My slice of life

My slice of life
Opinionated since 1995

Friday, 24 April 2020

Huiskluis Dag 29

Wat die bruidsgids nie sê nie.

Dis 'n feestelike geleentheid. Romantiese atmosfeer, dalk 'n paar tekens wat jy misgekyk het. Julle is alleen of al julle naastes is daar. Die vraag word gevra, hopenlik is die antwoord ja en daarna is dit tyd om die pronk met jou ring, almal te bel wat jy ken en vrolik te wees.

Ek was een van daai toekomstige bruide wat die bruidsgids gekoop het. Dit het gevoel na die regte besluit. Daar is allerhande wenke vir trou beplanning en al die goed waaraan 'n mens nie dink nie. Jy sal ook kontakbesonderhede van elke moontlike verskaffer kry. Van blomme tot stoele. Wat ookal jy wil koop of huur is beskikbaar in die boek.

Sê hulle of dit die bekostigbare opsies is? Nee, mens moenie lieg nie. Vir so 'n dik boek is daar egter baie wat die gids nie vir jou sê nie. Dit moenie "sal jy met my trou?" wees nie. Eerder "wil jy saam met my 'n duur party hou?"

Hulle sê nie hoe onmenslik duur videograwe is nie. Ek moes dit seker self uitwerk, maar dit was so lekker om salig onbewus te wees van die dinge.

Die troues wat so mooi versier is lyk fantasties. Niemand kan in woorde beskryf hoe baie werk dit is nie. My ma en my peetma het hulle hande seer gewerk aan die versierings vir my groot dag en hulle het nooit eere gekla nie! (nie by my nie anyway).

Oor die blomme wil ek nie eers praat nie. Gelukkig is ek nie 'n blommerige mens nie. Dit maak nie sin om so baie te betaal vir goed wat gaan vrek nie. Om dit self te doen is nie onmoontlik nie, maar as ons net 'n oomblik kan vat om te oorweeg hoeveel makliker dit is om een taak van die lys af te haal.

In terme van uitrustings is almal en hulle tannies bereid om leer strikdasse, kruisbande, borsspelde en skoene te verkoop. Dis net jammer dat ek dit glad nie wil hê nie. Ek sal ook nie in tekkies, stewels of bont skoene trou nie. My skoene is reg om gedra te word. Ek het hulle in lockdown gedra en ek dink ek het die perfekte skoene. Hulle is mooi EN gemaklik.

Die bruidsgids gee ook oulike wenke vir die fancy uitnodigings en die keepsake geskenkies. Sleutelringe met die datum, wyn met die datum, eintlik amper enigiets met die datum op. Ek sien ook 'n mens kan uitnodigings laat maak teen R120 elk en dis nie eers die duurste een nie.

As ek dink aan die deurmekaarspul wat die virus afgegee het, is ek bitter dankbaar ons uitnodigings is elektronies. Ons het tevergeefs gehoop dat dinge uitwerk en vandag finaal besluit dit sal veiliger wees om in Oktober te trou.

Ek sal beslis 'n troue wil hê om te onthou, maar nie met rooi en blou ligte wat die samekoms van 50+ mense kom opbreek nie. Dis nou nie ons styl nie. So nou is die troue oor 'n bietjie meer as 5 maande en dit is nie hoe ons dit beplan het nie. " 'n Mens het jou hele lewe lank om getroud te wees" het tannie Charmayne, my ontwerper, gesê.

Gelukkig is tyd al wat ons het. Afgesien van al die keuses en admin is een ding darem eenvoudig. Om lief te wees vir Wernu Schutte. 

2 comments:

  1. Ah...julle gaan n pragtige dag he. Julle is klaar so mooi paartjie

    ReplyDelete
  2. Pragtig en sinvolle besluit.

    ReplyDelete