander dae was ek net nie lus nie.

Aanhouer wen. Ek het nooit te negatief geskryf nie, maar ek het soms so negatief gevoel. Dit was/is moeilik om so in die huis te sit. Ek mis die buitewêreld. 

Ek is hartseer oor die troudatum. Ek weet ons trou net 'n bietjie later, maar ek wou aftel tot by 30 Mei. Ek mag hartseer wees. My ma het so gesê en almal weet my ma is altyd reg. 

Ek mis my studente. Die aanlyn situasie is seker beter as niks maar dit voel meer meganies as produktief. Die lockdown het net een helse kommunikasiegaping veroorsaak. Almal is on edge.

Selfs my honde is geïrriteerd met ons. Ons het hulle vandag gebad. Rudi se shampoo moet vir 'n rukkie op bly. So die worshond moes vir 10 minute in die bad staan en koud kry sodat die shampoo beter kan werk of iets.

Hy het moord on sy een oog gehad, en trane in die ander een. Ek is seker hy laat die oog traan om simpatie te kry. Worshonde is sneaky! Jessie en Joe het langer hare so ons moes hulle langer droogblaas.

Jessie hou niks daarvan nie. Ek was nog besig om te blaas toe haar een been skuins trek en my tref. Sy het haar naels so diep in my been gebêre dat ek eerlikwaar bly is dat ek 'n paar ekstra lagies het. As ek dun bene gehad het sou sy sonder twyfel my maermerrie getref. Saved by the rolls.

Ek weet nie of ek elke dag sal skryf nie, maar ek sal beslis probeer. 

Friday, 1 May 2020

Huiskluis Herkou-nou-klaar.

19. Ek het 'n ernstige probleem ontwikkel met potte wat te lank in die wasbak staan
20. Te danke aan strategiese beplanning probeer ek om die duvetcover op te sit wanneer Wernu nie naby is om in te kruip nie. 
21.  Ons President het almal verslaan met sy challenge om nog langer by die huis te bly. 
22. Moenie sommer net iets drink wat jy nie ken nie. Vat 'n klein teugie, vir veiligheid.
23. Ek wil nie weer aan die dag dink nie. Daar was 'n man kaalvoet in die Meatworld, ek het nie eers oor hom geskryf nie. Ek hoop hy is ok. 
24. Ek kleur nog lekker in, maar ek het nie meer die geduld vir die Pintrest videos nie. 
25. As my ma besig is, moet jy vra of jy kan help, or else
26. As mens lank genoeg stilsit in my huis sal die skryfmateriaal na jou toe kom. Solank jy dit nie wil print nie. 
27. Ek is steeds skepties oor die circulation kontrapsie. 
28. My ma het gelukkig vanilla essence elders opgespoor. Haar yskasmagnete is egter nie geplak nie. Ons soek nog superglue. 
29. Partykeer moet jy moeilike besluite neem, maar jy weet dit is beter so. Ons tel van voor af die dae tot ons troue. 
30. Ek het gelukkig met die eerste rondte uit my foute geleer en nie uitgegaan om te kyk waar Wernu is nie. Ek het suksesvol die bougainvillea round 2 geskip. 
31. Ons kan potjiekos maak! 
32. Rudi drink nou 2 pilletjies 'n dag. Die een is in die vorm van 'n vissie. Die veearts sê so ewe hy sal dalk daarvan hou. Spoiler: Hy het nie en hy gaan nie. Ek het die een pilletjie vanaand in sy gorreltjie ingedruk en eersthands beleef hoe hy golwe met sy tong maak dat die vissie uitspoel. Hy dink dis snaaks... 
33. Die spasma leef nog voort. Ek strek en loop permanent met 'n warmsakkie op my skouer soos 'n borslap. 
34. Worshonde is duur om te onderhou. Die regering speel met vuur, sonder sigarette. 
35. This too shall pass. Die wêreld het onherroeplik verander en ons het geen idee gehad wat om te verwag toe ons eers gehoor het daarvan nie. Ek was in alle eerlikheid verbaas toe ek sien hoe ernstig meeste mense die situasie hanteer het. 

Ons is nou in level 4. Ek weet nie of ons met gemak tot by level 1 sal daal nie, maar ek kan net hoop. Vir nou sal ek ten minste hoop vir level 3 of 'n amptelike aankondiging wat mense weer toelaat om sigarette te koop. Dit is soos om vir 'n kind te belowe dat hulle 'n swietie mag kies wanneer julle inkopies doen en by die til die swietie terug te sit op die rak. Dis nie reg nie. 

Gee net vir hulle nikotien. Ek wil nie hê my vriende moet piesangskille of tee begin rook nie. Onthou net dat ons mense aangaan of hulle niks het om te verloor nie. Hulle maak al pynappelbier want die drankwinkels is toe. Hulle drink rou eier en chase dit met drank. Hulle sal IETS kry om te rook. Die besluite-maak bende, dink asseblief mooi hieroor. 

Thursday, 30 April 2020

Huiskluis Herkou

So 35 dae later. Wat het ek geleer?

1. Ek kan klas gee in my pajamas.
2. My ma is die enigste mens waarvoor ek versierings sal maak wat met vislyn gehang moet word.
3. Ek het op Dag 3 nog gedink ek trou in Mei😂
4. Ek het sommer vinnig besef dat uiteet nie die sondebok is nie. Die toeganklikheid van my kombuis is.
5. My ma het 'n slag lasagne gemaak. My broer het weekliks gebraai en selfs potjiekos gemaak. So hierdie les is belangrik... hulle KAN kosmaak. Duly noted.
6. Ek het gedink die excessive sanitizer by Spar is erg. Min het ek geweet dat die werknemers  storm trooper gear gaan dra met maskers en handskoene. Mens besef nie hoe baie jy op lippe lees staatmaak tot jy 3 keer na mekaar nie hoor wat sy sê nie en ja antwoord en hoop sy vra maar net of jy sakkies wil hê. Ek is steeds onseker oor die hangende perspex bo die til... Wie praat in daai rigting? As ek teen die bordjie moes praat sou ek my kop agteroor moes gooi soos 'n Hadeda.
7. Al was ons almal stuck in die huis, het elkeen sy eie ding gedoen sonder om mekaar te irriteer en sonder om moord te pleeg met die mes wat Wernu geslyp het.
8. Ek het die datum, dag en tyd baie vinnig weer gevind toe ek weer moes juffrou
9. Moenie jou foon antwoord as jy winkel toe gaan of op pad huistoe is nie. Dis 'n lokval!
10. 'n Bonus van lockdown en die delivery only reël wat van môre af geld, is dat jy nie hoef te worry as jy bietjie wild eet aan hoender en ribbetjies nie. Emsie Schoeman sou minder beïndruk wees.
11. Dit lyk of ons gesin al lankal begin het om drank op te gaar vir lockdown.
12. Die dreigement het gewerk. Die kas is nog netjies.
13. Ek is so bly ek het my voorskrif gaan haal. O, en julle mense wat so begin bak het, is dit nog lekker?
14. Ek was daai dag onseker oor of ek nog skryfmateriaal sou hê
15. Ek het die walglikste nagmerrie gehad. O, en geel is definetief nie my kleur nie. Hierdie was waarskynlik die eerste teken dat die troue gaan skuif.
16. Ek is beslis nie 'n konvensionele onderwyser nie.
17. Ek weet waar die kazoo en die Chinese gong geraas vandaan kom. Dis die mense skuins agter ons wat elke aand klink of hulle lekker partytjie hou. Ek vertrou hulle nie. Wie is elke dag so vrolik??? En wat raas so? Is dit 'n kind se videogame? Ek is bereid om die game by hulle te koop dat ek hom kan brand.
18. Die eierdrinkery videos het my geleer dat Suid-Afrikaners enigiets sal doen. Begin net jou sin met "ek challenge jou..."

Fluit, fluit die res van my lesse kom môre uit. 

Wednesday, 29 April 2020

Huiskluis Dag 34

My verloofde het vandag vir die eerste keer in 34 dae uit die erf uit gegaan op 'n veearts avontuur saam met my. 

Ek sou alleen gery het, maar my ma het 'n oortuigende argument gestel waarmee ek nie kon stry nie. As ek, met my nekspasma, alleen met die woelige worshond ry gaan ek sukkel.

Rudi sal dalk my blindspots blok soos wat hy bo oor my klim om die wêreld te bekyk soos 'n Europeër op 'n wildrit. Ek sal dalk om 'n draai gaan en die worsie sal sy naels in my bobeen probeer haak vir
'n beter greep dat hy nie homself diskant 'n rugwerweltjie val nie. 

Wernu kan darem nog bestuur, my nekkie het een of 2 keer om 'n draai gekreun. Maar darem was die worshond veilig. 

Ons moes veearts toe, want Rudi het besluit ons moet weer kyk hoeveel hy ons sal kos. Dis soos 'n kompetisie vir hom. Die veearts het 'n takeaway sisteem aan die gang. Jy stop, doen papierwerk en wag. Rudi het die nuwe ervaring geniet. Hy het op my skouer gesit soos 'n papegaai en op die dashboard geloop soos 'n daschund model.

Hulle het hom kom haal, teruggekom en verduidelik wat die keer aangaan, die worshond en die rekening gebring. Dis amper so lank soos die hond, maar mens doen dit vir jou diere.

Afgesien van sy vel wat jeuk en sy heup wat pyn is hy heeltemaal gesond. Hartklop van 'n jong hondjie sê hulle! Dit wou voorkom of hy vir my smirk en op sy manier wys hy sal 'n African Grey waarskynlik oorleef.



Tuesday, 28 April 2020

Huiskluis Dag 33

Dit maak dat jy dinge vreemd doen. Jy is dalk emosioneel delikaat. Jy voel dalk spyt oor aksies waaroor jy nie heeltemaal bewus was nie. Jy probeer onthou wat die vorige aand gebeur het.

Die gebeure van die afgelope 24 uur word herroep in 'n desperate poging om te verstaan. Is dit omdat jy 'n slegte mens is? Verdien jy hierdie lyding? Dit moet Karma wees. Jy het vreeslik aangejaag en hierdie is payback. Niks gebeur soos dit moet nie en al die eenvoudige dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar is nou massiewe uitdagings.

Almal van ons het al iewers 'n spasma gehad. In jou skouer, jou rug, jou nek, jou been en selfs jou boud as jy so ongelukkig is. Die een waarmee ek nou sit hou die klein toutrek kampioeneskappe in my nek  en my spiere is die tou. Nou lyk ek soos 'n stuck up kerk orrelis omdat ek so kiertsregop sit en ek kan natuurlik ook nie my nek draai nie.

So my hele lyf karring maar saam as ek enige draaibeweging aanpak. Ek het 'n boek laat val en dit moes sekerlik gelyk het of ek probeer het om 'n interpratiewe dans te doen toe ek soos 'n T-aansluiting gebuig was en in snaakse kreunaksies probeer het om regop te kom sonder om die spasma kwaad te maak.

Ek is nie 'n dokter nie, maar ek glo nie die koue help nie. Ek het daai sirkulasie masjientjie opgehad en ek dink ek is te bang om hom lank genoeg aan te hê want die vorige ervaring het my binnegoed so geskok dat ek amper my laptop moes groet. Ek dink dit gaan 'n rukkie wees voor ek weer vertroue in daai masjientjie sal hê. Vir nou sal 'n mikrogolfbare boontjiesak my enigste vertroueling wees. 

Monday, 27 April 2020

Huiskluis Dag 32

Ek hou meer van honde as mense. Hulle kan jou nie teleurstel nie, hulle is altyd bly om jou te sien en jy hoef nie eers 'n bra aan te trek as jy met hulle wil bond nie.

My hond, Rudi, is al deur baie. Hy daag die idee van katte en hulle 9 lewens uit. Hy was raakgery, toe breek hy sy boud, hy was in 'n argument betrokke met die bure se pitbull, hy het ratex geëet, toe kry hy die bynaam: Rudi Ratex. Hy het uit die erf uit gekom en ons oral laat soek.

Na ek die veearts gebel het, sê hulle daar is 'n worshond. Daar aangekom sit die klein strooi in 'n hokkie met 'n nametag. "Gunther" lees ek. Wie is Gunther?? Hierdie is Rudi? Dit was 'n verwarrende ervaring.

Sy nuuste issue is 'n velirritasie. Hy moet 'n pilletjie drink. Hierdie is moeiliker as 'n dieet oor Desember. Ek moet myself geestelik voorberei vir die worshond se skelmstreke. Rudi het die afgelope 9 jaar geleer hoe om pille uit sy bekkie uit te wriemel met 'n wilde tongaksie.

Ek weet nou 'n mens moet hom vaspen met 'n goeie houvas op sy lyfie. Dan moet jy sy kakebeen in die een hand hê met die pil in die ander. Maak dan reg om met een vloeiende beweging die pil in sy gorreltjie af te druk. So diep dat jy die worshond se larrinks kielie en bevestig dat jy 7 soorte hondespoeg op jou hand het.

Dan moet jy hom soos 'n agterdogtige winkeleienaar dophou om seker te maak hy spoeg dit nie uit nie.

Ek wens ek kon met hom praat en verduidelik dat ek in alle eerlikheid nie my hand in sy vrot bekkie wil druk nie. Ek probeer net help. Ek sou ook vir hom sê dat die ervaring traumaties is omdat hy nie soos ons ander honde eet wat in die bak is nie.

Tot môre sluwe worshond. 

Sunday, 26 April 2020

Huiskluis Dag 31

Ons het weer 'n dag vol nuwe verskynsels ervaar. Gelukkig was daar nie enige beserings of bougainvillea bosse betrokke nie.

My broer het aangekondig dat hy wil probeer potjiekos maak. Na my ma geraadpleeg is, het hulle sommer besluit om 'n lams potjie te maak. Erg ambisieus as dit by potjiekos kom. Ons het in die orkesdae altyd hoender potjie gemaak en ek dink dit was omdat jy nie sommer 'n hoenderpot sal kan opfoeter nie. Alhoewel sommiges dit goed reggekry het.

Paul berei die potjie seker 2 dae voor. Hy was nogal lanklaas benut en ons almal het saamgestem dat lood of voedselvergiftiging nie die ideaal is nie. Ek sou nie omgegee het as hy gewaarsku het voor hy die pot skoongebrand het met die olie nie. Een oomblik was dit donker, toe flikker my gordyne. 

Die huisvrou wat ek is, staan op en trek die een hoekie om ondersoek in te stel. Daar staan my broer en staar in die vlamme in wat uit die potjie ontsnap. Hy het gelyk soos 'n gesoute towenaar wat toesig hou oor sy nuutste brousel. Van naby het dit nog meer intimiderend want die hitte het my laat dink aan hoe my vel voel as ek nie 28 keer sonroom aansmeer wanneer ek buite is nie. 

Op 'n plaas hoor jy dalk vroegoggend 'n haan kraai. Hier by ons was dit staal wat op staal skraap en die potjiegode oproep. Die kole is met intense aandag voorberei terwyl my ma alles opgechop het.

Hulle het die resep tot op die laaste letter gevolg. Die groente was gepoke tot hulle tevrede was en die aartappel was perfek sag. Die skaapvleis was net reg, sommer so van die been af geval! Daaroor was ek baie bly, want ek sal mense aanrand vir skaapvleis. No shame.

Daar was baie stiltes betrokke, ons was almal besig om weg te raak in ons borde. My ma het ook vandag 'n koek in die mikrogolf gebak. Ek is nie seker hoe nie, maar sy het! Ons almal herstel nog van die potjie, so ek sal môre verslag lewer oor die microcake! 

Saturday, 25 April 2020

Huiskluis Dag 30

Almal het 'n lysie goed wat hulle nooit wil down nie. Amper soos 'n no-bucket list. Ek wil nie sê dis 'n saak van beginsel nie, maar...

Ek voel my lys frustrasie-hasies (pet peeves) is billik. 'n Belangriker enetjie gaan oor tuinmaak. Die groen vingers snoei, kultiveer en pronk. Hulle is soos slangbekoorders van plante.

Ek wil nie, ek hou nie daarvan nie, dis nie lekker nie en ek hoef nie. Ek moet niks. So het ek gedink. Ek dink dit was eerder 'n refleksaksie as 'n bewuste besluit. My eerste fout was om buitentoe te gaan.

Ek het Wernu vir 'n rukkie nie gesien nie, so ek wou kyk waar hy is. Dit het gelyk soos 'n toneel uit die ou Jumanji uit. Hy kap en saag verwoed en dit lyk of die bos net groter word. Die enigste rede hoekom ek gaan help het is omdat ek bang is hy val van die leer af. Boonop die feit dat die grond ongelyk is het hy die leer op so 'n helling neergesit dat dit wieg soos 'n restaurant tafel.

As hy val gaan dit pandemonium wees. Niemand van ons is lus daarvoor nie. Hierdie plant staak elke 3de jaar as die tuinier en Wernu dit onder beheer hou. Op die stadium is ons tuinier vry. Die Bougainvillea is rogue en hy gaan slagoffers vat.

Die dorings flous jou want hulle word deur die blare verdoesel. As daai doring jou eers vang is dit asof hy blom soos 'n gryp haak (daai goed wat spioene in die movies gebruik om by geboue op te klim). Soos 'n gang member, is hy daar om bloed te vat. In minder ernstige gevalle los hy krapmerke wat soos 'n papercut brand.

Net toe dit begin lyk of die einde in sig is, wys Wernu na die ander Jumanji-vlak monster en sê dit moet ook gesnoei word. Ek het gehoop 'n tak skiet los en sny my dat ek die wedstryd kan verlaat met 'n besering.

Wonder bo wonder staan hy op 'n stadium terug en kyk die storie so en sê hy is nogal moeg. DANKIE TOG. Ek was natuurlik net bekommerd oor die duiwelsdoringstakke wat in die paadjie lê waar my honde hardloop. Toe hark ek uit my eie uit. Ons het so 'n cool hark wat van staal gemaak is so ek kon die gekapte tentakels hak en die hele spul wegsleep.

Ek het natuurlik 'n paar dorings aan my bene voorgestel. Dit was 'n onaangename vloeksame kennismaking. 

Toe ek vanoggend wakkerword het ek nie geweet dat ek teen vanaand 'n gunsteling hark sou hê nie. Of all the things I've experienced during this lockdown, this takes the rake.

Friday, 24 April 2020

Huiskluis Dag 29

Wat die bruidsgids nie sê nie.

Dis 'n feestelike geleentheid. Romantiese atmosfeer, dalk 'n paar tekens wat jy misgekyk het. Julle is alleen of al julle naastes is daar. Die vraag word gevra, hopenlik is die antwoord ja en daarna is dit tyd om die pronk met jou ring, almal te bel wat jy ken en vrolik te wees.

Ek was een van daai toekomstige bruide wat die bruidsgids gekoop het. Dit het gevoel na die regte besluit. Daar is allerhande wenke vir trou beplanning en al die goed waaraan 'n mens nie dink nie. Jy sal ook kontakbesonderhede van elke moontlike verskaffer kry. Van blomme tot stoele. Wat ookal jy wil koop of huur is beskikbaar in die boek.

Sê hulle of dit die bekostigbare opsies is? Nee, mens moenie lieg nie. Vir so 'n dik boek is daar egter baie wat die gids nie vir jou sê nie. Dit moenie "sal jy met my trou?" wees nie. Eerder "wil jy saam met my 'n duur party hou?"

Hulle sê nie hoe onmenslik duur videograwe is nie. Ek moes dit seker self uitwerk, maar dit was so lekker om salig onbewus te wees van die dinge.

Die troues wat so mooi versier is lyk fantasties. Niemand kan in woorde beskryf hoe baie werk dit is nie. My ma en my peetma het hulle hande seer gewerk aan die versierings vir my groot dag en hulle het nooit eere gekla nie! (nie by my nie anyway).

Oor die blomme wil ek nie eers praat nie. Gelukkig is ek nie 'n blommerige mens nie. Dit maak nie sin om so baie te betaal vir goed wat gaan vrek nie. Om dit self te doen is nie onmoontlik nie, maar as ons net 'n oomblik kan vat om te oorweeg hoeveel makliker dit is om een taak van die lys af te haal.

In terme van uitrustings is almal en hulle tannies bereid om leer strikdasse, kruisbande, borsspelde en skoene te verkoop. Dis net jammer dat ek dit glad nie wil hê nie. Ek sal ook nie in tekkies, stewels of bont skoene trou nie. My skoene is reg om gedra te word. Ek het hulle in lockdown gedra en ek dink ek het die perfekte skoene. Hulle is mooi EN gemaklik.

Die bruidsgids gee ook oulike wenke vir die fancy uitnodigings en die keepsake geskenkies. Sleutelringe met die datum, wyn met die datum, eintlik amper enigiets met die datum op. Ek sien ook 'n mens kan uitnodigings laat maak teen R120 elk en dis nie eers die duurste een nie.

As ek dink aan die deurmekaarspul wat die virus afgegee het, is ek bitter dankbaar ons uitnodigings is elektronies. Ons het tevergeefs gehoop dat dinge uitwerk en vandag finaal besluit dit sal veiliger wees om in Oktober te trou.

Ek sal beslis 'n troue wil hê om te onthou, maar nie met rooi en blou ligte wat die samekoms van 50+ mense kom opbreek nie. Dis nou nie ons styl nie. So nou is die troue oor 'n bietjie meer as 5 maande en dit is nie hoe ons dit beplan het nie. " 'n Mens het jou hele lewe lank om getroud te wees" het tannie Charmayne, my ontwerper, gesê.

Gelukkig is tyd al wat ons het. Afgesien van al die keuses en admin is een ding darem eenvoudig. Om lief te wees vir Wernu Schutte. 

Thursday, 23 April 2020

Huiskluis Dag 28

Ek was by Spar. In die ou dae, toe ons nog buite kon wees vir iets anders as kos, sanitizer of toiletpapier, was dinge anders.

Die rakke was anders. As ek kruie en speserye wou hê, kon ek net by die rytjie afstap en dit kry. Robertson Spices was nog altyd daar vir my. Nou is hulle daar vir almal. Vandat mense so baie tyd by die huis spandeer, het hulle besluit nou is die tyd. Nou moet hulle gekompliseerde resepte wat 4 jaar terug op Facebook gedeel is, toets.

Daar is kinders wat sekerlik vir die eerste keer kruie en speserye in hulle kos het. Van hulle is dalk verstom om te sien dat hulle ouers meer as 5 disse kan kook. Dit is al wat sal verduidelik hoekom my Robertsonrak leeg is en moenie dat ek begin teem oor die Knorr Chicken Noodle sop nie. Dit is so skaars soos drank (vir mense wat nie in my huis bly nie. Sorry né). Ek voel benadeel.

Ons weet nou al die mamma's is besig om alles te bak, want daai rakke is ook omtrent so leeg soos 'n restaurant. Ek was laasweek opsoek na vanilla essence. Niks. Daar was amandel, suurlemoen, pynappel en lemoen. Hierdie week is net die lemoen oor. Dit beteken daar is mense wat goed bak wat proe soos kunsmatige pynappel. Nie so erg soos eiers sluk nie, maar hoekom voel dit soos 'n kompetisie?

Ek moes ook swartsakke en superglue kry, want sedert my ma afgetree het, pak sy stuk-stuk alles reg en maak skoon. Al die goedkoop swartsakke is uitverkoop. Daar is net van daai duur sakke met die drawstrings oor en ek vat maar 'n pakkie. Wie nog is besig om reg te pak? Wil julle 'n ondersteuningsgroep stig?

Vir haar kombuis om volmaak te wees moet sy die yskasmagnete plak wat die inwoners van die huishouding so afslinger, afloop en afstamp. Ek kom by die "general merchandise" ry en ek bekyk die rakke so. I kid you not, nie een superglue nie. Plak al die ander mense ook hulle magnete?

Ek was by Spar en ek wens die ander mense met hulle geurige kos, vanilla cupcakes, cheap swartsakke en flippen geplakte magnete was nie daar nie. 

Wednesday, 22 April 2020

Huiskluis Dag 27

Eerder laat as nooit! Ek het elke intensie gehad om te skryf, maar ek was deur 'n migraine in hegtenis geneem. 

My ma het so 'n circulation masjientjie wat veronderstel is om nou jou spiere te relax as jy in pyn is. So dink ek dit sal 'n goeie plan wees om die situasie op my lae rug te probeer tem.

Ek sit die belt om my logge lyf. Picture this: Ek sit in die bed met oorfone na my laptop toe, besig om te werk aan my voorbereiding en die masjien se drade en die remote is ook betrokke.

Ek sit alles aan en wag vir die tingling om te begin. Niks. Ek stel alles hoër, dalk is dit omdat my maag goed beskerm is met slegte kossoorte. Ek vat 'n sluk tee voor ek verdere ondersoek wil instel.

Dit is hier waar dinge begin skeefloop. Die 2de kontakpunt was nie lekker vas nie en die ding werk net as altwee vas is. Ek voel-voel soos ek die tee neersit. Die een punt click in en alle hel breek los.

Ek het nie die remote laer gestel nie en daaroor is ek baie jammer. Dit voel of 'n okkulte perdebye my laerug aanval met gloeiende steekplekke wat teen 'n ongenadige spoed stroombane vol pyn deur my lyf skiet.

Ek sluk-verstik my tee en probeer die remote laer stel. Dit werk nie vinnig genoeg nie en ek verwyder alles wat my in daai oomblik kon bedreig. Selfs my oorfone is elders geslinger. Die belt lê op die vloer en ek voel aan my rug if daar  brandwonde is. Ek vryf en dink aan André P. Brink se woorde, my binnegoed is soos 'n hond wat nie weet of hy gestreel of gebliksem gaan word nie.

Ek sit die remote af en gee die belt vir my ma terug. I don't need that kind of negativity in my life. Ek het gedink ek is 'n sterk mens, maar my selfvertroue het so bietjie gesteier.

Terwyl ek myself bejammer het na die hele gebeurtenis, lees ek van die lyrid meteor shower. Dit is blykbaar 22 April baie sigbaar tussen 2 en 4 die oggend. Ek is nog wakker en ek besluit om die koue aan te durf en te gaan lyk.

So staan ek met 'n star gazing app kop omhoog om te kyk watter sterre sit waar. Die honde dwarrel om my en wonder seker wat met my fout is dat ek so laat buite is. So baie, my kinders...

Ek verkyk my nog so en dit word onderbreek deur 'n "ssssssss..... Sss" klank. Ons bly oorkant 'n veld so ek het dadelik aangeneem daar is 'n slang in die tuin. Ek trippel weg en probeer met my foon se lig skyn om te sien.

Die honde skarrel weg en die een grom. Ek is verlig en verleë. Dis nie 'n slang in die tuin nie. Dis die tuinslang. Die "sssss" is lug wat uit die gaatjie ontsnap wat my hond gehap het....

'n Belt het my baasgeraak en my honde het my geflous. Not my finest hours....