Ok so dis die 25ste dag van hierdie pret, waar is my pay?
Ek het geweet my ma was van plan om die boonste yskas te ontdooi en skoon te maak. Gewoonlik is dit 'n redelike rustige proses want my ma werk soos 'n masjien en Wernu help haar.
Min het ek geweet die yskas ontdooi sou lei tot regpak. Jy kan geestelik voorberei soos jy wil maar niemand is ooit reg as my ma begin om reg te pak nie. Bravo een, bravo een. Kom in!
Die vrou tekkel haar pienk kombuis soos 'n ma op maneuvers. Sy begin op 'n punt en skrop, skuur, pak reg, gooi weg. As ek te lank stil staan begin ek verbouereerd en 'n titseltjie benoud raak dat sy my sal wegpak, veral omdat ek pienk aangehad het.
Dit is rerig iets om te aanskou. Ek was klaar gewerk so ek het maar in die kombuis gesit as morele ondersteuning want ek was nie seker wat anders om te doen nie. Ek weet net daar was al prominente gevalle wat ek op my bed gelê het en ontnugter was deur kaste wat toegeklap word en panne wat klink of hulle stoei.
As jy dan uitkom kan jy seker wees dat my ma daai uitdrukking op haar gesig het. Sy weet nie sy doen dit nie, maar haar oë word klein en haar onderlip lyk gebotox van bemoerdheid. Dan as mens iets vra of sê, kry jy 'n kyk of sy asem so diep in en jy weet sy maak nou reg om jou uit te haal.
Die arme vrou se rug is al seer van al die skarrel, maar sy hou net nie op nie. Sy maak die toaster skoon. Soos in SKOON. Sy het iets genoem van die skroefie onder wat sy moet afhaal. Ek loop kas toe om een te kry toe skrop sy al. Ek weet nie eers waar die skroewedraaier vandaan gekom het nie. Sy skroef daai onderste plaatjie af, skuur alles weer mooi blink asof dit die normaalste ding in die wêreld is. Ek probeer nog agterkom hoe dit kon gebeur het in die 5 sekondes wat ek kas toe gekoop het. Sy is 'n Ninja. 'n NANJA.
Vir elke pienk houer wat sy terugsit, sleep sy nog een uit. Dan gooi sy alles in seepwater en was elke ding. Mens sou sweer daar is 'n gesondheids inspekteur op pad.
Ek vra hoekom hou sy so aan as sy in pyn is. Toe sê sy net skoonmaak is vir haar terapeuties. So bak julle brode, was die kaste en skrop maar in die tuin rond. Doen net wat julle moet om hierdeur te kom. Hopenlik word hierdie terapeutiese aksie nie traumaties, soos die Desembers wat sy elke dag 'n ander deel van die huis geskrop en geskel het nie...
No comments:
Post a Comment